Mercedes-Benz V300d – die perfekte vakansiegenoot?

Deur Christo Brits

Ons lang beplande vakansie het uiteindelik aangebreek. Alles is noukeurig beplan. Ons bly in ʼn Engelse herehuis op ʼn 10 hektaar‑plot, met ons eie privaat strand, weg van die stad se geraas en natuurlik weg van die koronavirus!

Die gholfstokke is ingepak, want mens kan nie KwaZulu-Natal toe gaan en nie gholf speel nie.  Swemklere, winterklere, speelklere, kos en alles wat ons vir hierdie vakansie nodig het, pas maklik in die Mercedes-Benz V300d. Om die passasiers en bagasie te laai is ʼn fees met die skuif- en kattebakdeure wat met die druk van ’n knoppie oop- en toemaak.

Ons gaan laai vir ouma en oupa in Carletonville op, want ses grootmense met bagasie pas gemaklik in ʼn bus. Op pad word ons beïndruk met die bekerhouers wat warm én koud maak. Mamma se koffie word warm gehou, terwyl boetie daarop aandring dat sy koeldrank koud moet wees. Ons almal het sitplekverwarmers en sit heerlik warm terwyl ons die son sien opkom.

Ons ry op ʼn Maandag, maar nie enige Maandag nie – daardie Maandag! Natal brand en die paaie word toegemaak. By Harrismith besluit ons om die Bergville-roete te neem. Die is ook toe en ʼn vriend raai ons aan om Ladysmith om te ry. “Ry net Verkykerskop toe,” sê hy.

Na drie ure se op en af neem ons die besluit om om te draai en in Bethlehem te gaan oornag. Daar sal ons die situasie dophou en dán besluit waarheen. Al die paaie is toe.

Hartverskeurend neem ons twee dae later die besluit. Die see gaan ons nie die jaar sien nie. Elke wolk het ʼn silwer randjie en ons vakansie verander in ʼn lekker sloertoer. Met hierdie Mercedes wil mens net ry en ry en ry. Die binneruim van die V-Klas is uiters indrukwekkend en hiperluuks. Al die foefies verseker dat mens nie moeg word nie. Elke keer as ons stop, ruil die familie om want almal wil ook voor in die stuurkajuit sit. Elkeen programmeer die sitplekke en dit skuif noukeurig terug na die instellings wat vroeër gemaak is.

Die passasier is in beheer van die musiek en ons luister van rock tot opera. Almal merk op hoe suiwer die klankstelsel se gehalte is. Die kinders geniet die eettafeltjies terdeë wat jou laat voel asof jy in ʼn vliegtuig is! Mamma sit doodstil agter in ʼn hoekie. Daar is genoeg beenruimte en plek vir die reusekombers wat sy besig is om te hekel.

Ons draai anderkant Vaalwater terug, na ʼn wonderlike vier dae op vriende se jagplaas. Na 1 976 km is ek verstom met die dieselverbruik. Byna 11 km per liter, teen 120 km/h is hierdie voertuig nog ekonomies ook. Die aanpasbare spoedkontrole werk fantasties en verminder self spoed om ʼn veilige volgafstand te handhaaf van die motor voor jou.

Wat sal my bybly van die vakansie? Seker nie die onluste in KwaZulu-Natal nie, maar wel die V300d.

Ek glo nie mens kan die Mercedes-Benz V300d met enige ander voertuig vergelyk nie. Die ontwerp, binneruim, gehalte en luuksheid is uit die boonste rakke. Ek sukkel ook om aan ʼn taak te dink (behalwe dalk hooibale laai) waar die V300d nie ʼn byna perfekte oplossing bied nie. Sloertoer, winkels toe of kinders skool toe neem – die V300d eet die myle op.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz V200d100 kW/330 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 055 330
Mercedes-Benz V220d120 kW/380 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 103 389
Mercedes-Benz V200d AMG Line100 kW/330 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 129 055
Mercedes-Benz V220d AMG Line120 kW/380 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 177 114
Mercedes-Benz V250d140 kW/440 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 186 757
Mercedes-Benz V250d AMG Line140 kW/440 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 260 482
Mercedes-Benz V220d Avantgarde120 kW/380 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 441 172
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 492 746
Mercedes-Benz V220d Avantgarde AMG Line120 kW/380 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 499 104
Mercedes-Benz V250d Avantgarde AMG Line140 kW/440 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 550 678
Mercedes-Benz V300d Avantgarde176 kW/500 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 554 204
Mercedes-Benz V300d Avantgarde AMG Line176 kW/500 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 635 183
Mercedes-Benz V300d Exclusive176 kW/500 Nm8,8 ℓ/100 kmR1 799 060

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.0 SiT SWB Limited outo136 kW/415 Nm6,7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑diensplan

R763 200
Kia Grand Sedona 2.2CRDi SXL147 kW/440 Nm8 ℓ/ 100 km5 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑diensplan

R945 995
Toyota Quantum VX 2.8 Premium115 kW/420 Nm8,7 ℓ/ 100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

9‑dienste‑diensplan

R1 026 800
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI 146kW Highline 4Motion146 kW/450 Nm8,2 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/60 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 230 100

Tussen dié mededingers is daar min wat by die luuksheid van die V-klas kom. Sy prys is egter aan die wilde kant. Indien jy in die mark vir ʼn bussie vir jou gesin is, gaan toetsbestuur almal; jy ontdek dalk ʼn juweel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Teen daardie prys moet die bus nie net koffie warm en bier koud hou nie, dit moet die koffie maak en die bier brou ook. Bodemloos.

Andries ·

Die Rand het darem Monopoly-geld geword as dit is wat ‘n bussie kos. Maar nou ja – ek kom, uit die dae toe minder as R10 000 ‘n kar gekoop het en minder as R20 000 het ‘n vragmotor gekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.