Motorfietse: 2020 se bestes en wat in 2021 wag

Die Ducati Streetfighter.

Januarie 2020 het nie goed begin vir my nie. Ek skop die jaar af met ’n gebarste blindederm en kort daarna breek ek my pinkie toe ’n passasier in ’n motor sy deur oopmaak in verkeer. Daardie besering het nog nie eens herstel nie toe hoor ons die eerste keer die woorde: “My fellow South Africans.” Dit was nie ’n goeie jaar nie.

In die motorfietsbedryf was die prentjie darem nie so somber nie. Die inperking het ’n verbasende goeie uitwerking op motorfietsverkope gehad. Dit is asof mense wou uitkom en vry wees. Ek wil graag ’n paar hoogtepunte uitlig vir die jaar en ook vorentoe kyk na wat op ons wag.

Krag in oorvloed

Drie fietse wat my sal bybly lank nadat ons al van 2020 vergeet het, is die Ducati Streetfighter, die Kawasaki Z H2 en die Triumph Rocket 3. Ek kon vir ure na die Rocket sit en kyk en al die detail indrink. Die Z H2 het, letterlik, my asem weggeslaan met sy versnelling terwyl die Streetfighter ’n begeerlike fiets is. Iets wat jy graag sal wil besit. Ek het ook die besondere voorreg gehad om saam met Ducati heelwat tyd op hierdie fiets deur te bring en selfs op die lang pad is die fiets uiters gemaklik.

Ek voel ek moet die BMW R18 ook hier noem, maar ek was nie baie beïndruk met hierdie fiets nie. As ’n fotograaf wat baie van detail hou, was die R18 ’n plesier vir die oog, maar om hom te ry was nie so aangenaam nie. Baie mense verskil van my en BMW het reeds ’n tweede model by die reeks gevoeg. Dit is egter duidelik dat BMW die Amerikaners in gedagte het met hierdie fiets.

Ridders van die stofpad

Die Triumph Tiger 900

Yamaha terg nou al vir drie jaar met die T7 en toe kies hulle 2020 om dit uiteindelik bekend te stel. Dit is veronderstel om die nuwe maatstaf te wees waarteen dubbeldoelfietse gemeet moet word en die eerste indrukke van die media was baie gunstig. Ek het nog net langs een gestaan en nog nie self gery nie. Dit is beslis iets wat ek sal moet regstel in 2021.

Triumph het hulle nuwe 900 Tiger bekend gestel en ek was baie beïndruk met hierdie fiets. Dit het alles wat jy van so ’n fiets verwag en nog meer.

Suzuki het hulle uiters betroubare V-Strom ook bekend gestel en ek het ’n naweek met hom kon deurbring. Suzuki het heelwat verbeteringe aangebring wat hierdie fiets net nog meer aantreklik maak.

My uitstaanfiets was egter die Moto Guzzi V85 TT. Dit was ’n fiets wat oral aandag getrek het. Ek hou baie van die eiesoortigheid van die V-twee enjin.

Die Moto Guzzi V85 TT.

Die buksies beïndruk

Die Suzuki GSX 250 R

2020 was nou eenmaal vir my ’n jaar van buksies. Suzuki het hulle GSX 250 R bekendgestel en hierdie is regtig ’n treffende ontwerp. KTM se 390 Adventure het dit ook uiteindelik tot hier gemaak, maar vir my was my 1 700 km reis na Verneukpan en Kaapstad op ’n Zontes 310-T ’n baie besondere ervaring. As jy nog steeds twyfel oor die betroubaarheid van hierdie fietsie kan jy maar gerus wees. Die fiets wat ek van hier tot in die Kaap gery het, het kort daarna ’n draai in Gamkaskloof gaan maak, sonder teëspoed.

Die Binder-faktor

Niemand sou kon voorspel dat Marc Márquez nie ’n enkele punt in ’n seisoen sou aanteken nie. Met hom, die dominante ryer, uit MotoGP het die ander ryers tou gestaan om die 2020-titel hulle eie te maak. Hoewel Joan Mir die kampioenskap beklink het, het ons eie Brad Binder die eerste oorwinning vir KTM in die premierklas besorg en ook die groentjie van die jaar titel ingeoes. Broer Darryn het ook heelwat meer verantwoordelik begin ry in die Moto3-klas en dit het tot sy eerste oorwinning gelei. Ek glo dat 2021 ’n goeie jaar vir albei broers sal wees.

So wat van 2021?

Die 2021 Triumph Trident 660

Daar is drie fietse waarna ek uitsien in 2021. Heel bo aan my lys is die nuwe Ducati Multistrada V4. Ek is mal oor die Multistrada en met sy nuwe enjinkonfigurasie behoort hy net nog beter te wees.

Dan het Triumph se 660 Trident definitief my aandag. Triumph-fietse is altyd uitstekend afgewerk en hierdie intreevlak Triumph kan baie interessant raak.

Laastens is daar belofte van ’n Zontes 310-T met ’n 19”-voorwiel en speekwiele. Ek begin al beplan waar ek moet hom heen gaan ry!

Motorfietsry is seker een van die wonderlikste, bevrydende ervarings wat ek al beleef het. Met die kleiner avontuurfietsies wat nou oral beskikbaar raak, is dit nie tyd dat jy self belê in een nie? Hoekom maak jy nie 2021 die jaar waarin jy jou eerste motorfiets koop nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.