Lexus se intreemodel kry ʼn pragbaadjie

(Foto: Verskaf)

 

Dit voel vreemd om te praat van ʼn Lexus as ʼn intreemodel, maar selfs luukse voertuie het ʼn goedkoper weergawe. Lexus se UX is só ʼn model. Hoewel dit nie die goedkoopste in die hele Lexus-stal is nie, is dit die mees bekostigbare hibriede Lexus. Lexus beweeg deur ʼn oorgangsfase en binnekort sal elke Lexus ʼn hibriede model wees. Die UX-reeks is nóg ʼn stappie in dié reistog vir die handelsmerk.

Die UX is Lexus se kleinste sportnutsvoertuig. Hy is daar om met Mercedes-Benz se GLA, BMW se X1, Audi se Q3, Jaguar se E-Pace en Volvo se XC40 mee te ding. Lexus, as die enigste Japanner tussen die lot, bied bykomende gemoedsrus wanneer dit by betroubaarheid in die segment kom.

Voor dié model bekendgestel is, was die enigste tekort in die UX-reeks dalk ʼn sportiewe baadjie om by die res van die voertuig te pas. Dit is nou opgelos met die UX 250h F-Sport.

Die UX is ook nie net ʼn mooi rooi baadjie met uiters modieuse lyne nie. Onder die vel is daar gevorderde tegnologiese kenmerke, waaronder ʼn 2.0 l– atmosferiese viersilinderpetrolenjin wat 107 kW en 180 Nm lewer. Saam met die elektriese motor bied die algehele stelsel 135 kW en 180 +e Nm. Versnelling van 0–100 km/h neem net 8.5 sekondes en die UX loop 177 km/h voluit. Die 103 g/km CO2 is boonop uiters laag en die feit dat die UX-hibried by die 4.5 l/100 km kan handhaaf, is merkwaardig.

Op die pad voel die UX egter soos ʼn volvet Lexus. Pragtige leersitplekke, ʼn kajuit wat effens op die bestuurder fokus – en fisieke knoppies vir die meeste funksies is fantasties en ergonomies om te gebruik. Die F-Sport-model het ʼn fantastiese Mark Levinson-klankstelsel, een van die bestes in die bedryf. Die ritgehalte is sagter as wat mens verwag van die 18″-wiele en die padhouvermoë is in die kol.

(Foto: Verskaf)

Lexus spog deesdae met agt lugsakke, die gewone veiligheidstelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Dit is wel Lexus se gevorderde Safety Sense-stelsel wat aktiewe stelsels soos baanbeheer, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing en noodremhulp insluit, wat die Lexus tussen gesogte mededingers plaas.

Daar is drie modelle in die UX-reeks. Ek dink die ontwerp is puik, en die bougehalte ongeëwenaard. Indien jy in dié segment ʼn motor soek, loer gerus na ʼn UX.

Die reeks lyk só:

Lexus UX 250h EX135 kW/180 Nm4.5 l/100 kmR752 600
Lexus UX 250h SE135 kW/180 Nm4.5 l/100 kmR832 200
Lexus UX 250h F-Sport135 kW/180 Nm4.5 l/100 kmR883 500

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

BMW X1 sDrive20i M Sport141 kW/280 Nm6.5 l/100 km2 jaar/onbeperke km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R736 152
Audi A3 40TFSI quattro S line132 kW/320 Nm8.2 l/100 km1 jaar/onbeperke km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R739 500
Mercedes-Benz GLA200 AMG Line120 kW/250 Nm6 l/100 km1 jaar/onbeperke km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R801 796
Volvo XC40 T5 AWD Inscription185 kW/350 Nm7.7 l/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR820 322
Jaguar E-Pace P250 AWD R-Dynamic SE184 kW/365 Nm7.7 l/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 030 458

Tussen die mededingers is daar nie een beskikbaar met ʼn hibriede dryfstelsel behalwe die Lexus nie. Indien jy dié mark verken – loer gerus, dis ʼn pragtige voertuig.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.