Maroela Motors-padtoets: Fiat Fullback 2.5Di-D 4×4 LX

Die Fiat Fullback 2.5Di-D 4×4 LX (Foto: Fiat)

Suid-Afrikaners is baie lief vir hul bakkies en dit bly vir enige motorfabrikaat ʼn goeie idee om ʼn bakkie hier beskikbaar te stel. Die Fiat Fullback is al ʼn geruime tyd in Suid-Afrika beskikbaar en ons het onlangs ʼn geleentheid gehad om dié bakkie te toetsbestuur.

ʼn Biefstuk van ʼn bakkie met mooi wiele en bande met mening gee die Fullback ʼn ernstige voorkoms. Die Fullback is geskoei op die Mitsubishi Triton, net met die vorige Triton se 2.5 turbodieselenjin.

Die binneruim is eerlik en sonder fieterjasies: Lekker sterk rubbermatte is standaardtoerusting asook leerbekleedsel asook klimaat- en spoedbeheer. Die stuurwiel kan slegs op en af stel, nie in en uit nie – so ʼn lekker bestuursposisie is ʼn bietjie moeiliker om te vind as met van die Fullback se mededingers.

Ritgehalte is steeds bakkie, al val die Fullback in ʼn leefstylklas en bakkies het deesdae baie groot skoene om te vul. Ons wil hê hulle moet soos ʼn gewone sedan ry, maar dan verwag ons hy moet ook ʼn reuse-vrag kan dra en woonwa sleep. Sodra die ritgehalte lekker is, verstomp die werkeselvermoë dikwels. Die gebruik van jou dubbelkajuit sal bepaal hoe jy van jou vering hou, hard of sag.

Die Fiat Fullback 2.5Di-D 4×4 LX (Foto: Fiat)

Die Fullback se enjin voel heel bekwaam – al kan hy nie kers vashou nie vir van die nuwer mededingers in terme van werkverrigting en brandstofverbruik nie. Die rathefboom is ook ʼn bietjie styf – so as werkesel sal hy seker lank hou, maar as leefstylwa gaan hy jou moontlik ʼn bietjie uitput in die dorp. Die 4×4-skakeling word gedoen met ʼn tweede rathefboom, soos in die ou dae. Deesdae het meeste voertuie ʼn elektroniese knoppie daarvoor.

Die Fullback voel lekker op die pad en jy raak hom vinnig gewoond. Sy wiel-en-band kombinasie is regtig netjies en aantreklik.

In Maart vanjaar is 19 Fullbacks in Suid-Afrika verkoop. As ʼn mens dit vergelyk met die duisende Hilux- of Ranger-bakkies dan is Fiat se markaandeel maar skraal.

Al wat oorbly is om te bepaal hoe sy prys vergelyk met dié van sy mededingers. As ʼn mens die Fullback vergelyk met die 2.8 Hilux of 3.2 Ranger is hy spotgoedkoop, maar wat krag en toerusting betref glo ek die Fullback is nie ʼn winskoop nie.

Die reeks lyk so:

2.4 enkelkajuit97kW/ 202Nm10.3l/100kmR232 900
2.5Di-D dubbelkajuit SX100kW/ 324Nm7.9l/100kmR402 900
2.5Di-D dubbelkajuit 4×4 LX131kW/ 400Nm7.7l/100kmR468 900

Die reeks word gedek deur Fiat se drie jaar/100 000 km waarborg en vyf jaar/100 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk so:

Ford Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XL118kW/ 385Nm6.9 ℓ /100km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R431 900
Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit 4×4 SRX110kW/ 400Nm7.3 ℓ /100km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R468 800
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 SE140kW/ 450Nm6.5 ℓ /100km6 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R514 900
Volkswagen Amarok 2.0TDI dubbelkajuit Trendline 4Motion103kW/ 340Nm7.7 ℓ /100km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R535 800
Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4133kW/ 430Nm7.3 ℓ /100km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R539 900

Tussen al die mededingers is die goedkoopste 4×4 dubbelkajuit, handrat model gekies. Tussen die vyf is die Navara verreweg die sterkste en die nuutste, maar nie die duurste nie…. Die nuwe Amarok word ook binnekort bekendgestel.

Die bakkie-oorlog is moeilik. Manne is passievol oor hul bakkies en van watter handelsmerk hulle hou. In dié klas koop ek die Ranger of die Hilux – die duurder modelle het weer ander mededingers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Isuzu ·

Die Isuzu D/C 4×4 kos dieselfe, maar het ‘n 5 jaar waarborg en BAIE meer handelaars oor SA

Rudi ·

As jy net n hilux of n Ranger in die klas koop, weet jy duidelik nie veel van bakkies af nie.

Rupert Ashford ·

So ook eintluk ‘n Toyota fan wat probeer om motorjoernalis te speel Brendan?;-)

As hierdie een die ou Mitsubishi enjin,transmissie en onderstel het behoort dit ‘n monster te wees wat definitief die moeite werd is mits die Fiat gedeelte hou…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.