Maroela Motors-padtoets: Peugeot 208: prettige buksie vol woema

Peugeot 208 GT-Line Outo Foto: Peugeot

Peugeot 208 GT-Line Outo Foto: Peugeot

Maroela Motors toetsbestuur die Peugeot 208 GT-Line Outo.

Peugeot is ʼn naam wat ek as ʼn laaitie kan onthou. My pa en oom het vir my probeer verduidelik dat ʼn Peugeot 504 ʼn fantastiese motor was. My sewejarige brein kon dit nie verwerk nie. Die 504 was oud en baie lelik, ten spyte van die feit dat dit moontlik sterker as ʼn tenk was. Nou dat ek al klein bietjie ouer is en te danke aan die wêreldwye web is ek darem bitter spyt dat ons nooit die Peugeot 205 GTi hier in Suid-Afrika gekry het nie.

In die tagtigerjare is die Hot Hatch ontwerp. Volkswagen het hulle Golf GTi bekendgestel, Peugeot hulle 205 GTi, Opel die Kadett GTE, Ford sy Escort XR3, Renault die 5 GT Turbo, en ʼn paar ander. Hier was ʼn klein buksie waarin al die kindertjies kon pas – en pappa kon dit net soveel geniet. Nietemin, ons het weens sanksies hier in Suid-Afrika baie min van hierdie blitsbuksies gekry.

Ek is baie dankbaar dat dit nou 2016 is, en ons het ʼn groter verskeidenheid van modelle om van te kies as ooit tevore in Suid-Afrika. Een van hulle is die louwarm 208 GT-Line outo. Tipies Peugeot met hulle eie ontwerpstyl. Mooi lyne en sportiewe intensies van buite en ʼn ergonomies verpakte kajuit is aan die orde van die dag met die 208.

Die kleur Peugeot 208 GT-Line Outo waarmee Maroela Motors gery het Foto: Peugeot

Die kleur Peugeot 208 GT-Line Outo waarmee Maroela Motors gery het Foto: Peugeot

Ons toetsmotor het in ʼn vreemde tekstuurverf by ons kantoor opgedaag en ek kan nie vir jou sê hoeveel mense het aan die motor gevryf in die week wat die 208 by ons gekuier het nie. Aanvanklik lyk dit soos ʼn vinieloortreksel – maar dit is wel regte egte verf. Ek kan nie besluit of ek daarvan hou of nie – maar gelukkig is hy nie net in hierdie tekstuur of kleur beskikbaar nie, so elkeen kan maar vir homself besluit.

Die binneruim is baie meer ruim as wat die voertuig se proporsies jou sal laat dink. Die sportsitplekke is lekker gemaklik en hou mens lekker styf vas. Die stuurwiel op die 208 is komieklik klein en bietjie bo en onder plat gemaak. Mens raak dit dadelik gewoond – en as die stuurwiel enigsins groter was sou mens nie die instrumente kon lees wat hoog op die paneelbord gemonteer is nie. Alle kontroles is binne reikafstand en mens raak al die kontroles maklik baas. Met my sitplek gemaklik gestel, is daar indrukwekkende beenruimte agter en ʼn billike kattebak.

Peugeot 208 GT-Line Outo Foto: Peugeot

Peugeot 208 GT-Line Outo Foto: Peugeot

Die enjin- en ratkaskombinasie werk heel goed. Peugeot se EAT6 (Efficient Automatic Transmission) ratkas is ʼn dubbelkoppelaar-tipe ratkas maar gebruik wel ʼn wringkragomsitter. Die teenwoordigheid van ʼn wringkragomsitter verseker dat stadsverkeer nie die ratkas onkant vang soos in baie ander dubbelkoppelaar-tipe ratkaste nie. Die 1.2 liter drie-silinder turbo petrolenjin trek lekker sterk, veral omdat die wringkrag van baie lae toere af beskikbaar is. Die 81kW en 205Nm wringkrag in 1 150 kg laat hierdie buksie hol: 0 – 100 km/h duik op in 9,8 sekondes en hy sal aanhou hol tot 190 km/h. Peugeot beweer die gemiddelde brandstofverbruik van 4,5 l/100 km is moontlik met die 208 GT-Line outo. My voet was moontlik net te swaar – maar ons het 7,2 l/100 km gehandhaaf.

Die vering en hantering is gemaklik maar terselfdertyd is die vering hard genoeg dat mens draaie met entoesiasme kan benader. Die breë 17 duim-bande maak ook seker die 208 plak lekker vas op die pad.

Om op te som: die 208 GT-Line outo is ʼn gerieflike motor. Hy is aantreklik en goed aanmekaar gesit. Die kajuit is gemaklik en die enjin hou daarvan om met woema te ry. Die outokas maak verkeer ʼn plesier en spoedbeheer hou mens uit die moeilikheid op die langpad. R304 900 is styf en skrams duurder as sy mededingers.

Die reeks lyk so:

208 Pop Art50kW/ 95Nm4,4 l/100 kmR169 900
208 1.2 Active60kW/ 118Nm4,3 l/100 kmR224 900
208 GT-Line81kW/ 205Nm4,5 l/100 kmR284 900
208 GT-Line outo81kW/ 205Nm4,5 l/100 kmR304 900

Die 208 reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan, en ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg.

Die kompetisie lyk so:

Audi A1 1.4TFSI SE Outo92kW/ 200Nm4,9 l/100 km5 jaar/100 000 km- instandhoudingsplan

1 jaar/onbeperkte km waarborg

R352 500
Citroën DS3 88kW Style Outo88kW/ 160Nm6,6 l/100 km4 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/100 000 km-waarborg

R328 400
Mazda 2 1.5DE Hazumi Outo77kW/ 220Nm4,4 l/100 km3 jaar/onbeperkte km-diensplan

3 jaar/onbeperkte km waarborg

R291 700
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo74kW/ 170Nm4,9 l/100 km5 jaar/60 000 km-diensplan

4 jaar/120 000 km-waarborg

R269 900
Volkswagen Polo 1.2 TSI Highline Outo81kW/ 175Nm5,1 l/100 km3 jaar/45 000 km-diensplan

3 jaar/120 000 km-waarborg

R285 400

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.