Elke nou en dan kry die een of ander motorvervaardiger dit reg om ʼn klein legende te skep. Dink in die lyn van Golf, Escort en Mini. Daai is ware legendes en het ʼn besonderse plekkie in baie mense se harte. Ek is gek na al drie. As ons ʼn paar blaaie in die almanak oorslaan, kom ons in die vroeë 90’s. Die grootste grap was … oe, nou’t jy &%$ gekoop. My ma het een gery. ʼn Bloedrooi klein Uno Fire. Sy’t hom seker ses jaar gery, van splinternuut, en toe afgeskryf met 154 000 km op die klok.
Mens kan sê wat hulle wil, maar die Uno is ook so ʼn legende. Mammalize – een van ons Maroelegas se ma, ry tot vandag toe nog haar Uno Fire … ek dink hy’t al ver oor die 300 000 km op. Kom ons blaai nog bietjie aan … toe kom die Hyundai Atos. Ook ʼn 1 100 cc. Ook so ʼn klein buksie. Net so suksesvol. Daar het derduisende van die goed verkoop. My ma het ʼn Atos ook gehad. My ma is in 2015 oorlede en my sussie ry tot vandag toe nog verder met die Atos.
Wat ek probeer verduidelik, is: Mens het nie altyd ʼn reusagtige duur ryding nodig nie. Baie mense wil net by die werk en by die huis kom … en so min moontlik aan die paaiement en versekering afstaan. Dan het ons nog nie aan die brandstofverbruik geraak nie.
So kom ons dan by die nuwe klein Renault Kwid. Ek dink die Kwid gaan net so suksesvol wees soos die Uno en die Atos. Dit is ʼn baie slim verpakte klein buksie. Die Kwid is nie die mooiste astertjie in die tuin nie, maar ook nou nie lelik nie. Dit is ʼn basiese voertuig vir bitter min geld.
Die binneruim is basies, maar doeltreffend. Alles is daar wat jy benodig – en bietjie meer. Daar is elektriese vensters, kragstuur, lugreëling, ʼn sentraalsluitstelsel en verbasend – tot navigasie en Bluetooth. Daar is wel net een lugsak, maar – ons kan nie ons brood aan alle kante gebotter hê nie. Lugsakke en hul sensors is astronomies duur.
Die Kwid is toegerus met Renault se klein 999 cc driesilinder-petrolenjintjie. Die 50 kW en 91 Nm wringkrag wat hy bied in die klein tjor is heeltemal voldoende. Daar is ʼn vyfgang-handrat en die twee saam maak die Kwid ʼn gretige klein rakkertjie. Ek is gaande oor ʼn driesilinder-enjin, met bietjie verbeelding klink dit soos ʼn Porsche. Ek kan vir jou hier sê ek’t die sewe soorte wit waks uit die Kwid gery, en hy’t steeds 21,4 km/l gebied. Al is die tenk klein, met daai verbruik het jy steeds ʼn reikafstand bo 500 km.
Op die pad voel die Kwid heel lekker. Maak geen fout – hy bly klein, maar lekker. Die vering is verbasend goed en die Kwid het min bakrol en is terselfdertyd nie stamperig nie. Die 13 duim-wieletjies het vir my baie meer padhouvermoë gebied as wat ek verwag het, maar ʼn kwaai wind kan hom bietjie rondpluk. Daar is min klankdoding in die kajuit – maar dit is heeltemal verstaanbaar teen die prys. Die kattebak is ook nie te versmaai nie.
Daar is twee argumente oor sulke klein karretjies. Een van die argumente gaan oor die veiligheid. Daar is wel een lugsak en geen ABS nie. Toe die meeste van ons leer bestuur het, was daar ook nie ʼn lugsak nie. Baie mense het geleer bestuur in ʼn motor met drom-brieke. Sjoe, onthou julle die Vollas? My ma het haar Uno afgeskryf toe ʼn motor voor haar in ry. Sy’t ʼn paar blou kolle gehad. My vrou het ons Renault Scenic afgeskryf – sy’t ook ʼn paar blou kolle gehad, en die Scenic het ʼn 5-ster Euro Ncap-gradering. So, motors se veiligheid is alles relatief. Wil jy teen 200 km/h in ʼn botsing wees met die Kwid? Nee, maar gelukkig kan hy nie so vinnig ry nie.
Die ander argument is wat dit bied vir die geld. Ek dink jy gaan sukkel om so ʼn bekwame ryding te koop vir minder. Ek dink die Kwid is ʼn fantastiese klein karretjie en gaan vir baie mense die lekkerste ding op aarde bied – vryheid deur wiele.
Die reeks lyk só:
Kwid 1.0 Expression | 50 kW/91 Nm | 4.7 l/100 km | R124 900 |
Kwid 1.0 Dynamique | 50 kW/91 Nm | 4.7 l/100 km | R134 900 |
Die reeks word gedek deur Renault se 5 jaar/150 000 km-waarborg.
Die kompetisie lyk só:
Datsun Go+ | 50 kW/104 Nm | 5.2 l/100 km | 3 jaar/ 100 000 km- waarborg | R126 900 |
Kia Picanto 1.0 LS | 51 kW/94 Nm | 4.9 l/100 km | 5 jaar/ onbeperkte km-waarborg | R129 995 |
Suzuki Celerio 1.0 GA | 50 kW/90 Nm | 4.7 l/100 km | 3 jaar/ 100 000 km- waarborg | R132 900 |
As ek so na die mededingers kyk, is die Suzuki Celerio moontlik ʼn beter opsie – hy bied twee lugsakke en ABS. Ons toets hom in die nabye toekoms en sal dan beter kan berig oor die Celerio.