Mazda se BT-50 mis plek-plek die merk

ʼn Mens kan redeneer dat daar deesdae amper glad nie meer ʼn slegte voertuig bekendgestel word nie. Moderne tegnologie en die manier waarop voertuie gebou word, stel vervaardigers in staat om amper altyd die spyker op die kop te slaan. Dit is waarskynlik daarom dat wanneer ʼn nuwe motor met sommige aspekte die pot mis sit, dit so opvallend is.

Die voertuig waaroor ek só gegrief voel, is Mazda se splinternuwe BT-50. Die nuwe BT-50 is op die volgende Isuzu D-Max geskoei. Aanvanklik het foto’s belowend gelyk. Ek moet bieg – die ontwerp is vir my werklik mooi. Die eerste foto’s van die binneruim het ook pragtig gelyk en die ontwerp voldoen aan die verwagtinge, maar die spesifikasievlak van die plaaslike model wat in Suid-Afrika beskikbaar is, stel maar teleur sonder leersitplekke of enige aktiewe veiligheidstelsels.

Onder die kap is ʼn nuwer weergawe van Isuzu se 3.0‑viersilinderturbodieselenjin. Die enjin bied 140 kW en 450 Nm. Die enjin is gepaard met ʼn 6- spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. Dié kombinasie en die kalibrasie van die enjin en ratkas is eenvoudig een van die bestes in die bedryf. Mazda maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 8 ℓ/100 km en ek het dit met gemak behaal. As jy versigtig is, duik hy vinnig laer as dit in die 7 ℓ/100 km-kerf, puik vir ʼn bakkie van dié grootte.

Op die pad is waar die BT-50 egter regtig teleurstel. Die agterste vering op die bakkie is onaanvaarbaar. Die vering is ongelooflik hard – dit voel asof die wiele so hard soos treinwiele gepomp is, en daar is eenvoudig geen buigsaamheid nie. Dit is bitter ongemaklik. Ek skat die BT-50 se agterste vering is omtrent twee keer stywer as ʼn Cruiser s’n. Ek’t die bakkie se bande afgeblaas tot 2,2 bar – 0,4 bar minder as Mazda se voorgestelde banddruk – en dit was effens beter, maar steeds erg.

Die BT-50 bied sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer. Dit is heel goed vir ʼn intreevlakbakkie. Dié spesifieke bakkie is hul topmodel en kos R800 000. Ford se Wildtrak is slegs R15 000 duurder en bied aktiewe stelsels soos aanpasbare spoedkontrole, baanbeheer, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing en noodremhulp.

Aan die spesifikasiekant bied dieselfde Wildtrak leerbekleedsel, verhitte sitplekke, aktiewe klankdoding in die kajuit en outomatiese helderligte. Die Mazda is weens sy tekortkominge eenvoudig ook te duur. Dit is ʼn groot jammerte. Die enjin is werklik fantasties, en die bakkie is mooi. As hulle die vering kan uitsorteer, en hul potlode gaan skerp maak, sit hulle met ʼn wenner.

Die reeks lyk só:

Mazda BT-50 1.9TD dubbelkajuit Active110 kW/350 Nm6,6 ℓ/100 kmR611 900
Mazda BT-50 1.9TD dubbelkajuit Active outo110 kW/350 Nm6,6 ℓ/100 kmR647 900
Mazda BT-50 3.0TD dubbelkajuit Dynamic140 kW/450 Nm8 ℓ/100 kmR759 400
Mazda BT-50 3.0TD dubbelkajuit 4×4 Individual140 kW/450 Nm8 ℓ/100 kmR794 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/onbeperkte km‑waarborg en diensplan.

Die kompetisie lyk só:

GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit LS 4×4120 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR509 900
Ford Ranger 2.0SiT dubbelkajuit XLT 4×4 outo132 kW/420 Nm7,5 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R687 300
Nissan Navara 2.5DDTi dubbelkajuit 4×4 LE outo140 kW/450 Nm8,1 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R704 900
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo150 kW/500 Nm8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9‑dienste-diensplan

R747 100

Tussen die mededingers is die Mazda met ʼn reusemarge die duurste. Die Ford se prys is effens skeefgetrek omdat sy diensplan nie ingesluit is nie. Ek’t by elkeen spesifiek nie die luuksste model gekies nie, eerder die model wat op meer gelyke voet met die Mazda meeding. Die GWM is ʼn ware winskoop teen amper R300 000 goedkoper. Die ander drie is elkeen ʼn puik opsie… vir minder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FrikkievV ·

Mazda skiet hulself alweer in die voet. As jy meer markaandeel wil beteik moet jy nie jou produkte so duur maak nie. Kyk na die Triton, dis ‘n meer bekostigbare opsie en myns insiens baie beter.

Johan ·

Een van die redes waarom die BT50 so duur is, is die feit dat hy ingevoer is. Ek hoop hul kan die BT50 sommer in PE bou, sodra Isuzu die nuwe DMax se produksielyn reg het.

Karlahari ·

Is klankdoding n newe effek van Carvid?
Klankdigting is die algemene term.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.