Merc se suksesvolste model opgeknap

Mercedes-Benz se suksesvolste modelreeks is die E-klas. Mercedes-Benz het al meer as 14 miljoen E-klas-modelle verkoop. Dis fantasties. Ons sal die voorvader van die E-klas, die 190D Ponton wat in 1953 bekendgestel is, hier in Suid-Afrika goed onthou. Die model wat waarskynlik die E-klas op die wêreldkaart geplaas het is die W114/ 115… ons het klomp van hulle in Suid-Afrika verkoop, maar die kodenaam in Duitsland was Strich acht.

My stiefpa het twee W123 280’s gehad – handrat, sonder brandstofinspuiting. In my jong brein was ons regtig grênd met ons W123 280 en die Gypsey 3 agteraan gehak elke jaar met vakansie.

Die huidige reeks is die W213. Die jongste opknapping is nie net bolangs nie en is regtigwaar ʼn groot verbetering in terme van stilering.

Daar is drie bakstyle beskikbaar. Sedan, koepee en afslaandak. Daar is slegs drie enjins in die sedan beskikbaar… vir nou. Dis ʼn E200, viersilinderturbopetrol met 145 kW en 320 Nm. 0 – 100 km/h neem 7,4 sekondes en hy sal aanhou tot 240 km/h teen 6,5 ℓ/ 100 km. Die tweede model is die E220d viersilinderturbodiesel. Hy bied 143 kW en 400 Nm. Sy 0 – 100 km/h tyd is onveranderd van die E200, maar hy is skrams stadiger voluit teen 235 km/h. Hy bied wel ʼn reusebrandstofbesparing teen 4,7 ℓ/ 100 km. Dán kom die groot meneer. Die Mercedes-AMG E63 S. Hy het ʼn 4.0 dubbelturbo V8 met 450 kW en ʼn verstommende 850 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn belaglike 3,4 sekondes, en hy sal 300 km/h haal. Sy brandstofverbruik is 11,6 ℓ/ 100 km.

Ek het met almal gery, en ek moet sê, vir Jan Alleman is die E220d ʼn juweel op die pad. Hy is sag geveer, pragtig toegerus en heeltemal sterk genoeg terwyl hy fantastiese brandstofverbruik bied.

Die tweede bakstyl is die koepee. Daar is aanvanklik drie modelle beskikbaar. Dit is die E200, E300 en E53 4MATIC +. Die E200 bied 145 kW, 320 Nm en 6,6 ℓ/ 100 km met ʼn topspoed van 237 km/h. Die E300 bied 190 kW/ 370 Nm en 6,6 ℓ/ 100 km. Sy 0 – 100 km/h is heel ratser teen 6,4 sekondes, en sy fut is uit teen 250 km/h. Die warmste koepee is die Mercedes-AMG E53. Hy bied 320 kW en 520 Nm. 0 – 100 km/h neem 4,4 sekondes en hy is elektronies beperk tot 250 km/h. Die geluid wat hy bied is werklik mooi.

Die laaste bakstyl is die afslaandak. Ook drie modelle beskikbaar, naamlik die E200, die E300 en die E53 4MATIC+.

Met die reeks só bepaal dek Mercedes-Benz elke moontlik kliënt. Daar is intreemodelle, louwarm modelle, warm modelle en dan die vuurvretende E63 S. Om ʼn baan soos Zwartkops in Pretoria raak die pad bitter vinnig kort en nou. Die padhouvermoë van al die AMG-modelle is voorwaar indrukwekkend. Ek sou raai dat die E53 koepee in die kol is vir meeste kopers wat wan en dan daarvan hou om bietjie te jaag… maar daai 63 is verslawend.

Die reekse lyk só:

Mercedes-Benz E200 sedanR920 000
Mercedes-Benz E220d sedanR984 000
Mercedes-Benz E200 koepeeR1 036 000
Mercedes-Benz E300 koepeeR1 131 000
Mercedes-Benz E200 afslaandakR1 164 000
Mercedes-Benz E300 afslaandakR1 268 000
Mercedes-AMG E53 4MATIC+ koepeeR1 618 000
Mercedes-AMG E53 4MATIC+ afslaandakR1 756 000
Mercedes-AMG E63 S 4MATIC+ sedanR2 423 000

Ons sal weer met elkeen tyd deurbring en dán meer in diepte na elkeen kyk.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.