Mahindra Pik up: ‘Ek is versot op ʼn lelike eendjie’

(Foto: Verskaf)

Ek het die afgelope week met ʼn ou lelike eendjie deurgebring … maar nou sit ek met ʼn penarie. Ek vrek oor die nuwe Mahindra Pik up S11 4×4 outo. Vir twee redes. Eerstens het die voertuig ʼn fantastiese outomatiese ratkas en andersins is dit prima waarde vir geld.

Van die buitekant is Mahindra se Pik up nie die mooiste bakkie nie. Reg van voor lyk hy puik, maar die groot oorhang agter laat hom ʼn bietjie vreemd lyk. Wat die binneruim betref is dit ook nie die gemaklikste bakkie op aarde nie, maar so deur die loop van die week het ek lekker my sit gekry.

Daar is ʼn goeie raakskerm-inligtingstelsel met redelike klank, Bluetooth en al die gewone fieterjasies. Daar is klimaatbeheer, spoedbeheer, outomatiese elektriese vensters voor … de lot. Tot draailigte wat aankom en langs die kar skyn soos jy om draaie ry. Indrukwekkend.

Daar is twee probleempies. Eerstens, die sitplekke is baie naby aan die deur, met ʼn groot gaping in die middel. Die Nissan Hardbody het presies só gesit … en die ou Land Rover Discovery 1 en 2’s. Ek dink hulle kan die sitplekke effe middel toe skuif, maar dan moet die pedale en stuurwiel en die res ook skuif. Die ander probleem is die Pik up se ekwatoriale draaisirkel. ʼn Driepuntdraai in ʼn ander bakkie word ʼn vier- of vyfpuntdraai in die Pik up.

Dit bring my by die Pik up se sterkste, en oortuigende punte. Die enjin en ratkas. Die Pik up maak gebruik van Mahindra se eie 2.2 mHawk-enjin. Hy bied 103 kW en 320 Nm wringkrag. Dit klink dalk nie baie nie, maar tydens Leisure Wheels se Bakkie van die jaar-kompetisie het hulle ál die bakkies op ʼn dinamometer gehad, en die Pik up het die minste dryfstelselkragverlies van enige bakkie tans op die mark in Suid-Afrika. Dit beteken al die perde se voete trap mooi vas op die pad. Dit is uitstekend.

(Foto: Verskaf)

Die tweede en finale koeël deur die kerk is die puik ZF- outomatiese ratkas. Die is ʼn 6-spoed wringkragomsitter outo, met laestrek in dié 4×4-model. Ratwisselings is regtigwaar glad en op lae omwentelinge as ʼn mens net rondploeter, en as jy die versneller begrawe kies hy ʼn rat en die Pik up versnel indrukwekkend uit die blokke. Sekere wringkragomsitters is baie “lui” gekalibreer, so dit gebeur dat die ratkas nie mooi vasskop en die omwentelinge beheer nie, dan is dit amper asof die ratkas vir jou sing soos jy in en uit die versneller kom. Dit is egter glad nie die geval met die Pik up nie. Sy wringkragomsitter is na my sin perfek gekalibreer.

Op die pad rustig in die dorp kan die stuur effe swaar voel, en daardie groot draaisirkel pla – maar verder is hy piekfyn. Padhouvermoë is voldoende vir ʼn bakkie, en vir veiligheid is daar twee lugsakke, ABS en EBD. Op die snelweg is daar heelwat windgeraas om die kajuit – maar dit is ʼn groot lorrie, en te verstane.

Dit is baie maklik om die Pik up op te som. Derduisende kontrakteurs ry met die enkelkajuitbakkies rond, en kry hulle nie opgery nie. Die goed is rateltaai. Die bak is groter as meeste ander dubbelkajuitbakkies én dis 4×4 met ʼn puik outo-ratkas. As ʼn mens hom teen gevestigde mededingers vergelyk is hy heelwat goedkoper. Gaan kyk beslis, ek dink jy sal moontlik, nes ek – beïndruk wees.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikPrys
2.2CRDe S4103 kW/ 320 Nm7.7R 210 499
2.2CRDe S4 afslaankant103 kW/ 320 Nm7.7R 222 499
2.2CRDe S4 4×4103 kW/ 320 Nm7.7R 251 499
2.2CRDe S6103 kW/ 320 Nm7.7R 261 499
2.2CRDe 4×4 S6103 kW/ 320 Nm7.9R 306 499
2.2CRDe dubbelkajuit S6103 kW/ 320 Nm7.9R 316 499
2.2CRDe dubbelkajuit S6 Karoo103 kW/ 320 Nm7.9R 328 499
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S6103 kW/ 320 Nm8.1R 348 499
2.2CRDe dubbelkajuit S10103 kW/ 320 Nm7.9R 351 499
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S6 Karoo103 kW/ 320 Nm8.1R 358 499
2.2CRDe dubbelkajuit S10 Karoo103 kW/ 320 Nm7.9R 358 499
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S10103 kW/ 320 Nm8.1R 383 499
2.2CRDe dubbelkajuit S11103 kW/ 320 Nm7.9R 384 999
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S10 Karoo103 kW/ 320 Nm8.1R 388 499
2.2CRDe dubbelkajuit S11 Karoo103 kW/ 320 Nm7.9R 399 999
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S11103 kW/ 320 Nm8.1R 414 999
2.2CRDe dubbelkajuit 4×4 S11 Karoo103 kW/ 320 Nm8.1R 429 999

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan

Die kompetisie lyk só:

Nissan NP300 Hardbody 2.5TDi dubbelkajuit 4×4 handrat98 kW/ 304 Nm8.9 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R489 400
Isuzu D-Max 250 dubbelkajuit 4×4 X-Rider handrat100 kW/ 320 Nm7.9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R519 200
Ford Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit 4×4 XL outo118 kW/ 385 Nm8.2 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R506 800
Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit 4×4 SRX outo110 kW/ 400 Nm8.5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R582 100

Die twee goedkoopste mededingers is handrat, maar wel 4×4. Die naaste opsie is dan die Ranger 2.2 XL. ʼn Mens moet in ag neem dat die XL ʼn verskriklik basiese spesifikasievlak het. Teen R100 000-besparing op die Ford en amper R200 000 op die Toyota dink ek die Mahindra hoef vir niemand terug te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

My broer het een van die ouer 4×4 modelle gery en die voertuig was puik vir die plaas, as dit by hulle gereen het, dan het dit gereen en met die kleigrond is dit nie speelplek vir enige bakkie. Dit was verbasend om te sien dat die bakkie teen luier spoed sy voete deur die modder vind. Ongelukkig het die 5 spoed ratkas die gees gegee, dit is vervang met ‘n herboude eenheid en ‘n jaar later gebeur dieselfde. Ongelukkig het die Mahindra moes plek maak vir iets meer betroubaar. ‘n Nuwe Isuzu het gevolg en hierdie bakkie het sy spore vol gestaan. Ek self was gelukkig om ‘n gebruikte Amarok 2.0 TDi DC te koop kry vir R155000, wat ‘n bakkie.
Lekker ry.

Grens ·

Ek het nog nie een van die goed gesien op die pad wat nie skuins oorhel na die een kant toe nie. Die bakwerk is verskriklik lelik ook. Dis goedkoper as ander bakkies, maar ek dink dit is ook maar al wat beter is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.