Motorbedryf lewensbloed van SA ekonomie

Dekades lank, deur die moeilike tyd van sanksies in die laat tagtigerjare en vroeë negentigs – en vandag steeds – het die Suid-Afrikaanse ekonomie swaar gesteun op sewe motorvervaardigers.

Daardie sewe vervaardigers is (in alfabetiese volgorde): BMW, Ford, Isuzu, Mercedes-Benz, Nissan, Toyota en Volkswagen.

Drie aanlegte het huis tuiste in Gauteng. BMW en Nissan is geleë in Rosslyn, terwyl Ford se aanleg in Silverton in Pretoria is. Al drie van dié aanlegte het in die afgelope vyf jaar enorme beleggings gesien om nuwe modelle te bou.

BMW het oorgeskakel van die 3-reeks sedan na die X3. (Foto: Verskaf)

BMW het oorgeskakel van die 3-reeks sedan na die X3. Nissan vervaardig nou die Navara hier, en Ford is besig om reg te maak vir die nuwe Ranger.

In KwaZulu-Natal is Toyota. Sy Prospecton-aanleg vervaardig verskeie voertuie wat alles insluit van die Corolla Quest en die nuwe Corolla Cross, tot die Hilux en Fortuner, sowel as die Hiace en Quantum.

Toyota se aanleg is in KwaZulu-Natal. (Foto: Verskaf)

In dié fabriek is daar onlangs ook miljarde rande belê om die nuwe Corolla Cross te kan vervaardig.

Die Oos-Kaap huisves die res van die vervaardigers. Mercedes-Benz is in Oos-Londen en bou die C-klas. Isuzu en Volkswagen het ʼn tuiste naby Port Elizabeth.

Isuzu het pas ʼn groot belegging gehad om die nuwe D-Max hier te vervaardig, terwyl hy gaan aanhou om die huidige D-Max onder die naam van Gen 6 vir kommersiële klante te vervaardig.

Volkswagen het vier jaar gelede ʼn reusebedrag geld belê om die nuwe Polo te vervaardig.

ʼn Eg Suid-Afrikaanse strategie wat verskeie vervaardigers al aangedurf het – en met reusesukses – is om nuwe lewe in ʼn uitgaande model te blaas, (Foto: Verskaf)

Sy aanleg vervaardig nou twee voertuie – die Polo en Polo Vivo.

ʼn Eg Suid-Afrikaanse strategie wat verskeie vervaardigers al aangedurf het – en met reusesukses – is om nuwe lewe in ʼn uitgaande model te blaas, meer van sy onderdele plaaslik te verkry en dan as ʼn goedkoper model aan die Suid-Afrikaanse publiek beskikbaar te stel.

Toyota het die Corolla Quest, Volkswagen die Polo Vivo, Nissan het die NP300 gehad en Isuzu sal voortaan die D-Max Gen 6 hê.

Die aanlegte vervaardig nie slegs voertuie vir Suid-Afrika nie, maar het reuserolspelers geword in die wêreldmarkte. In volgorde van uitvoere verlede maand:

Mercedes-Benz          9 092

Volkswagen                8 448

Toyota                         5 101

Ford                            4 736

BMW                          4 400

Isuzu                            524

Nissan                         455

Nissan en Isuzu sal begin om na Afrika uit te voer, maar hul hoeveelhede is piepklein teenoor die ander reuse. Die topvyf voer amper dieselfde hoeveelheid voertuie uit as wat plaaslik verkoop word. Die groter aanlegte vervaardig almal tussen 100 000 en 200 000 eenhede per jaar, afhangende van die aanvraag uit die mark.

Die algehele motorbedryf in Suid-Afrika bied ongeveer ʼn miljoen werkgeleenthede, wat insluit alles van hul hoofkantore, handelaarsnetwerke en voorsieningsketting. (Foto: Verskaf)

Dit is ʼn reusepluimpie vir Suid-Afrika.

Moderne motorvervaardigers word teen astronomiese teikens gemeet wat gehalte betref. Ons aanlegte is werklik wêreldklas.

Die algehele motorbedryf in Suid-Afrika bied ongeveer ʼn miljoen werkgeleenthede, wat insluit alles van hul hoofkantore, handelaarsnetwerke en voorsieningsketting.

Tussen die handelsmerke voer Suid-Afrika na ongeveer 200 markte wêreldwyd in linker- en regterhandstuur uit.

In die afgelope vyf jaar is daar ʼn verstommende R42,5 miljard in plaaslike aanlegte belê. Die bedryf dra gewoonlik tussen 6% en 7% van ons BBP by.

Ongelukkig hou sommige vakbonde ook jaarliks die bedryf gyselaar vir verregaande eise in terme van minimum lone by dié aanlegte.

Dit is egter eenvoudig: Sonder ons motorbedryf, stort die Suid-Afrikaanse ekonomie in duie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.