ʼn Groot sedanmotor is een van die lieflikste ervarings as dit by pure luukse rygenot kom, hoewel die algemene publiek nou eerder groot sportnutsvoertuie koop.
ʼn Lexus wat ʼn fantastiese ervaring bied, is die Lexus ES. Ek het onlangs ʼn ES 250 EX toetsbestuur. Dit is ʼn mediumgrootte luukse sedanmotor in ʼn mooi donkergrys met karamelkleur leerbekleedsel.
Die ontwerp is mooi, so halfpad tussen elegant en sportief. Die sierrooster is pure Lexus – maar die syaansig gee ʼn mens ʼn beter idee van die ware proporsies van die motor. En daar is ʼn enorme kattebak. Agter is daar ook baie beenruimte vir passasiers se gemak.
Die bougehalte in die kajuit is uiters goed. ʼn Mens verwag niks minder van ʼn Lexus nie, en ek het al geleer om nie die Takumi-vakmanne te onderskat nie. Dit is egter nie die materiale, speelgoed en bougehalte wat beïndruk nie, maar eerder die ervaring van al die elemente saam. Omotenashi is Japannees vir gasvryheid, sonder weerga – uit die diepte van jou hart. ʼn Mens kan in ʼn Lexus ES die omotenashi voel.
Die EX is die intreemodel, maar daar is steeds alle luukshede soos verhitte sitplekke, klimaatbeheer, spoedkontrole, Apple CarPlay en Android Auto, Wi-Fi en ʼn pragtige klankstelsel. Aan die veiligheidskant is daar ʼn indrukwekkende tien lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer en dán Lexus se suite aktiewe stelsels soos blindekol en botsingwaarskuwing, baan en noodremhulp.
Onder die kap sit ʼn enjin wat ons ken. ʼn Doodgewone 2.5 viersilinderpetrolenjin. Geen turbo’s, of hibriede motors nie. Maar die nuwe ratkas stel die Lexus ES in staat om steeds fantastiese ekonomie te bied. Op ʼn 180 km-reis in Gauteng, op verskeie snelweë teen 120 km/h het die Lexus ʼn verstommende 5,3 ℓ/100 km gehandhaaf. Dis fantasties. Toe ek die ES vir Lexus teruggee ná meer as 600 km was die verbruik 6,3 ℓ/100 km. Die enjin bied 152 kW en 243 Nm.
Dis op die pad waar die ES die koeël deur die kerk sit vir my. Hy loop op 17”-wiele, en bied ʼn lieflike rit. Dit is soepel en sag, sonder enige werklike bakrol, maar die manier waarop die Lexus oor die teer sweef is uiters luuks.
Ek sal die ES só opsom. Teen R719 900 is dit ʼn ware winskoop. Dit is ʼn pragtige motor, en ry lekkerder as meeste sportnutse. Lexus het onweerlegbare betroubaarheid én hul dienste ná die diensplan opraak is ook uiters bekostigbaar. Aangesien kleiner mededingers van BMW en Mercedes-Benz meer as R200 000 duurder is, kan ek aan geen rede dink waarom ʼn mens nie ʼn Lexus ES sou aanskaf nie. Gaan toetsbestuur een – glo my, dis ʼn wonderlike ervaring.
Die reeks lyk só:
Lexus ES 250 EX | 152 kW/ 243 Nm | 6,6 ℓ/100 km | R719 900 |
Lexus ES 300h EX | 160 kW/ 221 +e Nm | 4,6 ℓ/100 km | R774 400 |
Lexus ES 300h SE | 160 kW/ 221 +e Nm | 4,6 ℓ/100 km | R948 400 |
Die reeks word gedek deur ʼn sewe jaar/105 000 km-voertuigwaarborg en omvattende instandhoudingsplan. Hibriede modelle kry ʼn agt jaar/195 000 km-batterywaarborg.
Die kompetisie lyk só:
Volvo S90 B5 Momentum | 183 kW/350 Nm | 6,5 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R871 852 |
Mercedes-Benz E200 Avantgarde | 145 kW/320 Nm | 7 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan | R936 832 |
Audi A6 40TDI | 140 kW/400 Nm | 5,2 ℓ/100 km | 1 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan | R986 000 |
BMW 520d | 140 kW/400 Nm | 5,2 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan | R987 296 |
Jaguar XF D200 R-Dynamic Black | 150 kW/430 Nm | 4,4 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R1 158 322 |
Tussen dié mededingers is die Lexus meer as R200 000 goedkoper as die drie Duitsers – en moontlik die lieflikste voertuig van die lot.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Veiligste standaard motor tans op die pad.
Ek het alles geglo wat die rebriekskrywer sê maar met die laaste sin val hy heeltemal uit die bus met “moontlik die liefstelike voertuig van die lot.” Op wat word hierdie aanname baseer? Toets eers die ander voertuie.