Mitsubishi se Eclipse Cross rol die grondpaaie op

Die Mitsubishi Eclipse Cross is nie bang om van die gebaande weë af te klim nie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Om te toets of die Mitsubishi Cross sy man op ʼn plaas en veral die grondpad dorp toe kan staan, het Maroela Media Landbou gaan kyk wat doen die Eclipse Cross 4×2, 2,0 GLS CVT, met ʼn atmosferiese viersilinderenjin, tydens ʼn Sondagmiddag-uitstappie op die grondpaaie oos van Pretoria.

Eerstens is die klipperige platopad wat oor die pragtige wildpark op Kleinfontein uitkyk, aangedurf. Met sy 18 duim-allooiwiele en ʼn grondvryhoogte van 180 mm het die Eclipse maklik oor die klippe, spoelwalle en ongelyktes beweeg sonder om te ploeg of te skraap.

Die viersilinder- 110 kW-enjin met ʼn wringkrag van 198 Nm het fluks saam met die sesspoed-palwisseltransmissie (CVT) gewerk om egalig en stadig op en af teen die steiltes te ry.

Die Eclipse is ʼn gawe gesinsmotor. Op die grondpaaie tussen die Donkerhoek-hoewes kon ek toets of dié motor betyds sal wees as die skool- of kerkklokke te vroeg op ʼn Maandag- of Sondagoggend vir ʼn boeregesin begin lui. Teen 75 km/h was die motor se padhouvermoë voortreflik en geoefende boere sal selfs heelwat vinniger kan ry tydens ʼn noodgeval.

Jy kan jou voet neersit as jy met die Mitsubishi Eclipse Cross op ‘n grondpad klim. (Foto: Verskaf)

Plek-plek, waar die staat van erosieslote vergeet het, kan jy vinnig rem, oor- of deurry en dadelik versnel sodra die gevaar agter jou is.

Die Eclipse vergeet vinnig om by die spoedgrens te hou as hy op die snelweg klim en in ʼn stoute toets kon ek blitsig tot op die 150 km/h-merk kom. Vir die wetsgehoorsames wat eerder op ander dinge as die spoedgrens wil konsentreer, sal die spoedbeheerfunksie oorneem. Ek het hom op 125 km/h gestel en met ʼn boontoe- en ondertoe-speling van 2 km/h kon ek gerus wees dat die verkeerskonstabels my met rus sal laat.

Die 8 duim-funksieraakskerm steek nogal hoog bo die paneelbord uit en is maklik om by te kom. Die hooffunksies is tuis, media, selfoon en inligting met twee draaiknoppe aan weerskante vir volume en radio-instelling. Dit sou baie gaaf gewees het as jy die radio ook van daar af kon kies, want nou moet jy dit onder die mediahofie op die volgende kieslys gaan soek, wat bietjie verwarrend is. Verder is dit maklik om jou weg te vind deur al die ander kieslyste.

Die spoed wat op die voorruit geprojekteer word, laat die kar sommer ekstra modern voel. Dit wys ook wanneer jou sitplekgordel nie vas is nie. Vir die langerate het Mitsubishi se ontwerpers gesorg dat die projekteerglasie op en af kan kantel en selfs heen en weer op die instellings-kieslys gestel kan word.

Die Eclipse se spraakherkenningsfunksie verkies dat jy woorde ten volle moet uitspreek. Toe ek “phone” herhaaldelik in elke moontlike aksent uitgespreek het, het hy my heeltyd na “tone” toe gevat om die radio se klank te stel. Ten einde laaste het ek “telephone” probeer en siedaar!

Die kajuit is heel luuks afgerond met sagte oppervlakke oral waar jy moontlik jou elmboog of kop kan stamp. Heelwat funksies kan vanaf knoppies op die stuurwiel beheer word en wanneer jy op die snelweg klim, kan jy lekker in die gemaklike stoel terugsak en ware bestuursgenot ervaar.

Mitsubishi Eclipse Cross kajuit

‘n Boervrou kan gerus die lang pad dorp toe aandurf in die Mitsubishi Eclipse Cross se weelderige kajuit. (Foto: Verskaf)

Met twee handpedale agter, aan weerskante van die stuurwiel, kan die versnellingsfynproewer die ratte met die hand stel. Ek het dit egter glad nie nodig gehad nie, selfs teen die steiltes uit.

Mitsubishi het in die 2021-model weggedoen met die vorige model se skerp neus en eerder ʼn regop sierrooster ingesit wat die kar die hedendaagse hoë en stomp voorste profiel gee wat van bakkies af na motors toe oorgewaai het. Dit pas mooi by die motor en gee hom daardie nuwerwetse nutsvoertuig-gevoel wat jou laat lus kry om op plekke te ry waar plat sportmotors liewer moet omdraai.

Die 437 l-kattebak is ruim en maklik bereikbaar vanaf die agterste sitplek. Wanneer die agterste sitplekke vorentoe gevou word, kan jy 1 074 l se bagasie inlaai.

Die Mitsubishi Eclipse Cross se laairuimte is meer as ‘n 1 000 l as jy die agterste sitplekke afslaan. (Foto: Verskaf)

Die buitenste spieëltjies gee jou ʼn gemaklike, wye uitsig en vou outomaties agtertoe vir die effens nou motorhuise. Wanneer die voertuig uitgetrek word, sorg die agterste kamera dat fietse, honde en werfhoenders veilig is.

Die Eclipse Cross se brandstofverbruik is 7,9 l/100 km.

  • Die Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS kos R459 995.
  • Die Mitsubishi Eclipse Cross 1.5T GLS kos R499 995.

Pryse sluit in:

  • ʼn driejaar- en/of 100 000 km-waarborg,
  • ʼn diensplan van vyf jaar en/of 90 000 km,
  • padbystand van vyf jaar/onbeperkte kilometers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS kos R459 995.
Die Mitsubishi Eclipse Cross 1.5T GLS kos R499 995.
Uiters waarskynlik is hierdie twee pryse verkeerd om.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.