Maroela, Wiele2Wiele se vlae vlieg hoog by Spirit of Amarok

Sarel van der Merwe en Volkswagen hou elke jaar twee kompetisies. Die een is die Spirit of Africa waar honderde spanne van Suider-Afrika deelneem. Die wenner van daai kompetisie dring deur na die Spirit of Amarok International waar verskeie lande se wenners deelneem.

Daar is elke jaar ʼn media-uitdaging, en vanjaar het ek en Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele, en my mede-aanbieder op Perdekrag, as span deelgeneem.

Die kompetisie vind in twee dele plaas. Daar is tegniese hindernisse waar mens in ʼn sekere tyd deur ʼn hindernis moet beweeg sonder om aan die paaltjies te raak of agteruit te stoot. Punte word afgetrek vir elke paaltjie of terugstoot. Die tweede gedeelte is die spoeduitdagings. Hier moet mens so vinnig moontlik deur ʼn roete beweeg.

Ons het vanjaar met Volkswagen se sterk 190 kW- Amarok V6 gery. Dié enjin gepaard met die agtspoed-ZF- outomatiese ratkas maak van die Amarok amper ʼn bakkie-GTI. Dit was Jeanette se eerste jaar by die Spirit of Amarok en sy was onseker oor wat om te verwag. Jeanette is ook uiters mededingend … dus het sy haar in die passasiersitplek vasgegespe, notaboekie en al.

Ná die tegniese uitdagings het ons net-net voorgeloop. Tydens die eerste spoeduitdaging het die vastrapbeheer my pogings belemmer. Nadat die vastrapbeheer afgeskakel is, behaal ons die ideale tyd in die tweede uitdaging. Vir een van die uitdagings moet mens agteruit deur die roete. Daar maak ek behoorlik droog en vermoor ʼn paaltjie – twee keer. Ai! Hoeveel punte is nou in die water gegooi?

Ek en Jeanette sit op hete kole tot die prysuitdeling, maar uiteindelik ry ons met drie toekennings weg. Ons het die geestoekenning opgeraap, die spoeduitdagings gewen én het algeheel tweede geëindig. Ons is heel in ons noppies en glimlag van oor tot oor.

In die eerste plek was Fanelesibonge Bengu (Isolezwe) en Sibonelo Myeni (Ukhozi FM & iMoto).

In die tweede plek was Brendon Staniforth (Maroela Media & Perdekrag) en Jeanette Kok-Kritzinger (Wiele2Wiele & Perdekrag).

En in die derde plek was dit Charlen Raymond (Wheels24) en Sisanda Mbete (Dozer Drives).

Ons formidabele teenstanders het ons heeldag op ons tone gehou. Tot volgende jaar, dan probeer ons weer!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

As jy met die Amarok by die garage stop, dan vra jy “check die petrol en maak vol die olie”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.