Minder geld maar steeds pure GTI

Volkswagen se Polo is uiters gewild in Suid-Afrika maar sy GTI-weergawe kon nog nooit werklik kers vashou vir sy grootboet, die Golf GTI, nie.

Die Golf GTI was waarskynlik die voorvader van die warm luikrug in Suid-Afrika in die tagtigerjare – maar alles het sedertdien aanbeweeg, veral die pryse.

ʼn Nuwe Golf GTI sal jou R689 800 uit die sak jaag! Dit is heeltemal aan die verkeerde kant van ʼn halfmiljoen. Die Polo GTI is egter joune teen R494 600 – dit is R200 000 minder vir ʼn steeds egte GTI.

Mense sê dalk dat hulle ʼn groter voertuig as ʼn Polo wil hê, maar die nuwe Polo is groter as wat die Golf III was. Sy verpakking het nou werklik slim geraak en die voertuig voel lekker ruim, veral vir voorste passasiers. Ek is nie heeltemal gek oor die Polo se ontwerp nie – maar die agterkant se nuwe ligte is ʼn mooi verbetering, en die bougehalte en binneruim is uiters puik.

Die binneruim is bedek met luukse materiale, ʼn sagte plastiek paneelbord, ʼn lieflike raakskerminligtingstelsel en digitale instrumente wat aangepas kan word om die inligting te vertoon soos jy dit verkies. Die feit dat daar nog ʼn volumeknoppie is, en fisieke knoppies is vir dinge soos vastrapbeheer en dies meer is ʼn reusevoordeel bó die nuwer Golf se digitale kajuit wat nie gebruikersvriendelik is nie.

Onder die kap sit ʼn lekker 2.0 viersilinderturbopetrolenjin wat 147 kW en 320 Nm bied. Net soveel kW soos die Golf V GTI, maar 40 Nm meer. Die Polo maak gebruik van ʼn 6-spoed DSG- dubbelkoppelaar outomatiese ratkas met lanseerbeheer. Dit beteken dat hy van stilstand tot 100 km/h sal spring in 6,7 sekondes – net 0,3 sekondes stadiger as die R200 000-duurder Golf GTI. Die Polo is ook maar net 12 km/h stadiger met 238 km/h teenoor die Golf se 250 km/h.

Aan die veiligheidskant het die nuwer Polo Volkswagen se volle suite van veiligheidstelsels wat aktiewe stelsels insluit soos blindekolwaarskuwing, baanbeheer, botsingwaarskuwing én noodremhulp. Aan die passiewe kant is daar ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en vastrap- en- stabiliteitsbeheer.

Die Polo GTI is vir my nou vir die eerste keer werklik ʼn alternatief vir die Golf. Hy is mooi met ʼn puik binneruim en genoeg ruimte. Hy is blitsig met padhouvermoë wat verstom in dié segment. Wanneer ʼn mens sag werk met hom is hy lekker lig op brandstof – en met al die truuks voel dit soos ʼn luukse voertuig. Vir diegene wat graag iets warmer wil hê in plaas van ʼn gewone buksie, is die Polo GTI in die kol.

Volkswagen se GTI’s lyk só:

Volkswagen Polo GTI147 kW/ 320 Nm6,4 ℓ/100 km0 – 100 km/h in 6,7 sek

Topspoed 238 km/h

3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R494 600
Volkswagen Golf GTI180 kW/ 370 Nm7 ℓ/100 km0 – 100 km/h in 6,4 sek

Topspoed 250 km/h

3 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R689 800

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Swift 1.4T Sport outo103 kW/ 230 Nm6,1 ℓ/100 km0 – 100 km/h in 8 sek

Topspoed 205 km/h

5 jaar/200 000 km waarborg

4 jaar/60 000 km diensplan

R382 900
Mini Cooper S 5-deur141 kW/ 280 Nm6 ℓ/100 km0 – 100 km/h in 6,8 sek

Topspoed 235 km/h

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingplan

R593 524
Toyota GR Yaris 1.6T GR-Four198 kW/ 360 Nm7,6 ℓ/100 km0 – 100 km/h in 5,5 sek

Topspoed 230 km/h

3 jaar/100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R640 00

Nie een van dié mededingers is werklik ʼn direkte mededinger vir die Polo nie. Die Swift kom seker die naaste in terme van grootte, maar die Polo het ʼn hoër spesifikasie en meer krag. Die Mini is gelyk op krag, maar baie duurder en heelwat kleiner in binneruim. Die Yaris is meer ʼn Golf GTI-mededinger en het slegs drie deure én is heelwat duurder – maar dié vyf is tans die enigste warm luikrûe op die mark in Suid-Afrika. Die Polo GTI tref die beste balans tussen prys, verrigting en grootte. Gaan toetsbestuur beslis een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Klein karretjies soos die is net die regte ding vir stadsverkeer. Ek het jare gelede in die Kaapse middestand gewerk en nog met ‘n Opel Corsa Lite rondgery. Jy kon hom in enige klein parkeerplekkie inwerk, en eendag het ‘n ou my vasparkeer in een van daai simpel tandem-parkerings. Ek het dit reggekry om hom te maneuvre tot ek kon omdraai en uitry aan die een kant van die parkering, tussen twee pilare. Iets wat jy nie met ‘n Golf GTI of groter sal regkry nie. My ma ry nou met daar kar maar ek sal altyd ‘n sagte plekkie he vir ‘n klein luikrug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.