Mercedes-Benz C-klas: Klassieke ontwerp seëvier

Deur Bernie Hellberg jr.

Die Mercedes-Benz C-Klas is so deel van Suid-Afrika se motorgeskiedenis soos die Volla en die Toyota-bakkie. Ja, die C-Klas is ʼn nuweling vergeleke met dié ander ikone, maar dat hy oor méér as 20 jaar in die harte van duisende gekruip het, maak steeds van hom iets besonders. En as jy kyk hoeveel C-Klasse op ons paaie is, besef jy hoe diep.

Die eerste 190E “Baba Benz” wat in die 1990’s hier geland het, en bykans elke C-Klas-opvolger daarna, was ʼn reusesukses. Die C-Klas het, met tye, minder suksesvol verouder, en nie elke weergawe was noodwendig vir my ʼn gunsteling nie. Die vorige generasie het my ook nie veel aangestaan nie, en ek kan nie anders as om ʼn “tussen die boom en die bas”-gevoel vir hom te hê nie.

Die nuweling is egter iets besonders, wat ontwerp én tegnologiese vordering betref. Soms gee ʼn vervaardiger ʼn té groot sprong vorentoe, en soms is dit nie ver genoeg nie. Hierdie C-Klas is net reg.

Ek sukkel om ʼn spesifieke hoogtepunt van die motor se ontwerp uit te wys, maar die nuwe ligte en sierrooster is beslis boaan my lys. Ek hou ook van die “kajuit-na-agter”-posisionering – ʼn tipiese Mercedes-ontwerpeienskap – en die vloeiende skouerlyn wat die C-Klas ʼn dinamiese dog elegante karakter gee.

Wat die kajuit betref, kan Merc se ontwerpspanlede hulself ook ʼn klop op die skouer gee. Hoewel dit heel eenvoudig sou gewees het om ou kajuitontwerpidees wéér terug te bring, het Mercedes eerder besluit om die reeds puik tegnologie binne die kajuit aan te vul met netjiese ontwerp. Boonop is die kajuit uiters luuks soos mens van ʼn Mercedes verwag, en alles pas perfek tot op die millimeter.

Ek hou veral van die groot nuwe vertikale raakskerm, en hoe die instrumente effens na die bestuurder gedraai is. Dié hoëresolusieskerm is helder en die stelsel maklik om te gebruik, soos dit ʼn moderne tablet betaam.

Daar is ook ʼn nuwe vingerafdrukskandeerder wat gebruik word om verskillende bestuurders se voorkeure te onthou. Jy kan jou sitplekverstellings, gunstelingradiostasie en ander items só in die stelsel registreer.

Op die pad het die nuwe C-Klas ʼn heel ander persoonlikheid as amper enige van sy voorgangers. Voorheen het Mercedes die fokus op luuksheid en gemak geplaas, terwyl BMW en Audi eerder op werkverrigting gefokus het. Met dié C-Klas is daar beduidend méér dinamika in die onderstel, en méér woema in die tenk. Die twee modelle wat aanvanklik in Suid-Afrika beskikbaar is – die C200-petrol en C220-turbodiesel ­– word onderskeidelik deur ʼn 1.5 ℓ-viersilinder-petrol en ʼn 2.0 ℓ-diesel-viersilinder aangedryf, albei turbo-aangejaag.

Ek het met albei tydens die bekendstelling in die Kaapse Wynland gery, en verkies die hope méér wringkrag wat die diesel bied – 440 Nm teenoor 300 Nm van die petrol. Boonop is die C220d lekker suinig met die sous, en behoort jy weg te kom met net so duskant 5,0 ℓ/100 km in normale omstandighede. Amptelik reken Mercedes dat die C220d maar slegs 4,4 ℓ/100 km kan gebruik. Deels help die seepgladde Mercedes-negespoed-ratkas om brandstofverbruik laag te hou, terwyl dit ook verantwoordelik is vir die flinke wisseling van hierdie ratkas waarvoor Mercedes homself ook gerus op die skouer kan klop.

Die C-Klas het ʼn spesiale plek in ons land se motorgeskiedenis, en hoewel die sedansegment aan’t kwyn is, bly daar verskeie redes hoekom die C-Klas sin maak as luukse gesinsmotor. Uitstekende bougehalte, byderwetse stilering, moderne tegnologie, asook die feit dat hy met trots in Suid-Afrika gebou word, is slegs ʼn handvol daarvan.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz C200150 kW/300 Nm6,6 ℓ/100 kmR849 000
Mercedes-Benz C220d147 kW/440 Nm4,6 ℓ/100 kmR908 500

Ons sal weer tyd met die C-klas deurbring om te bepaal hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

My geldjies elke maand het ook nie ‘n groot sprong vorentoe gegee nie, maar lyk na ‘n lekker motor. Sal sien of ek darem een of ander tyd iewers agter die stuurwiel kan sit en se vroom vroom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.