Die meeste vervaardigers is swaar deur die pandemie getref. Asof dit nie genoeg was nie, is die bedryf deur twee ander rampe getref – die tekort aan halfgeleier-mikroskyfies én ʼn enorme agterstand met verskeping.
Dié perfekte storm het verwoesting met Mahindra Suid-Afrika se planne gesaai. Ek weet van twee produkte wat ons sou gesien het – die nuwe Thar en ʼn nuwe Scorpio.
In die tussentyd is die XUV300 effens opgeknap met klein verbeterings wat hom meer aanloklik maak vir Suid-Afrikaanse kopers, onder meer ʼn swart binneruim en ʼn nuwe inligtingstelsel. Dit is eintlik goed dat ons weer ʼn tydjie met die XUV300 deurbring. Ek onthou dat die tjor my tydens die bekendstelling beïndruk het, maar in ʼn see van nuwe B-segment sportnutsvoertuie vergeet ʼn mens vinnig.
Daar is twee enjins beskikbaar – ʼn 1.2‑turbopetrol en ʼn 1.5‑turbodiesel. Albei puik opsies, maar ek verkies die diesel. Die diesel bied 86 kW en 300 Nm. Die petrol bied 81 kW en 200 Nm. Albei enjins maak gebruik van ʼn 6-spoed‑handrat. Die diesel bied puik brandstofverbruik en haal maklik minder as 6 ℓ/100 km.
Op die pad voel die XUV300 stewig sonder om groot en lomp te voel. Sy ritgehalte is lekker soepel, sonder enige ondeunde bakrol. Aan die veiligheidskant is waar die XUV sy staal wys. Die Mahindra XUV300 is die enigste voertuig wat al ’n vyfstergradering vir veiligheid gekry het tydens die Global NCAP #SaferCarsforAfrica-veldtog se botstoetse.
ʼn Mens moet onthou met die W8-reeksleiermodelle is daar groot sondakke, dubbelsone‑klimaatbeheer, banddrukmonitorstelsel, outomatiese ruitveërs en ligte en ʼn selfverduisterende truspieëltjie. Indrukwekkend. Ek persoonlik dink die W6 met sy lapbekleedsel tref die kol.
Dit is maklik om die XUV300 op te som. Die binneruim is nou voorwaar netjies met sy nuwe swart pak. Die XUV300 het altyd goeie waarde gebied, en sy veiligheidsgeloofsbriewe kan nie geïgnoreer word nie. Indien jy in die mark vir ʼn B-segmentsportnuts is, gaan loer beslis; die kans is goed dat hy jou sal beïndruk.
Die reeks lyk só:
Mahindra XUV 300 W4 1.2T | 81 kW/200 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R234 999 |
Mahindra XUV 300 W4 1.2T SE | 81 kW/200 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R244 999 |
Mahindra XUV 300 W4 1.2T W6 | 81 kW/200 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R261 999 |
Mahindra XUV 300 W6 1.5TD | 86 kW/300 Nm | 5 ℓ/100 km | R281 999 |
Mahindra XUV 300 W8 1.2T | 81 kW/200 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R316 999 |
Mahindra XUV 300 W8 1.5TD | 86 kW/300 Nm | 5 ℓ/100 km | R336 999 |
Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/150 000 km-waarborg. Die W4-modelle kry ʼn drie jaar/50 000 km-diensplan en die res van die reeks vyf jaar/90 000 km.
Ons sal weer tyd met die XUV300 deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.