Mitsubishi Mirage – oulike nuweling

Mitsubishi Mirage Foto: Mitsubishi

Mitsubishi Mirage Foto: Mitsubishi

‘n Mens moet die Mitsubishi-afdeling van Associated Motor Holdings bewonder vir die waagmoed om ‘n klein (1.2-liter 3-silinder) intreevlakmotor op die Hoëveld bekend te stel.

Dis alombekend dat ‘n voertuig sonder turbo tot 17% van sy krag teen 1 600 meter bo seevlak inboet. Effektief word hierdie Mitsubishi nuweling se 57 kW kraglewering dus tot ‘n beskeie 43 kW afgeskaal. Nogtans het dit nie soos ‘n rampspoedige saak van lewe en dood gevoel nie, en het die klein Mirage maklik op die N3 by die res van die verkeer gebly. Toegegee, daar moet gereeld met die 5-gang handskakelratkas gewerk word om die beste uit die Mirage te haal en, soos die meeste van sy mededingers, is dit eintlik ‘n tipiese stadsmotor eerder as ‘n langpad-vervoermiddel.

Ek sou nie graag met die Mirage in een dag Kaap toe wou ry nie, maar daar is heelwat pluspunte wat so ‘n tog (oor twee dae) ‘n redelik aangename ervaring sal maak.

Nie die minste hiervan nie is die skitterende brandstofverbruik van net oor die 5-liter/100 kilometers. Dis is dus heel moontlik om ‘n reikafstand van 700 kilometers uit die beskeie klein 35-liter tenk te wurg.

Die goed gevormde sitplekke en die doeltreffende lugversorging (met stuifmeelfilter) sal ook help om die langpad korter te maak, terwyl die USB-sok daarvoor sal sorg dat items soos selfone gelaai bly. Verder word langer ritte ook meer aangenaam gemaak deur ‘n goeie klankstelsel (FM radio en voorlaaier CD), hoogverstelbare bestuurdersitplek, verstelbare stuurwiel (op en af) en ‘n volgrootte noodwiel – vir daardie ‘middel van nêrens’ dramas wanneer ons slegte paaie sy tol eis.

Volgens Wynand Pretorius, Mitsubishi bestuurshoof en oud-Affie, word die Mirage op drie modelvlakke bemark. Die intreevlak GL sal R124 900 kos, die middelvlak GLX is R134 900, terwyl die duurste model, die top-spesifikasie GLS R144 900 sal kos.

Maar die uniekste waardetoevoeging tot die nuwe Mirage-reeks lê sekerlik in die een jaar versekeringsdekking wat by die prys ingesluit is. Dis ‘n dapper stap, want die Mirage sal waarskynlik gekoop word deur jonger mense wat in die 18-25 jaar versekeringsgevaarsone beweeg.

Veiligheidskenmerke sluit in twee lugsakke en ABS-remme met EBD-hulp en Mitsubishi se bekende versterkte kajuit om die insittendes in die geval van ‘n botsing te beskerm.

Na my mening is al hierdie ingeboude veiligheidskenmerke van uiterste belang wanneer in gedagte gehou word dat die Mirage net 825 kg weeg.

Soos die meeste van sy mededingers in die A-segment intreevlak, bied die Mirage nie juis buitengewone pakplek nie, maar kan die agterste sitplekke tog platgeslaan word.

Die korterige bekendstellingsrit het darem uitgewys dat die Mirage behoorlik rigtingvas is, en dat die 3-silinder met sy dubbele kop-nokaste darem saam met die res van die verkeer kan draf. Die ietwat aweregse gegrom van hierdie 3-silinder laat ‘n mens darem onwillekeurig na oorle’ Ouma se Daihatsu Charade terugverlang.

Opsommend
Die Mitsubishi Mirage speel in ‘n taai marksegment, waar opponente soos die Kia Picanto, Toyota Etios en Ford Figo meeding. In die Mirage se guns tel egter Mitsubishi se uitstekende reputasie as die bouers van taai en betroubare enjins, briljante brandstofverbruik en ‘n CO2-telling van slegs 115 gm/km wat meebring dat die regime hier ‘n verdere belastingshap ontsê word.

Die 3-jaar/100 000 km waarborg en ‘n 2-jaar/30 000 km diensplan (twee besoeke aan die handelaar) is ‘n verdere bewys van die invoerder se vertroue in hulle produk.

Na my mening behoort die Mitsubishi Mirage redelik goed te doen in die mark en behoort maandelikse verkope vir hierdie nuweling in die orde van 60-70 eenhede te wees – afhangende van die beskikbaarheid van hierdie oulike klein knaap uit Thailand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.