Mahindra spog met nuwe modelle  

Deur Bernie Hellberg Jr

Die nuwe Mahindra Scorpio-N

Mahindra is jare lank al ʼn gevestigde handelsmerk in die Suid-Afrikaanse motorbedryf, en het sedert 2004 hier naam gemaak met hul reekse sportnutse en staatmaker Pik Up-bakkies wat plaaslik by hul monteerlyn buite Durban gebou word.

Min mense besef hoe groot Mahindra werklik is. Sedert 2010 is hy die wêreld se grootste vervaardiger van trekkers, en in Indië lys Mahindra, met méér as 500 000 eenhede per jaar, as die derde grootste motorverkoper naas Tata en Maruti Suzuki. Dit wil gedoen wees.

Waar Mahindra egter kritiek ontlok, veral teenoor meer vaartbelynde mededingers in die mark, is met sy soms koddige ontwerpstyl. Ek dink veral aan die XUV100-buksie en die kiertsregop Scorpio-sportnuts. Maar, tydens sy mees onlangse onthulling van twee splinternuwe sportnutse, wys Mahindra dat selfs die lelike eendjie soms in ʼn swaan kan verander.

Scorpio-N

Die Scorpio is weliswaar een van Mahindra se topverkopers hier, en met die nuweling wat tydens ʼn glansgeleentheid in Suid-Afrika en gelyktydig in Indië en Nepal bekendgestel is, wys Mahindra hoeveel vordering hy onder meer met die Scorpio-N se ontwerp gemaak het.

Waar die huidige voertuig regop en vierkantig voorkom, is die nuweling se blink baadjie, wat onder meer deur Pininfarina ontwerp is, werklik mooi. Lank en slank, en met nuwe ligte en sierrooster, wat ook Mahindra se nuwe “Twin Peaks”-embleem dra, hou die nuwe Scorpio maklik kers vas vir motors soos die Nissan X-Trail waarmee hy kompeteer.

In die kajuit lyk dit nét so goed. ʼn Byderwetse binneruim en stylvolle gebruik van duursame materiale sorg vir ʼn gedaantewisseling vir die nuwe Scorpio-N. Mahindra groet die argaïese veeldoelvoertuig van gister, en verwelkom ʼn bekwame gesinsryding wat nie net tegnologies gevorderd is nie, maar ook spog met Mahindra se nuwe-generasie 4×4-stelsel, 4XPLOR. Al het ons nie tydens die bekendstelling die geleentheid gekry om die Scorpio-N se afpadvermoë op die proef te stel nie, beloof dié stelsel om die Scorpio-N se bekwaamheid verder uit te brei.

Vir woema maak die nuwe Scorpio-N staat op twee enjinopsies – ʼn 2-liter TGDi mStallion-turbopetrolenjin met 150 kW en 380 Nm se wringkrag, en die 2.2-liter mHawk turbodieselopsie wat 131 kW en 400 Nm bied. Albei word aangedryf deur óf ʼn sesspoedhandrat óf ʼn sesspoed-outomatiese ratkas.

Ons sal meer tyd in die sewe-sitplek Scorpio-N deurbring wanneer dié motor binne die volgende ses maande beskikbaar is om te koop. Pryse sal ook dán bekendgemaak word.

XUV700

Met die splinternuwe XUV700 wys Mahindra dat hy óók in staat is om ʼn weelde-georiënteerde motor te bou. Met sy moderne lyne en hoë vlak van tegnologie in die kajuit lui die XUV700 ʼn nuwe era vir Mahindra in.

Die XUV700 kom in die mark te staan teen sportnutse soos die Kia Sportage, Hyundai Tucson en Corolla Cross. Dié is groot name wat reeds jare lank kopers in vervoering het, so die XUV700 gaan sy hande vol hê om te oortuig dat hy ʼn waardige teenstander in sy segment sal wees.

Vergeleke met die Scorpio-N is die XUV700 meer geskik vir kopers wat smag na luuksheid eerder as vierwielvermoë. Mees opvallend in die kajuit is die massiewe digitale raakskerm en instrumente wat herinner aan Mercedes-Benz se inligting- en instrumentasiestelsel. Dit is werklik netjies. Leerbedekte elektriese sitplekke, outomatiese klimaatbeheer, en ʼn uitstekende 445W Sony-klankstelsel met 12 luidsprekers is slegs ʼn paar van die items waarmee die XUV700 spog. Daar is ook, onder meer, ses lugsakke, baanwisselwaarskuwing, LED-tipe hoofligte, en ʼn reuse- panoramiese sondak as standaard.

Kraglewering is ook hier te danke aan twee enjin- en ratkasopsies (sesspoed-outo of handrat). Eerste is ʼn 2-liter TGDi mStallion-turbopetrolenjin wat 147 kW en 380 Nm se wringkrag vanaf lekker lae toere bied, terwyl die turbodiesel 2.2-liter mHawk-enjin weer 136 kW en 400 Nm genereer.

Soos die Scorpio-N het ek nie veel tyd agter die stuur van die XUV700 deurgebring nie, maar dit was opvallend tydens ons toetsrit hoe stil die kajuit is. Dit spreek altyd van goeie bougehalte, ʼn eienskap wat in XUV700 se guns sal tel wanneer die eerste weergawes teen die einde van die jaar hul verskyning begin maak.

Pik Up Karoo

Mahindra het ook vir sy immergroen Pik Up Karoo 4×4-bakkie ʼn nuwe baadjie aangetrek, en sommer die reeks uitgebrei met twee bykomende modelle, elk met ʼn eiesoortige kleur.

Die nuwe Pik Up Karoo Dawn het reeds verlede jaar die mark betree en lyk werklik goed in swart, en met sy rits ekstra toebehore. Bykomend nou is die kakiekleurige Karoo Dawn en die Karoo Storm met sy byderwetse grys kleur wat beslis my gunsteling in die reeks is.

Al drie modelle spog met genoeg fris toerusting om enige stadsjapie na die platteland te laat verlang. GT Radial-bande, ʼn rolstaaf, bosbreker, en plastiekomhulsels vir die wielboë is enkele van die ekstras wat by die Dusk, Dawn, en Storm ingesluit is.

Mahindra het nie in die kajuit aan sy wensresep gekarring nie, en soos voorheen het al drie weergawes steeds ʼn 2.2-liter mHawk-turbodieselenjin wat 103 kW en 320 Nm bied.

Die reeks lyk só:

Pik Up 2.2CRDe 4×4 Karoo Dawn103 kW/320 NmR549 999
Pik Up 2.2CRDe 4×4 Karoo Dusk103 kW/320 NmR549 999
Pik Up 2.2CRDe 4×4 Karoo Storm103 kW/320 NmR549 999

Alle Pik Up Karoo-modelle kom met ʼn vier jaar/120 000 km-waarborg en ʼn vyf jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Hoekom die pap weergawe van die 2.2 turbodiesel in die Karoo bakkie? Met die Scorpio se 2.2 kon hulle werlik ‘n duik in die mark maak, maar hierdie kw/Nm-syfers is dieselfde wat 20 jaar gelede se Hilux’e en Nissans en Fords gemaak het!

Shady ·

Johan, ek moes 2 keer lees om te kyk of dit reg is.Kan nie glo hulle sit die swakker opsies in die bakkies nie. Dit is juis hier waar jy die krag nodig het

SjN ·

Kompetisie is baie goed, mooi Mahindra, jy kan dus 2 bakkies koop vir die prys van een van die mededingers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.