Motorbedryf verras ondanks uitdagings

Die motorbedryf het in September ʼn allemintige 43 130 eenhede geskuif deur die vier plaaslike kanale, 35 684 deur handelaars, 1 099 aan die regering, 5 328 aan die huurmotormark en 1 019 enkel eenhede wat direk deur die vervaardiger of invoerder verkoop is. Die uitvoermark bult ook sy spiere met 12 202 eenhede.

Daar is egter steeds talle uitdagings, waarvan die grootste die halfgeleier-mikroskyfiekrisis is wat lyk of dit nie binne die volgende 12 tot 18 maande gaan verbeter nie. Dit sit alle handelsmerke in Suid-Afrika onder reusedruk omdat daar eenvoudig nie voorraad is nie.

Die tekort aan nuwe voertuie het egter ʼn goeie invloed op tweedehandse voertuigpryse. Goeie tweedehandse voertuie se waarde staan tans sterker as ooit. Dit help die handelaars om winsgewend te bly ten spyte van uitdagings met voorraad op nuwe voertuie.

Die sterkste plaaslike handelsmerk in terme van verkope is Toyota met 10 936 eenhede. Tweede is Volkswagen met 7 029 en ʼn verrassing is Suzuki se derde plek met 3 134 – ʼn rekord vir Suzuki Suid-Afrika. Hyundai neem die vierde posisie in met 2 930 eenhede en daarna kom Renault met 2 520 en Nissan met 2 330.

Nissan se Navara het die afgelope paar jaar gesukkel, maar met die jongste opknapping het hulle weer verlede maand 485 bakkies verkoop. Onder die bakkies staan Hilux nog die sterkste met 2 642 eenhede en Isuzu in die tweede plek met 1 593 D-Max-bakkies. Ford se Ranger val tot die derde plek met 1 169 eenhede. Ford se voorraadtekort is ook as gevolg van hul fabriek wat vir sewe weke gestaan het terwyl die nuwe uitleg aanlyn gebring is ter voorberei vir die nuwe Ranger wat in 2022 bekendgestel sal word.

Die motorbedryf is goed op dreef om hul vooruitskattings vir die jaar te haal, ten spyte van die onluste, die mikroskyfiekrisis én nuwe uitdagings in terme van vervoer. Daar is tans ʼn tekort aan vraghouers wêreldwyd, en skepe sit in hawens vas terwyl bemanning spanne moet isoleer weens die pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.