Met vyf deure word Jimny veelsydige veldwa

Deur Martin Pretorius

Die Suzuki Jimny se gewildheid is ewe veel te danke aan sy uitstekende veldry-vermoëns as aan sy vriendelike persoonlikheid en relatiewe bekostigbaarheid.

Selfs sy grootste aanhangers sou egter moes toegee dat hierdie bosbuksie tot dusver ʼn paar groot tekortkominge had, veral sover dit sy praktiese eienskappe en rygerief betref.

Hierdie tekortkominge is almal newe-effekte van die driedeur-Jimny se piepklein bakwerk, want sommige modelle word in Japan as mikro-motors verkoop. Dit is alles vergeefbaar omdat hy so bekwaam is waar die teerpad eindig, maar doen nietemin afbreuk aan die Jimny se aanloklikheid vir mense wat meer as net ʼn oulike enige-pad-speelding benodig.

Om hierdie nadele te pak, het Suzuki besluit om die Jimny se asafstand met 340 mm te rek, en dan daardie ekstra lengte te gebruik om sy kajuit en laairuim meer bruikbaar te maak. Daar is nou plek vir twee grootmense om gemaklik op die agterste sitbank te pas, en sy bagasieruim groei van ʼn lagwekkende 85 liter tot ʼn veel meer praktiese 211 liter.

Hoe beïnvloed ekstra lengte Jimny se vaardigheid?

Alhoewel sy voor- en agterasse nou heelwat verder van mekaar af geplaas is, steek daar net so min bakwerk voor en agter die asse uit as met die driedeur-model. Dit beteken dat hy nog steeds ʼn naderingshoek van 37 grade onder sy voorbuffer het, en dat die driedeur se vertrekhoek van 49 grade ook oordra na die vyfdeur-bakwerk se agterent.

Die enigste negatiewe punt is dat sy breekhoek krimp van 28 tot 24 grade, maar dit behoort net te pla in baie ernstige veldry-toestande. Hierdie teorie kon ongelukkig nie vir hierdie verslag in die bos getoets word nie omdat uitermate swaar reën by die toetsbaan gelei het tot meer modder as wat ons toets-Jimny se Bridgestone Dueler H/T-bande kon hanteer. Knopperiger bande is beslis iets waarin ernstige Jimny-eienaars sal belê.

Die kleiner breekhoek is egter ʼn geringe prys om te betaal vir die dinamiese verbeteringe wat die langer asafstand elders meebring. Die vyfdeur se ritgehalte is veel gladder as die driedeur s’n, en dit word verder aangehelp deur hersiene vering en die vyfdeur-bakwerk se 105 kg bykomende gewig. Hy skommel nou net oor spoedhobbels en deur slaggate, eerder as om, soos die driedeur, die hele baan vol te hop.

Maar die ekstra lengte se grootste verbetering word gevind op die snelweg, waar die vyfdeur-Jimny aansienlik meer rigtingvas is as die kleintjie, en ook minder vatbaar vir dwarswinde is. Hy is ook veel meer stabiel wanneer die bestuurder skielik van rigting moet verander, alhoewel hy steeds nie gemaklik is met vinnige draaie nie.

Identiese enjin en ratkas

Die vyfdeur-Jimny gebruik dieselfde 1.5 liter-viersilinderpetrolenjin as die driedeur-model, en bied dieselfde keuse tussen ʼn vyfspoedhandrat en ʼn vierspoed‑ outomatiese ratkas. Die ekstra gewig sal ʼn vyfdeur-Jimny met die outomatiese opsie beslis stadiger maak, maar die handrat-variante presteer min of meer dieselfde met albei bakwerke.

Hy is steeds nie vinnig nie, want 77 kW en 130 Nm is maar min krag om 1 545 kg mee voort te stu, veral met die Jimny se blokkerige profiel en regop voorruit wat enige aërodinamiese doeltreffendheid vernietig. Sy hoekige vorm lei egter nie tot ʼn groot brandstofdors nie, want, selfs met die lugversorging voluit oopgedraai en ʼn swaar regtervoet, het hierdie toetsmotor volstrek geweier om meer as 8,1 liter/100 km te drink.

Eenvoudige, funksionele kajuit

Behalwe vir die ekstra kajuitruimte, het die driedeur- en vyfdeur-Jimny identiese binneruime. Harde plastiek word oral gebruik, maar alles is deeglik vasgeskroef so kraak-en-ratel-geluide is heeltemal afwesig. Bowenal is daar genoeg oulike ontwerp-detail, soos die fop-boutkoppe om die instrumente, om die Jimny se kajuit interessant te hou.

Ons toetsmotor was toegerus met die GLX-spesifikasievlak, wat geriefsitems soos outomatiese lugversorging, ʼn leer-oorgetrekte stuurwiel, en groter raakskerm byvoeg. Nog belangriker is die aantal lugsakke, waarvan die GLX met ses kan spog teenoor die intreevlak GL se twee, en LED-kopligte teenoor die GL se halogeen-lampe. Alle vyfdeur-Jimny’s beskik wel oor elektroniese stabiliteitsbeheer, ABS-remme, agterste parkeersensors en ʼn truratkamera, so die basiese veiligheidstoerusting is aanvaarbaar regdeur die modelreeks.

Vriendskap en samesyn

Selfs met al sy praktiese voordele en ekstra gemak op die pad is die vyfdeur-Jimny steeds ʼn vriendelike rakker, nes sy kleinboetie. Alle toeskouers glimlag breed as hulle een sien, en ander Jimny-bestuurders flikker hul ligte as hulle ʼn mede-entoesias sien aankom. As daardie bestuurders persoonlik ontmoet, word telefoonnommers en reisverhale ewe gretig uitgeruil, en sodoende is daar al tallose nuwe vriendskappe gesmee met die vrolike klein Suzuki as hoeksteen.

Dit is waaroor die Jimny-ervaring werklik gaan: Benewens hulle veldry-vernuf, help ʼn Jimny sy eienaar om samehorigheid met ander entoesiaste te geniet, en teen ʼn billike prys ook. Weinig ander voertuie geniet sulke wye en lojale aanhang, en daardie ekstra twee deure maak net die opening vir hierdie kameraadskap groter oop.

Die 5-deur Suzuki Jimny reeks lyk só:

1.5 GL AllGrip 5-gang handratR429 900
1.5 GLX AllGrip 5-gang handratR457 900
1.5 GLX AllGrip 4-gang outomatiesR479 900

Hierdie pryse sluit ʼn waarborg vir 5 jaar of 200 000 km in, sowel as ʼn diensplan vir 4 jaar of 60 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Met ‘n veelsydige prys ook! Nee dankie maar daai dingetie is hopeloos te klein

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.