Maroela Motors-padtoets: Opel Adam S is lekker wintie!

Opel Adam S (Foto: Opel)

Opel Adam S (Foto: Opel)

Deesdae is daar ʼn magdom keuses as dit kom by ʼn ryding. Klein, groot, diesel, petrol, handrat, outo, luikrug, kopee, bakkie, bussie – en dan is daar altyd die wintie – die haan tussen die henne. Hierdie Opel Adam S is net so ʼn haan.

Toe Opel laat weet daar kom ʼn Adampie vir ons, het die kantoor nogal gegons oor die klein tjorrie. En met goeie rede. Die klein luikrug is nogal aantreklik. Vreeslik sportief met sy 18 duim ‘tekkies’. As jy neus teen die vensters loer na binne – sien jy die volgende leidraad dat hierdie Adam sport-sokkies onder sy sweetpak dra. Behoorlike Recaro-baksitplekke vir die bestuurder en sy passasier. Die Recaro-sitplekke hou mens net so lekker styf om die lyf soos jou eerste liefde by ʼn vasdans!

Die kragsyfers op papier lyk nie so indrukwekkend nie, maar 110kW en 220Nm van die 1.4 liter 4 silinder ECOTEC-enjin is oorgenoeg. Op die pad voel dit baie meer indrukwekkend. Dit is moontlik die feit dat die Adam die skaal skrams onder 1.2 ton druk. ʼn Gladde sesgang handrat maak ratwisseling akkuraat en vinnig. Die versneller is vir my ʼn raps te sensitief – lekker as mens in jaagduiwelmodus is, maar as jy net rustig werk toe wil ry, dan voel dit asof mens bietjie Ritalin in die brandstoftenk wil gooi, laat hy net vir ʼn rukkie bedaar.

Opel Adam S (Foto: Opel)

Opel Adam S (Foto: Opel)

ʼn Magdom lugsakke sal jou beskerm indien jy wel in ʼn botsing sou beland, maar die Adam se padhouvermoë is uiters briljant en sy remme laat hulle ook nie skrikmaak nie. Nog ʼn fantastiese funksie van die Opel is die ‘Hill Start Assist’ wat die Adam op die remme hou op ʼn steil opdraande sodat jy veilig kan wegtrek sonder dat die motor agteruit beweeg.

Op papier is die Adam se 0-100 km/h tyd nie uitermatig vinnig teen 8.5 sekondes nie met ʼn topsnelheid van (slegs) 210 km/h – maar glo my, in die Adam voel jy soos ʼn wêreldkampioen-renjaer!

Daar is slegs 50 Adam S’e beskikbaar in Suid-Afrika. Die beperkte weergawe sal na verwagting jou herverkoopwaarde in die toekoms te beskerm. R330 000 is ʼn stywe bedrag geld, maar die Adam S kompeteer teen duurder opsies en hy kan steeds sy kop hoog hou.

Die kajuit is verskriklik klein agter; met die Recaro-sitplekke in die S-weergawe is die Adam eerder ʼn 2+2-sitplek, nie ʼn ware viersitplekmotor nie. Met my stoel gestel sodat ek gemaklik is, moes my kinders hulle bene op die agtersitplek vou want daar is dan geen beenruimte nie. Die Adam S is wel nie gemik op ʼn pa wat sy kinders skool toe moet karwei nie.

Die radio koppel maklik met jou foon en die raakskerm beheer ʼn iPhone beter as meeste toestelle wat ek al teëgekom het. Die navigasiestelsel werk deur ʼn app wat jy op jou foon kan aflaai en dan kommunikeer die navigasiestelsel deur jou foon. Dit het nie met die toetsmotor op my foon reg gewerk nie.

Opel Adam S (Foto: Opel)

Opel Adam S (Foto: Opel)

Om op te som

Ek het die Adam S vreeslik geniet. My gesinsmotor is ʼn sewesitplekbussie, en hy jaag net nie so lekker soos ʼn klein sportmotortjie nie. Die Adam lyk jonk en verfrissend en dra sy sportiewe bedoelings op sy mou. Krag en karakter het hy in oorvloed en die uitleg van die kajuit laat jou veilig voel. As jy in die mark is vir so tipe motor – kyk gerus, jy sal nie spyt wees nie.

Die Opel Adam-reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/60 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die reeks lyk so:

 

Opel Adam 1.474kW/ 130NmR206 500
Opel Adam 1.0T Jam85kW/ 170NmR230 700
Opel Adam 1.0T Glam85kW/ 170NmR254 000
Opel Adam Rocks 1.0T85kW/ 170NmR287 100
Opel Adam S 1.4T110kW/ 220NmR330 000

Die kompetisie lyk so:

Audi A1 1.8T Sport141kW/ 250NmR419 500
Citroen DS3 e-THP 120kW Sport120kW/ 240NmR358 400
MINI Cooper S141kW/ 280NmR395 552
Ford Fiesta ST134kW/ 240NmR317 900
Renault Clio RS200 Cup147kW/ 240NmR391 900
Volkswagen Polo GTI141kW/ 320NmR350 150

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basson ·

R330k sê hy, terwyl hy deur sy tanne fluit en dink dis BIZAR. Ydelheid kos baie $$$

Vir daardie prys kan mens al ‘n kar koop! ;)

Paul ·

“Die uitleg van die kajuit laat jou veilig voel”??? Hoe laat dit jou dan nou veilig voel?

Die Ford Fiesta ST is duidelik ‘n baie beter koop. Vinniger, groter, legendariese onderstel en boonop goedkoper!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.