Lexus se luuksste

Min mense weet presies waar die naam Lexus vandaan kom. Daar word geglo dit staan vir Luxury Export to the US. Die Amerikaanse voertuigmark is enorm en daar is in 2020 meer as 14 miljoen eenhede verkoop. Toyota het dit goed gedink om ʼn aandeel van daai mark te probeer opraap.

Die gevolg daarvan is Lexus, Infiniti en Acura. Infiniti is Nissan se luukse motors en Acura is Honda sʼn. Ek het in die laaste Lexus-artikel verwys na omotenashi (gasvryheid sonder voorgee – uit die diepte van jou hart). Die Lexus LC gee ʼn mens daardie gevoel – maar dié LS 500 weerspieël dit 100%. Met die eerste oogopslag is die LS 500 heel teruggetrokke. ʼn Mens kan tog sien dat dit ʼn pragtige, lang slap luukse buks is – maar hy gil en skree nie daaroor nie.

Wanneer ʼn mens die binneruim betree, die deur toemaak en dadelik in pragtige stilte toegevou word en in een van die luuksste sitplekke waarin ek al gesit het tot ruste kom, versprei die glimlag oor jou gesig.

Die materiale, bougehalte en die aandag wat aan die kleinste detail gegee is laat mens verstom. ʼn Mens sien die reuseskerm vir die inligtingstelsel, maar vergeet amper dadelik daarvan en kyk na die fantastiese stikwerk en lyne wat die Takumi-vakmanne hier ingebou het.

Ek het al een keer tevore dié enjin ervaar – in ʼn Lexus LS500. Dit is ʼn turboaangejaagde sessilinderpetrolenjin. Die Japannese is meesters van versneller- en kragleweringkalibrasie. Die enjin bied 310 kW en 600 Nm. Die 600 Nm is beskikbaar tussen 1 600 en 4 800 r/min. Dit is ʼn reusegolf wringkrag – maar hy bou lieflik saam die krag tot heel bó in die toerestrek en maak dán gebruik van die 10-spoed outo om die LS 500 met uiterse bekwaamheid na die horison toe te slinger. 0 – 100 km/h neem 5 sekondes, en die LS 500 is beperk tot 250 km/h.

Wat veiligheid betref het dié Lexus elke truuk ingebou. Daar is tien lugsakke, vastrap en stabiliteitsbeheer, blindekolwaarskuwing met baanhulp, botsingwaarskuwing met noodremhulp… alles. Wat wel meer verstom as al die veiligheidstelsels wat mooi weggebêre is en stilletjies hul werk doen, is die ritgehalte. Al ry die LS 500 op 20”-wiele, is die vering pragtig. Die Lexus is só lig op sy tone en sweef oor ʼn ondeunde pad – soos nét ʼn luukse limousine kan.

Agter in die kajuit is daar twee pragtige rusbanke wat kan plat lê. Daar is ʼn voetrus wat uitskop, klimaatbeheerkontroles vir jou BBP agter – die lot. Dit bring my egter by een van die verstommendste dinge van ʼn Lexus LS 500, en dit is die Mark Levinson-klankstelsel. Daar is 23 luidsprekers. Kies jou gunstelingmusiek – en speel dit vir jouself in die Lexus. Dit is die suiwerste klank wat ek nóg in ʼn motor gehoor het. Ek het maklik vir ʼn halfuur lank met hoendervel oor my hele lyf gesit.

Dit is bitter maklik om die Lexus LS 500 op te som. Daar is min voertuie in dié segment. Dink BMW 7-reeks en Mercedes-Benz se S-klas. Albei Duitsers. Daai voertuie is pragtig in hul eie reg, maar die gehalte, gevoel en ervaring in ʼn LS is onweerlegbaar. Soos ʼn mens in die rusbank sit en musiek luister weet jy met omotenashi in gedagte dat dit iewers in Japan ʼn ingenieur se hart bly maak dat mense die voertuig só kan beleef. Dis uiters spesiaal.

Die reeks lyk só:

Lexus LC 500 F-Sport310 kW/ 600 Nm10 ℓ/ 100 kmR2 204 300
Lexus LC 500310 kW/ 600 Nm10 ℓ/ 100 kmR2 397 900

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km omvattende instandhoudingsplan en waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Mercedes-Benz S500L 4Matic320 kW/ 520 Nm8,5 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 428 840
Audi S8 quattro420 kW/ 800 Nm10,8 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 537 500
BMW 750Li xDrive390 kW/ 750 Nm10,2 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 563 744

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Dis soos ‘n BMW of Audi, maar hy sal langer as drie jaar hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.