Maroela Motors-padtoets: Die JMC Landwind loop soos ʼn windhond!

JMC Landwind

JMC Landwind

Maroela Motors toetsbestuur die JMC Landwind 5 2.0T Lux.

Ek is aangenaam verras toe JMC die Landwind onlangs by ons kantoor afgelewer het. ʼn Chinese motor wat heel aantreklik lyk en boonop heel smaaklik en stylvol ontwerp is. Voor die motor afgelewer is, het ek met bietjie navorsing ontdek daar kruip ʼn redelike klompie perde onder die enjinkap weg.

Ek moet bieg dat ek deesdae bietjie ligloop vir Chinese motors. Meeste van hulle is baie onaangenaam en nie die helfte van hulle verkoopprys werd nie. My beurt met die Landwind het uiteindelik aangebreek. Voor dit het ek met ʼn baie luukse Volvo gery. Ek dog toe, ai – hier kom ʼn ding.

Die Landwind is lekker groot en netjies afgewerk. Die binneruim is egter vir my nie so netjies soos die buitekant nie. Dit is wel verskriklik ruim. Ek is nie vreeslik lank nie, maar selfs iemand van ses voet sou nog sonder ʼn probleem agter my kon inpas. En dan is die kattebak groot genoeg vir ʼn yslike pakkasie.

Die bestuurdersitplek kon vir my net nie perfek gemaklik raak nie, maar is ook darem nie van só aard dat jy kruppel loop as jy by jou bestemming aankom nie. ʼn Harde kinkel in die middel van die rugleuning het wel aanvanklik gepla, maar teen die einde van die toetstydperk was ek dit gewoond. Die klankstelsel se kwaliteit kan beslis verbeter word, en al is daar ʼn USB-poort op die draadloos, kan mens se foon nie daarmee laai of koppel nie. Om sonder Bluetooth te ry kan ook frustrerend raak.

Kom ons gesels bietjie oor die vuurpyl onder die enjinkap. Meeste hoofstroomvervaardigers bou deesdae kleiner enjins met turbo of superaanjaers. JMC voel nee wat, hulle vat ʼn twee liter viersilinder, én ʼn turbo. 140kW en 250Nm is indrukwekkend. Daar is genoeg krag op lae toere om goeie vordering te maak, en dit laat mens wonder –waar is al die perde waarvan die brosjure praat?

Op pad huis toe van die kantoor af, so 3 km van die kantoor af waar ek by die snelweg aansluit en die JMC op ʼn aanvaarbare werkingstemperatuur is, sit ek hom in die derde rat en begrawe my regtervoet bankvas in die hoek. Die Landwind begin toe geleidelik versnel soos enige ander aanvaarbare twee-liter. Wel, op 4 000 toere breek alle hel los en al die perde en hulle maats begin toe die JMC met woede versnel. Ek glimlag soos ʼn kleuter wat sopas ʼn boks lekkers persent gekry het – en lag sommer hardop vir myself.

Ek het in 2004 die eerste keer geleer wat is turbotraagheid in ʼn Mitsubishi Evo 8. Met deesdae se doeltreffende enjins het ek al vergeet wat dit is, en hoe lekker dit kan wees.

Hierdie Landwind se enjin is familie van daai einste Evo 8-enjin. Mmm. Ek sal jou waarsku, om elke keer soos ʼn nar te versnel dat die stof so staan, kom teen ʼn prys. Hy’s dors. Ná daai episode wys die aanboordrekenaar vir my 20l/100 km. Eina. Ek ry toe rustig verder huis toe en gelukkig daal die verbruik na 10.5l/100 km. Beter, maar nie fantasties nie. Mens kan seker nie jou brood aan alle kante gebotter hê nie, so – krag of brandstofverbruik?

Die rathefboom laat my baie dink aan die ou Toyotas, net nie so presies nie. Mens glip nie ratte nie, maar dit wil voel of hy deur die rathefboom krap elke keer as hy ʼn rat kry. Die ratkas het ook effe gesing in vyfde en sesde rat. Die ritgehalte is indrukwekkend. Die Landwind ry sag en val nie rond nie. Hy is heeltemal aanvaarbaar in die draaie vir sy grootte. Ek het op YouTube gaan rondsnuffel, en ʼn video van die Chinese NCAP-toets kan daar gesien word. Ek kan nie ʼn veiligheidsgradering opspoor nie, maar die passasiersel wil lyk of hy die impak goed weerstaan. Op ons toetsmotor kon die middelste agtersitplek se gordel nie in sy knippie pas nie, die gespe was te groot. JMC het intussen vir my laat weet dit is ingestuur om herstel te word.

Kobus van Maroela besit ʼn luikrugmotor en toe hy in die Landwind klim, het dit só baie spasie dat dit vir hom soos ʼn skip gevoel het. “Mense gee makliker vir jou ruimte in die verkeer weens sy grootte,” verduidelik hy verder.

“Die rooi motor vang nogal die oog. Dis lekker om so hoog en droog te sit. Ná ʼn uur in die verkeer het die rugleuning se kussing my egter begin knou tussen die blaaie. Die sigbaarheid is heel goed danksy die kantspieëltjies, omdat jou blindekol taamlik groot en die agterste venster bietjie klein is.

“Om glad ratte te wissel teen ʼn lae spoed is ʼn groot uitdaging. Ek hou van ʼn koppelaar wat diep trap, maar jy moet steeds ferm druk om die hefboom in rat te kry. Dan, wanneer jy die koppelaar laat gaan, moet jy mooi korrel met die sensitiewe voetpedaal. Die enjin het oorgenoeg krag van 2 500 rpm af, maar as jy Waterkloof se bulte teen ʼn lae spoed takel, help die turbo nie veel nie en voel die motor geweldig lomp.

“Ek hou van die biep-geluid wanneer jy die motor in trurat sit. Dit herwin bietjie van jou vertroue in die ratkas wat jy vroeër in die verkeer verloor het. Die sensors op die buffers en die kragstuur help om die motor netjies te parkeer. Die bestuurder se konsole is mooi en eenvoudig uitgelê, maar ek mis ʼn horlosie,” sluit Kobus af.

Nico, ons nuusredakteur, het die grootte van die Landwind geniet. Hy het ook verslaaf geraak aan die krag ten spyte van die brandstofverbruik. Die krapperige ratwisseling was vir hom die grootste irritasie.

Marius is gewoond aan ʼn Chinese bakkie waarmee hy ʼn paar keer per week sy klankgereedskap mee rondry. Hy voel die JMC se ritgehalte is lekker gemaklik, die spasie groot, afwerking aanvaarbaar en ontwerp netjies. Hy het ook die krag geniet.

Om op te som: die Landwind is mooi. Die binneruim kon meer aandag gekry het. Die ratwisseling is nie fantasties nie. Die enjin is sterk soos ʼn os, maar bietjie dors. Teen R249 900 is die Landwind nou ʼn winskoop, maar hoe sal hy vaar op herverkoopwaarde?

So lyk die kompetisie:

JMC Landwind 5 2.0T Lux140kW/ 250Nm8.5l/100km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R249 880
Mahindra XUV500 2.2CRDe W4103kW/ 330Nm6.5l/100km5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R272 995

Al die ander sportnutsvoertuie soos Mazda CX-5, Nissan X-trail, Toyota Rav4 en Ford Kuga se intreemodelle begin by R360 000. Dit verander die hele speletjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cassie ·

Jy sê die meeste chinese motors is nie die helfde van hul verkoopsprys werd nie, maar net in die volgende sin praat jy van die Volvo.Is jy bewus van die feit dat Volvo ook nou ‘n chinese voertuig is? Ja Geely (Chinese voertuig) het Volvo oorgekoop.

Brendon ·

Dagsê Cassie

Dankie vir jou kommentaar. Dis bietjie moeilik om te sê dat Volvo ‘n Chinese vervaardiger is. Land Rover word besit deur TATA – so dit is dan Indies. Fiat behoort nou aan Chrysler so dit is dan Amerikaans. Bugatti behoort nou aan Volkswagen so dit is Duits. Renault en Nissan is ook maats – so wie is Frans en wie is Japannees?

Nogal ‘n ingewikkelde storie nè?

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media Motors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.