Mitsubishi Pajero ‘n wenner

Mitsubishi Pajero Foto: Bernard K Hellberg

Mitsubishi Pajero Foto: Bernard K Hellberg

Maroela Motors was onlangs bevoorreg om Mitsubishi SA se gaste te wees tydens ‘n naweek-wegbreek by Misty Mountain-oord aan die suidoostelike kant van die Long Tom-pas 31 kilometer van Lydenburg af.

Ons groep joernaliste se reis het begin by Mitsubishi se hoofkantoor in Pomona aan die Oos-Rand waar die opgekikkerde langbak Pajero se eienskappe uitgewys is.

Aan die woord was Wynand Pretorius, bedryfshoof vir Mitsubishi SA, wat gewys het op die nuwe Pajero se uitstekende waarde-geld-aanbieding en die 2015-model se verbeteringe soos LED-dagryligte en ‘n herontwerpte voorste buffer wat hierdie ikoniese Dakar-wenner (12 titels) nog meer aantreklik vir die kopersmark maak.

Teen ‘n aanbevole prys van R569 900 vir die intreevlakmodel skop die 2015 Pajero stof in die oë van sy mededingers wat soveel as R750 000 kos.

Tradisioneel was die Pajero nog altyd bekend as ‘n taai veldvoertuig, maar wat werklik verras het was die teerpadrit van Pomona tot by Misty Mountain waar die stil en beskaafde binneruim teen 120 km/h beïndruk het, asook die brandstofverbruik van 29.5 liters op die totale afstand van 320 kilometers. Vir ‘n kragtige (140 kW) 3.2-liter enjin wat 441 Nm teen ‘n lae 2 000 omwentelinge per minuut optower, is die 9.2 liters/100 km uitstekende nuus vir mense wat voortdurend ‘n ogie op die beursie moet hou.

Hierdie krag is gekoppel aan ‘n 5-gang outomatiese ratkas, terwyl die enjin self in staat is om op 500 dpm diesel te loop wanneer 50 dpm nie beskikbaar is nie.

Koddig soos dit mag klink is die hart van die Pajero, na my mening, geleë in sy agtervering – ʼn volledig onafhanklik stelsel wat tydens die Dakar-veltog ontwikkel en vervolmaak is. Dit is juis hierdie onafhanklike veerstelsel wat die Pajero in staat stel om hom op teer soos ‘n passasiersmotor te gedra en terselfdertyd die mees uitdagende 4×4-roete aan te durf en te oorwin.

Die 18″-wiele op die langbak GLS Exceed het juis die patetiese stuk pad tussen Dullstroom en Lydenburg met gemak getroef – om nie eers van Lydenburg se sogenaamde hoofstraat te praat nie, terwyl die goed gevormde voorste sitplekke bestuurder en passasier op hul plekke gehou het. Hierdie ontwerp is veral nuttig wanneer daar teen relatief hoë snelhede deur die Long Tom-pas se vele draaie en kinkels geswiep word.

Hierdie topmodel verhandel teen R659 900 en bied ‘n verstommend lang lys veiligheids- en luukse kenmerke soos aktiewe stabiliteits- en vastrapbeheer, elektries verstelbare voorste sitplekke, leerbekleedsel, verhitte voorste sitplekke en selfs ‘n multi-inligtingstelsel wat brandstofverbruik aandui, asook gemiddelde snelheid, buite temperatuur, kompas, hoogtemeter en die tenkreikafstand wat oor is na die volgende volmaakplek.

Opsommend
Die Pajero 3.2-liter langbak GLS Exceed het moeitevry die taaiste uitdagings in die plantasies van die Long Tom-pas oorwin – selfs wanneer kantspieëls teruggevou moes word en daar letterlik net 15 mm spasie weerskante beskikbaar was.

Die Mitsubishi Pajero 3.2 turbodiesel is ‘n legendariese en begeerlike voertuig wat aansienlik beter verkope verdien. Die handelsnaam was aanvanklik by Ford, daarna by Mercedes-Benz, maar Mitsubishi het uiteindelik tuisgekom by die AMH-groep, en ek glo dat die vrugte van hierdie skuif binnekort ervaar sal word.

In ‘n regstreekse vergelyking met die Pajero se vernaamste opponent – Toyota se puik Land Cruiser Prado 3.0T TX – het die Pajero in feitlik elke opsig die Prado getroef. Selfs die Pajero se R639 900 prys is R28 000 goedkoper as die Prado. Hierbenewens ontwikkel die Pajero 140 kW teenoor die Prado se 120 kW, terwyl wringkragsyfers ook in die Pajero se guns is. Die Prado ontwikkel 400 Nm teen 1 600 opm, terwyl die Pajero in staat is tot 441 Nm teen ‘n ietwat hoër 2 000 opm.

Van belang in ‘n 4×4 is ook die kwessie van grondvryhoogte en hier bied die Pajero weer eens ‘n voorsprong met 235 mm teenoor 220 mm. Wat die instandhoudingsplan betref loop dinge redelik gelyk met die Prado op 5 jaar/90 000 km en die Mitsubishi Pajero op 5 jaar/100 000 kilometer.

Dis baie duidelik dat die Mitsubishi-span alles in die stryd gaan werp om hulle 12-malige Dakar-wenner se verkope dramaties op te stoot om hulle sterkste mededinger, Prado, goed skrik te maak. Trouens, in September vanjaar het Toyota 120 Prado’s verkoop, terwyl Pajero-verkope op presies 50 eenhede gedraai het.

Dit sal voornemende kopers baat om met albei voertuie te ry voordat ‘n finale koopbesluit geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie Prinsloo ·

Bernard
Oulike artikels
Groete
Willie Prinsloo 083 7700779

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.