Motorjoernaliste sê mekaar die stryd aan

Die meeste mense dink hulle is puik bestuurders – veral ʼn motorjoernalis. Maggies, daar is amper niks so erg soos iemand wat dink jy is ʼn mamparra agter die stuur nie. Dit was dus ʼn breëbors-oomblik toe Toyota vra dat ek een van hul GR86-renmotors vir die jaar jaag.

My grootste vrees vir die eerste wedren by Zwartkops was dat ek nie by my motorjoernalis-kollegas sou kon byhou nie. Dit was darem net senuwees en heeltemal onnodig.

Die afgelope naweek het ons by die Killarney-wedrenbaan gejaag en ek het gedink ek sou ʼn effense voordeel hê aangesien ek jare gelede met my eie voertuie ʼn paar rondes daar gery het – ek ken dus die baan. Of so het ek gedink. Vyftien jaar is egter ʼn lang tyd en skielik sien ek myself laaste op die ranglys na die tweede oefensessie.

Ek gaan loer toe na die jaers in die Polo-beker en sien wat hulle doen en hoe hul lyne lyk. Ek spring darem terug derde toe in die derde en laaste oefensessie. Die naweek in Kaapstad was by tye nat – net nog ʼn ding om ons senuwees uit te brand.

Met ons aankoms Saterdagoggend by Killarney is dit nat. Baie nat. Soveel só dat ons eerste aan die beurt is, voor die motorfietse want dis té nat vir hulle om uit te gaan. Ná ʼn paar oomblikke waar my oë groter as die wiele word met stuuroorywerigheid en ek myself ʼn bietjie laat op die remme pleeg, kry ek ʼn ronde waarmee ek tevrede is. Dis goed genoeg vir derde. Chad Lückhoff (AutoTrader) trek ʼn haas uit die hoed en spring eerste weg. Mark Jones (The Citizen) is tweede, dan ek, Reuben van Niekerk (Jumping Kids/News 24) is vierde, gevolg deur Setshaba Mashigo (ASAMM) en Denis Droppa (TimesLIVE).

Dit bring ʼn ander aspek van motorresies waarvan ek niks geweet het nie. Die mengsel van adrenalien, frustrasie, teleurstelling en verantwoordelikheid is enorm.

Oudergewoonte verloor ek ʼn posisie in die eerste draai… maar van hier af kan ek nou skouer aan die wiel sit en terugbaklei. Ongelukkig het Reuben ander planne gehad. Ek het al gehoor van “die rooi mis” (wanneer ʼn jaer beheer oor sy emosies verloor en ietwat roekeloos bestuur) en dit was beslis met Reuben die geval soos hy gekoes en gekeer het – enige iets om aan tweede plek vas te klou.

Ons eindig toe só:

  • Mark Jones
  • Denis Droppa
  • Setshaba Mashigo
  • Chad Lückhoff
  • Reuben van Niekerk
  • Brendon Staniforth

Ek het darem die tweede vinnigste ronde in wedren een gehad. Ek was nog nooit ʼn groot sportman nie, maar die teleurstelling speel met jou kop. Ons werktuigkundiges stap om die karre en kyk met groot oë na die skade. Dit is toe dat Riaan Esterhuysen, nuwe senior bestuurder vir kommunikasie by Toyota, intree en ons behoorlik uittrap. Dis eenvoudig. Indien jy kom stampkarretjies ry, kan jy maar huis toe gaan.

Die tweede wedren begin ons in die volgorde waarin ons geëindig het, behalwe Reuben wat as straf agter sou begin. Weereens verloor ek vyfde posisie in die tweede draai en probeer toe alles vir die volgende sewe rondes om by Reuben verby te kom – maar sy vernuf was van só ʼn aard dat ek nêrens ʼn gaping kon kry nie. Die tweede resies was lekker skoon en regverdig – al is dit ʼn bietjie verveliger op die kassie, is die risiko vir skade en lewe dit werd.

Die tweede resies het só geëindig:

  • Mark Jones
  • Setshaba Mashigo
  • Denis Droppa
  • Chad Lückhoff
  • Reuben van Niekerk
  • Brendon Staniforth

Só staan die kampioenskap vir die jaar sover:

Mark Jones                        21 punte

Setshaba Mashego          19 punte

Chad Lückhoff                   10 punte

Brendon Staniforth          9 punte

Denis Droppa                    9 punte

Reuben van Niekerk        6 punte

Ons volgende wedren is op 20 Mei by Zwartkops.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.