Mercedes-AMG se 4.0 BiTurbo V8 maak alles reg

Dit is vir party mense vreemd as ʼn motorjoernalis vir hulle sê dat een spesifieke model in ʼn reeks moontlik nie lekker is nie. Baie mense sê: “Hoe kan die 2.0 nie lekker wees nie as die 1.6 puik is?” Die antwoord is heel eenvoudig … dis kalibrasie.

Mercedes-Benz moet nou sy uiters suksesvolle AMG-been in gedagte hou as hy met ʼn konsep begin. ʼn Voertuig se vering en onderstel moet sterk genoeg wees om alle enjins en ratkaste te kan hanteer, dus kan ʼn GLE 300 voel of hy effens min krag het – nie omdat die enjin lig in die broek is nie, maar omdat die onderstel gekalibreer is om die atoombom van ʼn V8-enjin in die 63-weergawe te huisves.

Dit is geen geheim dat ek nie die grootste liefhebber is van ʼn sportnutsvoertuig met ʼn koepee-bakstyl nie. Ek sien nie die nut daarin om met ʼn praktiese sportnutsvoertuig enigsins ruimte in te boet nie. Nietemin is die Mercedes-AMG GLE 63 S ʼn meesterstuk met sy dowwe afwerking. Die binneruim is soos enige Merc rateltaai gebou en dit bevat al die truuks wat van die AMG ʼn lieflike reisgenoot maak.

Dit bring ons by die middelpunt van die AMG-heelal: die fantastiese 4.0-dubbelturbo-V8. Ek het al in ʼn berig geskryf dat dit moontlik een van die beste enjins ooit kan wees. Die 4.0 bied 450 kW en 850 Nm, en 0 km/h tot 100 km/h neem ʼn ratse 3,8 sekondes. Hy sal tot 280 km/h aanhou om voluit te snol. Dit is egter nie die hele storie nie – die V8 se brul laat jou in hoendervleis uitslaan.

Op die pad is die GLE 63S absoluut ʼn vuurpyl. Die ritgehalte kan soms effens styf voel, maar met soveel krag onder die kap het die vering baie werk om te doen.

Daar is ʼn puik nege lugsakke en ʼn magdom ander veiligheidstelsels om dinge in die GLE veilig te hou.

Dit is maklik om die AMG op te som. Dit is ʼn fantastiese sportnutsvoertuig. Die AMG-bomklapper onder die kap is onweerlegbaar. Ek persoonlik verkies die gewone SUV-bakstyl en nié die koepee nie. Dit is baie geld, maar vir diegene wat dit kan bekostig, kan die GLE 63S nie geïgnoreer word nie.

Die reeks lyk só:

Mercedes-AMG GLE53 4Matic+320 kW/520 Nm9.4 ℓ/100 km

 

R1 851 280
Mercedes-AMG GLE53 4Matic+ Koepee320 kW/520 Nm9.3 ℓ/100 km

 

R1 939 040
Mercedes-AMG GLE63 S 4Matic+450 kW/850 Nm12.4 ℓ/100 km

 

R2 907 440
Mercedes-AMG GLE63 S 4Matic+450 kW/850 Nm12.6 ℓ/100 km

 

R2 970 920

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Porsche Cayenne Turbo S e-hybrid Coupé500 kW/900 Nm3.9 ℓ/100 km

 

2 jaar/onbeperkte km-  voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

 

R3 043 000
BMW X6 M Competition460 kW/750 Nm12.5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R3 080 320

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Die BMW X6 competition se brandstof verbruik is slegs 3.9 l per 100 km? Dis wat my betref die mees uitstaande kenmerk van al hierdie buitensporige uiters duur vuurwaens.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Jack

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het per ongeluk die verkeerde syfer by die verkeerde motor gehad. Dit is wel die Porsche Cayenne wat 3.9l / 100 km kan bereik – weens die feit dat dit ‘n hibridiese dryfstelsel het. Jammer vir die oorsig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.