Mitsubishi se reddingsboei?

Mitsubishi verkoop plaaslik sowat 200 voertuie per maand. Partykeer ʼn bietjie minder, partykeer ʼn bietjie meer. Mitsubishi het al ʼn geruime tyd ʼn volume-verkoper nodig, ʼn goedkoop buksie wat ʼn sterk 250 eenhede per maand verkoop.

Mitsubishi het so pas sy splinternuwe Xpander in Suid-Afrika bekendgestel. Ek was oortuig dat dit ʼn Toyota Rush is met ʼn Mitsubishi-plakker op – wat hy by Daihatsu in die Ooste koop. Dit is geensins die geval nie. Toyota se Rush was ʼn aaklige ryding. Hy was grof, die ewenaar het gesing en die enjin was so styf soos ʼn heupvervanging wat skeefgeloop het.

Die Xpander aan die ander kant is ʼn egte Mitsubishi-produk en ʼn aangename bussierige ryding. Daar is sewe sitplekke en ʼn keuse van twee ratkaste met een enjin: ʼn 5-spoed-handrat of ʼn 4-spoed-outo. Dit klink dalk argaïes, maar op die pad werk dit regtigwaar puik.

Ek het die prys geweet voordat ek in die Xpander geklim het. Die materiale, uitleg en bougehalte is voorwaar indrukwekkend – veral teen die prys. Ek gaan haal toe my baas by sy huis, en met die inklimslag sê hy: “R500 000?” Nee, nie naastenby nie … R299 995 vir die handrat en R319 995 vir die outo – dis fantasties!

Die Xpander word aangedryf deur Mitsubishi se atmosferiese 1.5-viersilinder-, 16-klep-enjin. Die enjin het MIVEC- aanpasbare kleptydreëling en spog met 77 kW en 141 Nm. Die brandstofverbruik is ʼn ware verrassing ook teen 6.9 l/100 km om die gekombineerde siklus met die handrat en 7 l/100 km in die outo. My huis is so 80 km van die vlootbestuurder se perseel af, meestal snelweg – en die metertjie het 6.4 l/100 km gelees toe die Xpander by my opdaag.

Aan die veiligheidskant is daar twee lugsakke, ABS met EBD, voorspan-veiligheidsgordels en elektroniese remkragverspreiding. Dit is die hele toetie. Op die pad toer die Xpander lieflik. Die kajuit is heel stil, die ritgehalte heel soepel, maar dit moet ook styf genoeg wees om die sewe passasiers te dra as hy vol is.

My eerste indrukke van die Xpander is werklik puik. Hy gaan nog die hele week hier wees – so ons kan weer oor ʼn week of wat ʼn indiepte-insig gee. Vir nou, indien jy in die mark is vir ʼn lekker, bekostigbare, ruim gesinsbuks – gaan toetsbestuur beslis een.

Die Mitsubishi Xpander lyk só:

Mitsubishi Xpander 1.5-handratR299 995
Mitsubishi Xpander 1.5-outoR319 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Enjin selfde krag en slag as Suzuki Ertiga. Selfde ratkaste beskikbaar. Is die maar net soos Toyota met Suzuki gemaak het nie? Seker nie sleg nie, net gewonder of hulle nie ook maar dieselfde pad gestap het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.