Motorfietse: 2021 se hoogtepunte en waarna om uit te sien in 2022

Die Energica EGO- en EVA- elektriese fietse (Foto: Brian Cheyne)

Ondanks inperkings was 2021 tog ’n goeie jaar vir die motorfietsbedryf in Suid-Afrika. Ons het een van die beter jare ervaar wat motorfietsverkope betref.

Natuurlik is die grootste verkopersegment te danke aan die groot vraag na afleweringsfietse. Selfs die tweedehandse mark geniet gesonde groei. Die enigste segment wat gekrimp het, was die 250-500 cc-segment. Dit kan toegeskryf word aan die opvatting dat hierdie fietse duur is vir wat jy kry. Daarmee saam is die logistiek van die hele wêreld steeds in chaos. So het Zontes amper tien maande gewag vir ’n besending fietse uit China.

Die Harley-Davidson Pan America (Foto: Brian Cheyne)

My eie hoogtepunt van 2021 was beslis die Energica EGO- en EVA- elektriese fietse. Om dit met woorde te beskryf is net onmoontlik. Ek dink dit sal grammatikaal nie korrek wees om soveel byvoeglike naamwoorde agtereenvolgens te gebruik nie. Die versnelling en die sing van die elektriese motor sal my vir baie lank bybly. Dan was daar ook die verrassing van die jaar: die Harley-Davidson Pan America. Dit het al my verwagtinge ver oortref.

Ek het ook twee baie spesiale geleenthede saam met Suzuki bygewoon. Die eerste was die Suzuki Karoo Adventure waar ons met ’n kar én ’n motorfiets die Wes-Kaap platgery het. Die ander was toe ek amper 2 000 km op die nuwe Hayabusa deurgebring het.

(Foto: Brian Cheyne)

Geen lys van hoogtepunte sal egter volledig wees sonder ’n spesiale vermelding van die hele Ducati-span nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek was uiters bevoorreg om twee Ducati Mystery Rides by te woon, die laaste een op die fantastiese Multistrada V4. Daarna het ons weer in die Wes-Kaap gaan kuier – dié keer met die twee groot BMW R18-toerfietse.

Terwyl die mark positief was oor 2021 is daar heelwat nuwe modelle om na uit te sien in die komende jaar. Die EICMA-skou wat elke November in Milaan aangebied word, was betreklik stil in 2021 met geen groot verrassings nie. BMW, KTM en Ducati het nie eens uitgestal nie en verkies om hulle bekendstellings virtueel te hou.

Hier is so ’n paar van die fietse waarna ons kan uitsien in 2022:

Die Aprilia Tuareg 660 lyk op papier of hy ’n uiters mededingende fiets in die middelslagsegment gaan wees. Dit is nou as Aprilia die prys mededingend sal kan hou.

BMW het sy 1600-toerfietse onlangs opgeknap en ons behoort hulle vroeg in die jaar te kan sien. Hopelik is daar nuus oor die klein G 310 R- en GS-modelle, want hierdie fietse verdien beter verkope.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati DesertX is ’n hardebaard-avontuurfiets.

Die Multistrada 950 is opgeknap en verbeter en kry ook nou ’n nuwe naam – die Ducati Multistrada V2.

Harley-Davidson behoort later vanjaar die Sportster S hier te hê, maar dit is net die begin. Harley het in 2017 belowe om teen 2027 altesaam 100 nuwe modelle na die mark te bring, so verwag nog nuwe modelle uit Milwaukee.

Husqvarna Norden 901: Hierdie fiets is laas jaar plaaslik bekend gestel en Husqvarna het onderneem om vir my vroeg in 2022 een beskikbaar te stel. Dit is asof almal nou goeie vrotpadfietse bou en ons glimlag al die pad.

Kawasaki Versys 650: Hierdie fiets kry ook ’n klein kosmetiese opknapping en bly steeds ’n goeie koop.

Suzuki GSX S1000GT: Hierdie een behoort ’n wonderlike langafstand-toerfiets te wees.

Triumph Tiger 1200: Ons sal moet wag en sien of die GS-manne bekommerd behoort te wees.

TVS beoog om in Februarie sy buiging in Suid-Afrika te maak. TVS vervaardig die BMW 310-reeks, en het sy eie weergawe, naamlik die Apache 310 RR. Hopelik kom hierdie fiets hierheen. Ons sal moet wag en sien.

Zontes: Met al die vertragings van skeepsvrag behoort die 155-U vroeg in die nuwe jaar hier te wees. Ek het al breedvoerig oor die fiets berig, maar daar is steeds net een in die land. Daar is ook sprake van ’n 350 GK-model wat vir my uiters aanloklik lyk.

Ek ag myself uiters bevoorreg om te kan doen wat ek doen en ek waardeer elke stukkie kommentaar van lesers. Kom ons vertrou dat 2022 alles bied waarop ons hoop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

‘n Regte lekker lees artikel met aanloklike vooruitsigte.