Motorbedryf bly SA se reddingsboei

Argieffoto (Foto: Admiral_Lebioda/Pixabay)

Dit is geen geheim dat ʼn reusepersentasie van ons land se inkomste van die motorbedryf afkomstig is nie. Die motorbedryf dra ʼn allemintige 6,8% by tot ons bruto binnelandse produk (BBP). Covid-19 en die inperkings oor die afgelope 18 maande het omtrent verwoesting gesaai in dié bedryf.

Die syfers vir 2021 verbaas almal egter nog elke maand. Die mark spring sterk terug en dit wil lyk of ons die vooruitskatting van amper 500 000 verkoopte eenhede sal haal. In Oktober 2021 het die algehele motorbedryf 41 035 eenhede plaaslik verkoop en 23 685 eenhede uitgevoer. Die top-6 vervaardigers is Toyota (9 928), Volkswagen (5 975), Nissan (3 059), Hyundai (2 804), Suzuki (2 593) en Renault (2 480). Kia (2 343), Haval (2 330), Ford (2 148) en Isuzu (1 934) rond die top-10 af.

“Die nuwe voertuigmark herstel blykbaar sterk, ondanks aanvraag wat tans meer is as wat die bedryf kan lewer,” sê Lebogang Gaoaketse, hoof van bemarking en kommunikasie by WesBank. “Ná die inperking in die middel van die jaar presteer die mark sterk in die tweede helfte van die jaar en handel al vir drie maande bó 40 000 eenhede per maand.”

Die sterkste uitvoerder is Volkswagen (6 853), tweede is Toyota (5 509), dán Ford (5 026) en die laaste groot uitvoerder is BMW (4 300).

Die sterkste enkele model in Suid-Afrika bly Toyota se Hilux met 2 470 eenhede wat in Oktober verkoop is. Daarop volg Volkswagen se Polo met 1 693 eenhede. Renault se Kiger, ʼn nuweling vir die handelsmerk, skiet die ligte uit met 811 eenhede – meer as waarvoor dié handelsmerk gehoop het om te verkoop. Nóg ʼn lekker suksesverhaal vir die plaaslike ekonomie en bedryf is die sterk prestasie van die nuwe Nissan Navara wat weereens 650 eenhede skuif.

Die bedryf word geen guns bewys deur die wêreldwye halfgeleier-mikroskyfiekrisis wat steeds verwoesting saai nie. Ford is ʼn sterk voorbeeld hiervan. Hulle het boonop nog uitdagings wat saam met die R15 miljard-belegging in die Silverton-aanleg gaan. Dié is besig om in hoë rat te skop sodat hulle reg is vir die splinternuwe Ranger in 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gato ·

Wonder of die 650 mense wat die Nissan Navara gekoop het gekyk het na die onlangse verslag oor onderdeel pryse en herstelkoste op daai bakkies. Dit is ongelooflik hoog.

Yolandi ·

Dis oraait. Die nuwe Navara het ‘n 6 jaar / 90 000km diensplan, en ‘n uitstekende 6 jaar / 150 000km waarborg, hulle offer verskeie “maintenance” opgraderings wat jou nie duisende uit die sak jaag nie. Vandag se verbruikers ruil voertuie in voordat dit ouer as 6 jaar is. Ek is baie tevrede met my Navara, Nissan se diens, en so ondersteun ek ook ‘n Nissan projek wat hier in ons agtertuin onderhou word.

Andrew ·

Wie finasier die voertuie, en dan hoeveel land op repo na n jaar? Dink nie die motor beryf is n reddingsboei nie, meer die banke.

Nefie ·

Dankie Brendon vir bietjie goeie nuus.

Ps. ons moet weer saam kamp ;-)

Wielspore ·

Ek lees hierdie vanoggend oor motorverkope in SA deur Toyota SA, totaal teenstrydig met hierdie berig. “Local retail conditions are far from ideal. The depressed growth figures, increased household debt and rising living costs – including fuel prices – are dragging on the overall sales growth,” says Senior Vice President of Sales and Marketing at Toyota South Africa, Leon Theron.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Welke persentasie van daardie “allemintige 6,8% wat ons land se motorbedryf bydra tot die land se bruto binnelandse produk” word deur die staat (lees belastingbetaler) as subsidie bygedra?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.