Lelike eendjie word mooi én prakties

(Foto: Verskaf)

Die huidige Hyundai Creta is glad nie vir my mooi nie. Daar is nie ʼn spesifieke rede nie, maar ek kry net nie vatplek aan die ontwerp nie. Die enjin, ratkas en binneruim is wel heel in die kol.

Hyundai se splinternuwe Grand Creta het egter gou my oog gevang. Vat die oorspronklike Creta, gee vir hom ʼn mooier sierrooster en meer sportnutsagtige daklyn, en siedaar – ʼn mooier Creta, met sewe sitplekke.

Die Grand Creta is in Indië gebore en aanvanklik die Alcazar gedoop. Ek is aangenaam verras deur die Grand Creta. Drie rye sitplekke, met lugreëling in al drie rye, sonskerms op die tweede ry se kantvensters en oulike tafeltjies wat in die rugleunings van die voorste sitplekke toevou. Daar is ʼn bekerhouertjie wat uit die tafel vou en ʼn slim gleuf waarin ʼn iPad mooi kan regop staan. Die ergonomie van die binneruim is ook slim ontwerp vir ʼn groot gesin.

Voor in die kajuit is die sitplekke lekker gemaklik, daar is ʼn 8”‑raakskerm wat Android Auto en Apple CarPlay bied, digitale instrumente, klimaatbeheer en spoedkontrole. Die motor spog selfs met verkoelde sitplekke voor en ʼn panoramiese sondak bó.

Onder die kap het jy die opsie van twee enjins. Eerstens kry jy die 2.0‑viersilinderpetrol wat 117 kW en 191 Nm bied. Die enjin is beskikbaar met óf ʼn handrat óf ʼn outomatiese ratkas. Dan het jy ook die keuse van ʼn 1.5‑viersilinderturbodiesel wat 84 kW en 250 Nm bied. Dié enjin is slegs met ʼn outomatiese ratkas beskikbaar. Die wydte van die diesel se kragkurwe maak hom ʼn lekker tjor om mee te ry.

Op die pad is die vering soepel genoeg vir ʼn gemaklik rit, maar sterk genoeg om sewe passasiers te kan dra. Padhouvermoë is heel goed, soos ʼn mens van enige moderne voertuig kan verwag. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en wegtrekhulp.

Dit is maklik om die Grand Creta op te som. Dit is ʼn sewesitplek‑buks wat tussen die B‑segment‑ en C‑segment‑sportnutsvoertuie kompeteer. Ja, die pryse is effens kwaai, maar as jy sien wat die groter Creta bied, dan is dit beslis die geld werd.

Die reeks lyk só:

Hyundai Grand Creta 2.0 Executive handrat117 kW/191 Nm8,5 l/100 kmR449 900
Hyundai Grand Creta 2.0 Executive outo117 kW/191 Nm8,9 l/100 kmR489 900
Hyundai Grand Creta 1.5D Executive outo85 kW/250 Nm6,5 l/100 kmR509 900
Hyundai Grand Creta 2.0 Elite outo117 kW/191 Nm8,9 l/100 kmR539 900
Hyundai Grand Creta 1.5D Elite outo85 kW/250 Nm6,5 l/100 kmR559 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg sowel as ʼn 4 jaar/‑60 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Grand Creta deurbring, sien hoe hy hom op ʼn daaglikse basis gedra en hom dan teen sy mededingers opweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.