Lexus se gewildste model – vanselfsprekend

Wanneer jy aan ʼn lieflike, luukse sedanmotor dink, wandel jou gedagtes altyd direk Duitsland toe. Dit is ʼn vreeslike jammerte. Já, die Duitsers maak al vir ʼn geruime tyd pragtige sedanmotors … ʼn mens kan stry dat hulle die segment uitgedink het met voertuie soos die 7-reeks en S-klas. Hoe dit ook al sy, dit is nie te sê dat daar nie ander rolspelers is nie. Dink byvoorbeeld aan Jaguar en moet ook nie van Lexus vergeet nie.

Dit is nie moeilik om te verstaan hoekom die ES Lexus se topverkoper is nie. Dit is ʼn pragtige, mediumgrootte luukse sedanmotor. Die ontwerp is beslis Japannees, maar mooi uit eie reg. Die hoekige lyne en aggressiewe stilering is indrukwekkend.

Dit is egter aan die binneruim waar die ES sy spiere begin bult. Die bougehalte is fantasties. Die materiale is uiters luuks en die been- en skouerruimte lieflik. Selfs agter is beenruimte lekker groot. Om nie te praat van die enorme kattebak nie. Al die luukshede wat ʼn mens van ʼn groot sedan verwag, is daar. Pragtige leerbekleedsel, klimaat- en spoedbeheer, ʼn sterk klankstelsel, verhitte sitplekke, outomatiese ligte en ruitveërs. Dit is egter die SE-weergawe wat my hartsnare roer. Hy spog met ʼn verstommende Mark Levinson-klankstelsel en ʼn enorme 12,3 duim-raakskerm. Die SE het verkoelde sitplekke, asook Lexus se aktiewe veiligheidstelsels soos baanbeheer, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing, ensovoorts.

Die ES word aangedryf deur ʼn keuse van twee dryfstelsels. Eerstens is daar die intreemodel, EX – sonder hibriede hulp. Slegs ʼn atmosferiese 2.5 l-viersilinderpetrolenjin met ʼn 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Dié kombinasie is goed vir 152 kW en 243 Nm. Let wel, 0–100 km/h neem 9,1 sekondes en hy kan 210 km/h voluit hardloop. Sy gemiddelde brandstofverbruiksyfer is 6,6 l/100 km, sê Lexus. Die ander beskikbare dryfstelsel is ʼn hibriede model in twee spesifikasievlakke: EX en die reeksleidende SE. Die hibriede model spog met dieselfde 2.5 l-viersilinderpetrolenjin, maar ʼn palwisseltransmissie en die hulp van elektriese motors. Dié dryfstelsel bied 160 kW en 243 +e Nm. Hy kan teen 4,6 l/100 km aan die brandstof teug, 100 km/h in 8,9 sekondes haal en sal 180 km/h voluit snol.

Dit is egter op die pad waar die ES jou sintuie begin streel. Die vering is lieflik soepel wat ʼn pragtige rit bied. Dit kom gelukkig nié met ondeunde bakrol as daar ʼn paar draaie of bergpasse oor jou pad kom nie. Die kajuit is heerlik stil en geïsoleer. Tydens die bekendstelling was daar ʼn stormwind wat in die Kaap gewaai het, maar binne die kajuit was dit hemels.

Dit is op die pad waar die hibriede 300h my hart steel. Hoe die elektriese motors die wringkrag opvul, sorg dat die Lexus moeiteloos toer in die dorp óf op die oop pad. Hoe die 300h beweeg sonder dat ʼn mens begin bekommerd raak oor brandstofverbruik, is verstommend.

Lexus se hibriede motors is puik. Jy hoef niks te doen nie. Hy hoef nie ingeprop te word nie, jy hoef nie meters dop te hou en knoppies te druk nie; ry net en soos jy rem, word krag herwin na die batterye, wat later weer ontplooi word om te help versnel. Dit werk fantasties.

Die Takumi-vakmanne by Lexus ken hul storie. ʼn Mens voel werklik gepamperlang in die kajuit van ʼn Lexus. Die ES bied puik waarde. Die meeste van die kleiner sedanmotors soos BMW se 3-reeks en Mercedes-Benz se C-klas kos dieselfde óf meer – vir ʼn kleiner voertuig en met minder spesifikasie.

Ons het maklik met die hibriede model 5,8 l/100 km gehandhaaf, al het ons harder gery. Terug lughawe toe vanaf Franschhoek het die ES 250 EX ʼn indrukwekkende 6,8 l/100 km gehaal. Dít is fantasties vir ʼn atmosferiese 2.5 l-enjin.

Ek sal die Lexus ES só opsom. Dit is ʼn mooi voertuig, maar sy binneruim is bitter spesiaal. Dit voel fantasties. Dit is nie ʼn renmotor nie en dis die hele punt. Dit is uiters luuks, en jy kan een bekom vir heelwat kleingeld vir jou miljoen. In dié klas is daar nie veel teen dié prys beskikbaar nie.

Die reeks lyk só:

Lexus ES 250 EX152 kW/243 Nm6,6 l/100 kmR719 400
Lexus ES 300h EX160 kW/243 +e Nm4,6 l/100 kmR774 400
Lexus ES 300h SE160 kW/243 +e Nm4,6 l/100 kmR948 400

Die reeks word gedek deur Lexus se omvattende 7-jaar/105 000 km-waarborg en instandhoudingsplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Ons sal weer tyd met die Lexus ES deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.