Motorfietsopleiding vir nuwe ryers

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het al van jongs af motorfiets gery en boeke gelees oor motorfietse. My kinders, daarenteen, het nooit juis belang gestel nie. Ek dink deels dit was omdat my kinders op ’n baie jong ouderdom my in die intensiewe sorgeenheid van ’n hospitaal moes besoek waar ek om my lewe geveg het.

In 2019 het ek egter die besondere voorreg gehad om saam met een van my seuns op ’n motorfietstoer te gaan. Hy was net ʼn passasier, maar met die terugkomslag het hy my gevra of ek hom kan leer om motorfiets te ry. Dit was musiek vir my ore. Ek het dadelik vir Heine Engelbrecht van ADA gekontak om te hoor wanneer hulle volgende opleidingsessie sal wees.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het myself leer motorfiets ry op my broer se vriend Krisjan se Suzuki AC 50. Nou, ná al die jare, leer ek steeds dat ek dinge soms nie heeltemal reg doen nie. Daarom het ek besluit om my seun nie bloot te stel aan ’n motorfiets totdat hy nie ordentlike opleiding gekry het nie. Dit is soos om jouself te leer gholf speel. Teen die tyd wat jy besef jy het dalk lesse nodig, is dit moeilik om slegte gewoontes af te leer.

Dit was maar ’n reënerige dag toe ons aangemeld het by ADA se fasiliteite naby die Hartbeespoortdam, maar al die nuwe ryers was vol entoesiasme. Twee van die ryers, my seun inkluis, het nog nooit motorfiets gery nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die eerste deel van die kursus bevat teorie oor beskermende klere en waar alles op ’n motorfiets sit. Almal het aandagtig geluister, maar ek kon sien hulle wou op die saal klim en begin ry.

Jy hoef nie eers jou eie motorfiets te bring nie. ADA beskik oor ’n wye reeks fietse wat vir alle groottes en lengtes sal werk. Ná wat vir die nuwelinge seker soos ’n ewigheid gevoel het, kon hulle uiteindelik hulle fietse aanskakel. Soos met ’n motor, begin jy by die begin. Die wegtrek. Die konsentrasie en gespanne skouers was duidelik sigbaar. Ek het egter opgelet hoe gou die ryers se vertroue toeneem. Hulle het al in die rondte gery en kort-kort stilgehou om hulle nuutste vaardigheid te toets.

(Foto: Brian Cheyne)

Die volgende stap was om ratte te verwissel en daarna het die twee instrukteurs die ryers een ná die ander gevra om teen ’n steilte weg te trek. Die fokus het toe verskuif na balans en waar om jou gewig in ’n draai te plaas. Dinge wat vir ervare ryers vanselfsprekend is, word hier breedvoerig verduidelik en toegepas. ʼn Groot deel van die kursus bestaan uit die balans en koppelaarbeheer.

Aan die einde van die dag was daar vier nuwe ryers met ’n brein vol nuwe inligting, maar elkeen was dit eens dat die kursus uiters volledig is en dat hulle nou met vertroue self kan gaan oefen by die huis. Ek kan die waarde van so kursus nie genoeg beklemtoon nie. Dit is van onskatbare waarde vir nuwe ryers om deur ervare instrukteurs geleer te word voor slegte gewoontes kan posvat. So, as jy dit oorweeg om self te leer, of om jou kind goeie opleiding te gee, kontak ADA gerus. Jy sal nie spyt wees nie.

ADA bied ook ’n wye verskeidenheid ander kursusse aan, so besoek gerus hulle webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Dit is maar ‘n uitdaging om te leer as jy al effens ouer is. Ek het pas my kleindogter op ‘n 125cc geleer. Sy het nou haar leerlinglisensie. Dit is en bly ook “gevaarlik” op die paaie, wat dit soveel belangriker maak om deeglik voor te berei en genoeg goeie ondervinding op te doen voordat ‘n persoon op sy / haar eie gelaat word. Dankie vir die inligting Brian!

JohanR ·

Ek is soe 1470km ver van Hartebeesport Dam, maar sal welkom wees as iemand weet van soe kursus in Kaapstad? Jy wil as jy nuut vir motorfiets ry dit reg doen van die begin af. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.