Motorbedryf groei ondanks talle uitdagings

Argieffoto (Foto: Admiral_Lebioda/Pixabay)

Die motorbedryf staan sterk ondanks ʼn rentekoersverhoging vir die eerste keer in maande, die swak rand, beurtkrag én ʼn nuwe Covid-19-variant.

Teenoor November 2019 het die bedryf met 6,6% gegroei, met ʼn totale mark van 41 588 eenhede. Toyota geniet die grootste verhoging, met 19,7% jaar op jaar, te danke aan die bekendstelling van die Toyota Corolla Cross, sy gewildste passasiersvoertuig, waarvan 1 757 eenhede verkoop is, net agter Hilux met 2 558 verkope.

Volkswagen staan sterk in die tweede plek met 5 498 plaaslike verkope, met die Polo en Polo Vivo wat steeds sy gewildste modelle is. Suzuki Suid-Afrika is in die derde plek en spog vir ʼn tweede keer met oor die 3 000 eenhede in ʼn enkele maand. Suzuki se sterkste modelle is die S-Presso en die Swift.

Hyundai, Nissan en Ford maak die res van die topses uit. Nissan se Navara is steeds uiters gewild, terwyl Ford se plek in die topdrie gekniehalter word deur die mikroskyfiekrisis én sy aanleg wat besig is om gerat te word vir die nuwe Ranger in 2022. Isuzu, Renault, Kia en Haval rond die top‑10 af – elkeen met baie naby aan 2 000 eenhede vir die maand.

BMW was die sterkste uitvoerder in November met 4 500 X3’s wat uitgevoer is. Toyota is kort op sy hakke met 4 222 Hilux’e, dán Ford met 3 573 Rangers, Volkswagen met 3 197 Polos, Mercedes-Benz met 2 804 C-klas‑modelle en laastens Nissan met 697 Navaras en Hardbody’s.

Met middelslaghandelsvoertuie, tussen 3,5 en 8,5 ton, neem Isuzu die eerste plek in met 303 eenhede. Swaar handelsvoertuie, tussen 8,5 en 16,5 ton, word ook deur Isuzu gedra met 123 eenhede. Wanneer dit by ekstra-swaar handelsvoertuie groter as 16,5 ton, kraai Mercedes-Benz koning met 312 eenhede.

Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), sê dit is baie bemoedigend dat die bedryf vanjaar 24,8% hoër is as dieselfde tyd verlede jaar, met alle segmente behalwe busse wat groei toon.

Lebogang Gaoaketse van FNB meen al wys die mark tekens van deurlopende herstel, is die werklikheid van hoër rentekoerse en brandstofpryse se impak op huishoudelike inkomste en begrotings onvermydelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.