Modieus én betroubaar… ʼn wen-wen?

Die nuwe Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Toyota het so drie jaar terug hul C-HR bekendgestel. Dit staan vir Coupé High Rider. Dit is ontwerp om soos ʼn koepee te lyk, en ʼn kruismodel… ʼn luikrug wat sportnuts pretensies het. Aanvanklik was die voertuie opwindend want dit was iets splinternuut van Toyota… maar nou dat die produk bietjie tyd gevat het om groot te word… nou’s hy reg.

Dié is die C-HR se tweede piepklein opknapping. Die eerste opknapping was die toevoeging van die Luxury spesifikasie model… en nou word daar die volle Toyota veiligheidspakket op die C-HR gepas sowel as ʼn nuwe inligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay. Die voorste buffer is opgeknap om ʼn meer sportiewe voorkoms te gee en daar is twee nuwe kleure, Inferno Orange en Passion Red.

Die nuwe Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Toyota is omtrent ʼn agteros as dit kom by CarPlay en Android Auto – maar as mens dit eers gewoond is kan mens nie daarsonder gaan nie. Ons bring werklik deesdae baie tyd op ons toestelle deur, en dié funksie laat ʼn mens toe om steeds jou foon te gebruik op ʼn veilige manier terwyl jy bestuur, want jy hoef hom glad nie in jou hande vas te hou nie. Die ander lekker ding is dat jou motor dan altyd navigasie het. Wat daardie stelsel nóg ʼn stappie verder vat, is die feit dat alle nuwe Toyota-voertuie ingeboude Wi‑Fi het. Dit kom aanvanklik met 15 GB se data gratis, wat ʼn mens kan aanvul soos nodig.

Die nuwe Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Ons het op die bekendstellingsroete tussen George en Barrydale op die R62 een of twee keer vir ʼn kort rukkie sein verloor – verder was ons fone die heeltyd aan die Wi‑Fi gekoppel en dit werk puik.

Die binneruim van die C-HR was nog altyd mooi en modern. Die voorste sitplekke is uiters gemaklik. Ons het oor die twee dae ongeveer 600 km afgelê en die voertuig is regtigwaar gemaklik. Die lugreëling werk fantasties en het ons in ʼn vieslike hitte van 40 grade op Calitzdorp koel gehou, behalwe as ʼn mens jou bestuursmaat se sitplekverwarmer aanhoudend aanskakel…  Al is die kattebak nie reusagtig nie, is dit heeltemal voldoende vir ʼn modieuse kruismodel.

Die nuwe Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Die ontwerp van die C-HR is nou vir my fantasties, soos hy van die begin af moes gelyk het. Die groot 18”-bande lyk puik, en het darem ʼn behoorlike profiel band oorgetrek, so ritgehalte is nie belemmer nie. Op die asemrowende R62 het die C-HR hom puik gedra, of dit die lang, reguit pylvakke was óf die kronkelende bergpasse.

Die C-HR word aangedryf deur Toyota se nuwe 1.2-viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 85 kW en 185 Nm. Heeltemal genoeg vir die dorp óf oop pad. Ek is verbaas dat die palwisseltransmissie (CVT) nie die rit sleg beïnvloed het nie, want hulle kan dreunerig raak indien ʼn mens ʼn bietjie haastig raak.

Die nuwe Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Dalk pla hy nie weens die lieflike stil turboaangejaagde enjin. Toyota maak aanspraak op ʼn brandstofverbruiksyfer van 6,4 ℓ/100 km. Ons kon nie naby dit kom op die roete nie, maar ons het wel baie vinnig gery. Onder ons swaar voete kon die C-HR 8,2 ℓ/100 km handhaaf.

Dit is my vyfde ontmoeting met die C-HR, maar die eerste keer wat ons behoorlik tyd met hom deurgebring het. Die tjor het my werklik beïndruk, so as jy in die mark is vir iets ongewoon en stylvol, moet beslis nie die C-HR miskyk nie.

Die reeks lyk nou só:

Toyota C-HR 1.2TR371 700
Toyota C-HR 1.2T PlusR403 000
Toyota C-HR 1.2T Plus CVTR415 100
Toyota C-HR 1.2T Luxury CVTR476 600

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 6 jaar/90 000 km‑diensplan.

Ons sal weer tyd met die C-HR deurbring en hom dan teen sy mededingers vergelyk en sien hoe die CVT hom in die dorpsverkeer gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Beslis ‘n motor vir die 20ste eeu en met die ondersteuning van Toyota agter jou is dit ‘n wenner. Alles loop reg, altyd reg Toyota.
Lekker ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.