Die Mini is sinoniem met pret – ʼn stylvolle klein blitsbuksie met hope karakter. In die laaste weergawe het die ontwerp van die driedeur, vyfdeur en afslaandak effens fiemiesrig geraak. Nie lelik nie, maar asof daar elemente is wat nie daar hoort nie. Kyk ek sal byvoeg, ek weet niks van ontwerp af nie, maar ek het geweet hy kan beter lyk.
Met die jongste opknapping het Mini ʼn plan met daai fiemies gesien. Die lyne en ontwerp van al drie modelle is effens skoongemaak. Van die chroom is verwyder – nou lyk die Cooper asof hy ʼn oulike haarsny gehad het… nou’s hy weer mooi.
Die binneruim voel steeds soos dieselfde motor, maar die onnodige visuele tierlantyntjies is verwyder en die binneruim is ʼn aangenamer plek om tyd in deur te bring as gevolg daarvan. Die nuwe raakskerminligtingstelsel werk puik, veral as dit met Android Auto en Apple CarPlay toegerus is.
Ek het een enkele probleem. My lyf is nie meer so mini nie; die sitplek voel dus aanvanklik effens knap, maar ná so ʼn halfuur is jy gemaklik. Ons het onlangs by Perdekrag ʼn video gemaak met die Cooper SE. Ek’t daar gekla oor die knap binneruim, maar eerste aan die beurt met die bekendstelling was die vierdeur‑luikrugmodel. Hy is werklik beter en ʼn mens sal selfs passasiers agter kan inlaai.
Op die pad beïndruk die nuutste Cooper S. Hy maak gebruik van BMW se 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin wat 141 kW en 280 Nm bied. Die enjin is nou gepaard aan ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaarratkas. Hy snol tot 100 km/h in 6,8 sekondes, en sal aanhou tot 235 km/h. Indrukwekkend.
Die gewone Cooper, sonder die S, maak gebruik van BMW se 1.5‑driesilinderturbopetrolenjin. Hy bied 100 kW en 220 Nm. Lekker sterk. Hy gebruik dieselfde ratkas en kan van 0‑100 km/h snol in 8,1 sekondes en sal 210 km/h haal voluit. Indrukwekkend vir ʼn 3-silinder.
Op die pad het die vierdeur‑Cooper S gemakliker gevoel as die tweedeur‑Cooper. Dit kan moontlik wiel- en bandgroottes wees wat verskil, óf eenvoudig bande wat dalk te hard gepomp is. Vanuit ʼn veiligheidsoogpunt is die Mini’s vol geprop. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding, remhulp, vastrap- en stabiliteitsbeheer – de lot.
Dit is maklik om die reeks op te som. Daar is nou ʼn Mini vir elke smaak. Daar is die intreemodel, die One. Dan is daar die drie- en vyfdeur, én die John Cooper Works-weergawes met nóg meer krag. ʼn Mens moet ook nie die SE- elektriese weergawe vergeet nie. Indien jy in die mark is, gaan toetsbestuur beslis ʼn Mini, dis hope pret.
Die reeks lyk só:
Mini One Hatch; driedeur | 75 kW/190 Nm | 5,6 l/100 km | R424 554 |
Mini One Hatch; vyfdeur | 75 kW/190 Nm | 5,7 l/100 km | R434 968 |
Mini Cooper Hatch; driedeur | 100 kW/220 Nm | 5,6 l/100 km | R489 654 |
Mini Cooper Hatch; vyfdeur | 100 kW/220 Nm | 5,7 l/100 km | R500 068 |
Mini Cooper S Hatch; driedeur | 141 kW/280 Nm | 6 l/100 km | R564 058 |
Mini Cooper S Hatch; vyfdeur | 141 kW/280 Nm | 6 l/100 km | R574 058 |
Mini John Cooper Works Hatch; driedeur | 170 kW/320 Nm | 6,3 l/100 km | R668 124 |
Mini Cooper SE Hatch; driedeur | 135 kW/270 Nm | 17,5 kWh/100 km | R686 400 |
Mini Cooper SE Hatch Collection 2021; driedeur | 135 kW/270 Nm | 17,5 kWh/100 km | R729 900 |
Mini John Cooper Works GP | 225 kW/450 Nm | 7,5 l 100 km | R809 488 |
Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar/onbeperkte km‑waarborg en vyf jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.
Dis jammer die Mini is nie meer ‘n mini nie-te groot geword. Indien hy die grootte van bv ‘n VW UP was-nader aan sy oorspronklike grootte – sou BMW 3 maal meer van hulle verkoop het