Mercedes-Benz se baba-G

Ons het verlede jaar tyd met Mercedes-Benz se GLB250, ʼn kleiner sportnuts wat tussen hul GLA en GLC inpas, deurgebring. Hy bied drie rye sitplekke, ʼn totaal van sewe. Daar is twee enjins beskikbaar – ʼn 2.0‑turbopetrol en ʼn 2.0‑turbodiesel. Albei maak gebruik van Mercedes-Benz se 8-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Die petrol geniet voorwielaandrywing en die diesel Merc se 4Matic-vierwielaandrywingstelsel.

Ek het in my vorige berig gesê dat ek dink die diesel die beter opsie sal wees. Noudat ek die twee direk na mekaar onder hande gehad het, kan ek bevestig dat ek reg was. Die diesel pas beter by die karakter van die voertuig, bied baie beter brandstofverbruik, en die 4Matic-dryfstelsel het glad nie die wringkragstuur wat die 250 het nie – en sal baie beter vaar sodra mens die teerpad verlaat.

Die ontwerp van die GLB is vir my lekker vierkantig. Dit is asof hy die oorspronklike G-klas wil na‑aap. Dit is geensins ʼn slegte ding nie. Aan die binneruim sit sewe sitplekke en Mercedes-Benz se pragtige skerms. Een raakskerm vir die inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied – of hul eie MBUX‑stelsel. Die ander skerm wys al die instrumente en kan omtrent aangepas word presies na jou eie smaak.

Op die pad toer die diesel heerlik. Ons het 6,2 ℓ/100 km gehandhaaf in die diesel – en slegs 9,2 in die petrol. Ek en Willem van IOL het besluit ons moet die derde ry sitplekke uittoets. Ek het my agter ingewurm, en Willem in die tweede ry. Ek hoor hoe verskeie mense sê dit is té klein. Ek besit self ʼn sewesitplekvoertuig. Ons het die kar al sewe jaar en het seker al so 30 keer die sesde en sewende sitplekke gebruik. Já, dit is knap, maar wanneer jy dit nodig het, is dit daar. Daar sit ook nooit volwassenes daar nie; so die spasie pla glad nie.

Mercedes sê vir ons dat daar ʼn lekker model in die GLB-reeks vanjaar bygevoeg sal word in die vorm van ʼn Mercedes-AMG GLB35. Hy sal 225 kW en vierwielaandrywing bied en 0‑100 km/h bereik in net vyf sekondes. Eers dog ek – sjoe, hoekom? Toe is ons met die 220 en 250 Zwartkops toe saam die AMG Driving Academy om ʼn paar noodstoppe en baanwisselings te doen. Die GLB se padhouvermoë is fantasties en hy sal beslis sy man kan staan teen daai krag.

As ek moet krap, sal ek sê die binneruim se materiale van die GLB is eerder duursaam as luuks; seker oor die sewe sitplekke om beter teen kindertjies bestand te wees, maar dit voel effens vreemd in ʼn Mercedes wat byna R1 miljoen kos. Ek sal egter die GLB só opsom – dis ʼn pragtige motor én prakties. Dit is duur, maar dit bly ʼn Mercedes. Indien jy in die mark is vir ʼn luukse sewesitplekvoertuig wat nie enorm groot is nie, gaan kyk beslis na die GLB.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLB250165 kW/350 Nm7,4 ℓ/100 kmR918 537
Mercedes-Benz GLB220d 4Matic140 kW/400 Nm5,5 ℓ/100 kmR925 438
Mercedes-Benz GLB250 AMG Line165 kW/350 Nm7,4 ℓ/100 kmR956 537
Mercedes-Benz GLB220d 4Matic AMG Line140 kW/400 Nm5,5 ℓ/100 kmR963 438

Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar/onbeperkte km-waarborg en ’n vyf jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Peugeot 5008 1.6T GT121 kW/240 Nm7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en ‑diensplanR719 900
Volkswagen Tiguan Allspace 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8,6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R798 000
Land Rover Discovery Sport D200 Urban Edition147 kW/430 Nm6,1 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 048 119

Ek het slegs mededingers met sewe sitplekke en turboaangejaagde enjins hier gelys. Elkeen het ʼn sterk punt. Ek sou wel óf die Merc óf die Landy kies. Gaan toetsbestuur almal en besluit self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Barend ·

Ek het hom op die pad gesien en dadelik gedink hy is oulik. Maar so baie sitplekke? Nie vir my nie dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.