Motorbedryf staan sterk ondanks uitdagings

Argieffoto (Foto: Admiral_Lebioda/Pixabay)

Ondanks die stygende rentekoerse, brandstofprys en inflasie is daar in Julie 762 meer voertuie plaaslik verkoop en uitgevoer as in die vorige maand.

Nóg ʼn positiewe teken is dat daar al vanjaar meer voertuie uitgevoer is as in die hele 2021. Die grootste uitvoerder in Julie, met ʼn reusemarge, is Volkswagen met 10 689 uitvoereenhede. Daarop volg Ford met ʼn verstommende 8 595 eenhede, Mercedes-Benz met 7 786 en die laaste een in die top vier is BMW met 5 153. Toyota sal nou vinnig weer ook sy staal wys aangesien sy fabriek in KwaZulu-Natal weer voertuie vervaardig.

Toyota is die grootste handelsmerk wanneer daar na plaaslike verkope gekyk word met 7 439 eenhede. Volkswagen kon 5 672 voertuie verkoop en Suzuki is in die derde plek met 4 622 eenhede. Hyundai volg in die vierde plek met ietwat minder verkope teen 2 945 eenhede en Ford rond die top vyf af met 2 396 plaaslike verkope.

Die top tien sluit Nissan (2 370), Renault (2 332), Kia (2 091), Haval (1 861) en Isuzu (1 715) in. As ons na die top vyf passasiersvoertuie kyk, lyk hulle só: Toyota Urban Cruiser (1 854), Volkswagen Polo Vivo (1 820), Suzuki Swift (1 521), Toyota Starlet (1 264) en Volkswagen Polo (1 166).

Die top vyf ligte handelsvoertuie lyk só: Ford Ranger (1 838), Isuzu D-Max (1 602), Nissan NP200 (1 213), Toyota Hilux (1 012), Mahindra Pik Up (847). Dit gaan interessant wees om te sien wie koning gaan kraai ná Toyota se fabriek weer volstoom voertuie produseer en Ford se nuwe Ranger bekend gestel is.

Daar is altesaam 9 547 ligte handelsvoertuie, minder as 3 500 kg, in Suid-Afrika verkoop, en 7 670 is uitgevoer. Daar is 790 medium handelsvoertuie, tussen 3 501 kg en 8 500 kg, plaaslik verkoop en 21 is uitgevoer. Rakende swaar handelsvoertuie, tussen 8 501 kg en 16 500 kg, is daar 471 plaaslik verkoop en 50 is uitgevoer. Van die ekstraswaardiens-handelsvoertuie, wat meer as 16 500 kg weeg, is daar 1 281 plaaslik verkoop en 18 is uitgevoer. Daar is 49 busse plaaslik verkoop en vier uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Seker oor hulle R20 000 by alle tweedehandse pryse gesit het.

Wielspore ·

Toyota sou beter gevaar het was dit nie vir die vloede in KZN wat voertuie en toerusting beskadig het. Opmerklik is daar geen syfers vir die Corolla Cross en beperkte syfers vir die Hilux Bakkie omdat dit hierdie modelle wat geraak is deur die vloed. Dit behoort binnekort beter te gaan by Toyota. Suzuki vaar goed met verkoops syfers wat maandeliks styg. Volkswagen maak my bekommerd in die sin dat die plaaslike mark al kleiner word en die uitvoer mark groter word. Vir die verbruiker en SA handelaars is dit slegte nuus, vir VW Germany is dit meer kapitaal vir die groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.