Merc se E-klas toonbeeld van luuksheid, weelde

Luuksheid en weelde. Dit is die eerste twee woorde wat by opkom om Mercedes-Benz se E220d AMG Line-weergawe te beskryf.

Spasie, gerief, veiligheid en tegnologie is die ander woorde. Daar is sedert 1946 meer as 14 miljoen van Mercedes se E-klas van die hand gesit en dit is steeds sy topverkoper-model in die passasiersmotorreeks.

Ongelukkig is die moderne verbruiker gaande oor ʼn sportnutsvoertuig – en behep met hoër sit. As ʼn mens eers ʼn luukse groot sedanmotor ervaar het – dan steek ʼn sportnuts erg af… veral as ʼn mens nie sleep nie en die goeie teer van die N3 tussen Gauteng en Natal gaan trotseer.

Vir die langpad see toe kan ʼn mens nie vir ʼn beter reisgenoot as die E220d vra nie. Die uiters gemaklike taankleurige Nappa-leer-sitplekke gee ʼn weelderige gevoel aan die groot binneruim wat volgeprop is met bondels tegnologie.

Danksy ʼn magdom raak-kontroles op die stuurwiel kan die bestuurder vinnig en maklik verskeie funksies uitvoer deur skaars ʼn vinger te lig.

Danksy die E220d se lekker groot kattebak kon ons alles wat ons wou vir die week lange seevakansie inpak – daar was selfs genoeg plek vir al baba se speelgoed en benodighede. Nóg ʼn rede hoekom ʼn sedanmotor partykeer ʼn beter oplossing is as ʼn sportnutsvoertuig is eenvoudig die kattebak. Die E-klas se kattebak is 540 liter. Die GLE, Merc se sportnutsvoertuig, sʼn is 630 liter maar dit is egter tot teen die dak, en mens kan nie altyd só laai nie. Ek voel dus dat die sedanmotor se kattebak meer bruikbaar is as die sportnutsvoertuig sʼn.

Die Merc ry uiters gemaklik en dit is maklik om by tye te vergeet jy is in ʼn motor. Die ritgehalte is regtig goed en daar is genoeg krag om vinnig verby te steek of om die bulte te laat les opsê.

Die E220d spog met 143 kW en 400 Nm en 0 tot 100 km/h vat net 7,4 sekondes en hy sal aanhou snel tot op 235 km/h. Mercedes beweer 4,7 ℓ/100 km en op die lang oop pad is dit beslis haalbaar.

Aan die buitekant gee meer chroom, die “A-vormige” diamant-sierrooster, ʼn nuwe buffer, gesplete agterligte en ʼn nuwe bagasieruim-vorm, die E220d ‘n sportiewe voorkoms. Die groot digitale skerms, die jongste geslag MBUX-multimediastelsel met stembeheer, ʼn middelkonsole waar jy ook ʼn magdom funksies kan beheer en die AMG- vlekvrye staal-pedale, deurpanele en swart vloermatte voltooi die sportiewe voorkoms in die binneruim.

Kameras rondom die motor gee jou ʼn beeld van bo af as jy moet parkeer en op die oop pad is daar ook ʼn magdom veiligheidstelsels, soos die motor se spoed wat outomaties verminder word wanneer ʼn verkeersopeenhoping gewaar word en die bestuurder nie vinnig genoeg reageer nie.

Die luuksheid en krag kom egter teen ʼn prys – vanaf R984 000. Die enigste ander negatiewe punt is dat wanneer jy eers só motor gery het, anders alles middelmatig voel.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz E200 sedan Avantgarde145 kW/ 320 Nm7 ℓ/ 100 kmR927 680
Mercedes-Benz E220d sedan Avantgarde143 kW/ 400 Nm5,2 ℓ/ 100 kmR984 000
Mercedes-Benz E200 sedan AMG Line145 kW/ 320 Nm7 ℓ/ 100 kmR993 980
Mercedes-Benz E200 koepee AMG Line145 kW/ 320 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR1 044 040
Mercedes-Benz E220d sedan AMG Line143 kW/ 400 Nm5,2 ℓ/ 100 kmR1 054 500
Mercedes-Benz E300 koepee AMG Line190 kW/ 370 Nm7,3 ℓ/ 100 kmR1 139 280
Mercedes-Benz E200 afslaandak AMG Line145 kW/ 320 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR1 172 640
Mercedes-Benz E300 afslaandak AMG Line190 kW/ 370 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR1 268 000
Mercedes-AMG E53 4MATIC+ koepee320 kW/ 520 Nm8,8 ℓ/ 100 kmR1 630 600
Mercedes-AMG E53 4MATIC+ afslaandak320 kW/ 520 Nm8,9 ℓ/ 100 kmR1 768 960
Mercedes-AMG E63 S 4MATIC+ sedan450 kW/ 850 Nm11,6 ℓ/ 100 kmR2 436 440

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Volvo S90 D4 R-Design140 kW/ 400 Nm4,4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR918 200
Audi A6 40TDI sports S line140 kW/ 400 Nm5,2 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R960 500
Lexus ES 300h SE160 kW/ 221 Nm4,6 ℓ/ 100 km7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR983 300
BMW 520d M Sport140 kW/ 400 Nm5,2 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 049 696
Jaguar XF D200 R-Dynamic HSE150 kW/ 430 Nm4,4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 162 022

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Sjoe…. Lucas Maree se lied moet dalk verander na “Ek kan doen met ‘n biljoen?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.