Motornuus: Outomatiese ratkas vir ikoniese Suzuki Jimny

Jimny van Suzuki Foto: Suzuki

Jimny van Suzuki Foto: Suzuki

Suzuki Auto Suid-Afrika het die ikoniese Jimny-veldryvoertuig opgeknap. Die jongste weergawe bied ’n rits verbeteringe binne en buite, terwyl die toerustingvlak terselfdertyd opgegradeer is. Boonop is ’n outomatiese ratkas nou vir die eerste keer as alternatief vir die handratkas beskikbaar.

Die mees ooglopende verandering is die allooiwiele van 15 duim, wat met ’n nuwe donkersilwer afwerking spog. Die palet van beskikbare kleure is ook aangepas, en bied twee nuwe kleure: Bison-bruin, en Khaki Pearl-metaalverf.

Die binneruim is ook opgeknap, met veral die splinternuwe instrumentestel wat aandag trek. Twee groot, ronde wyserinstrumente vir snelheid en toeretal is aan weerskante van ’n derde meerdoelinstrument geplaas, wat ’n magdom digitale inligting weergee.

Daaronder tel grafieke vir brandstofvlak en enjintemperatuur, ʼn syferhorlosie, buitetemperatuur-lesing, rat- en laestrekstatus, brandstofverbruik-inligting, en ’n ritmeter.

Die Jimny se sitplekke spog met nuwe doekstofoortreksels wat groter duursaamheid en gerief bied. ’n Nuut ontwerpte stuurwiel is ook deel van die opknappakket.

Die opsie van ’n outomatiese viergangratkas behoort veral byval te vind by eienaars wat die gerief van koppelaarvrye motorry verkies, veral in stadsverkeer, terwyl die ratkas dit nóg makliker maak om die Jimny se legendariese 4×4-vermoë te ervaar.

Jimny van Suzuki Foto: Suzuki

Jimny van Suzuki Foto: Suzuki

Nes die handratmodel word die outomatiese weergawe met ’n laestrek-ratkas toegerus, wat sorg dat die Jimny selfs in die rofste en moeilikste toestande so te sê onstuitbaar bly.

Die jongste Jimny word steeds aangedryf deur ’n lewendige en ekonomiese viersilinder-petrolenjin van 1 328 cc. Makismumkraglewering is 63 kW teen 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 110 Nm teen 4 100 r/min.

Die volledig toegeruste binneruim sluit onder meer sentrale sluiting, ’n klankstelsel met CD-speler en instemmer, elektries-beheerde ruite en lugversorging in. Wat veiligheid betref, bied die Jimny dubbele lugsakke voor, nekstutte, rukstop-sitplekgordels, en ABS-sluitweerremme.

Albei Jimny-weergawes word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km gedek, tesame met ’n diensplan van vier jaar/60 000 km.

(Ek kan onthou dat ek die outomatiese Jimny – bekend as die Jimny Sierra – die eerste keer in 2009 by die Sydney-motorskou te siene gekry het. Toe was die prys ʼn heel billike R152 000. Intussen het die prys dramaties aangeskuif na R234 900 vir die outomatiese model, en is dit beslis nie meer ʼn winskopie nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.