Motorverkope in Maartmaand

Argieffoto

Argieffoto

Die verkopesyfers vir nuwe voertuie in Maart vanjaar was feitlik onveranderd teenoor die syfers vir Maart 2014. Altesaam 55 449 nuwe voertuie is van die hand gesit teenoor 55 440 in Maart 2014. Hiervan was 35 548 passasiersmotors – ʼn daling van 1 096 eenhede, oftewel 3%.

Ligte handelsvoertuie, daarenteen, soos bakkies en minibusse, het ʼn goeie styging getoon met 16 808 verkope – ʼn verbetering van 5.5% wat gelykstaande is aan 875 meer as verlede jaar.

Nog goeie nuus is dat die dramatiese styging in uitvoersyfers ʼn gunstige uitwerking op die land se betalingsbalans het deurdat totale uitvoere van 34 147 voertuie ʼn verbetering verteenwoordig van 38.5% teenoor Maart verlede jaar.

In die gebruiklike Top Tien-afdeling was dit weer eens Toyota wat bo-aan geëindig het met 11 047 nuwe voertuie wat verkoop is. Dit is 900 eenhede meer as in Februarie vanjaar. Hierdie prestasie is veral moontlik gemaak deur Hilux wat met 3 625 verkope nie net die top-bakkie was nie, maar ook die algehele topverkoper. Selfs die redelike duur Landcruiser PU het 419 nuwe eienaars se harte verbly. In sy passasiersvoertuigafdeling het Toyota ook goed gevaar danksy Corolla/Quest/Auris (1 847), en Etios (1 560). Selfs die mini-stryd tussen Toyota se RAV en die Ford Kuga is gewen deur Toyota.

Volkswagen beklee steeds sy gebruiklike tweede plek met totale verkope van 8 361 – ʼn geringe daling van slegs 6 eenhede. Onder Volkswagen se presteerders het veral die Polo Vivo uitgeblink met 2 837 verkope, en daarmee saam die titel as topverkoper passasiersmotor. Ander uitblinkers vir die manne van Uitenhage was Polo (1 903), Golf 7 op 527, die Audi A3 op 422, asook die A4 op 398.

Ford, met Pretoria as sy tuisstad, beklee gemaklik die derde plek danksy skittervertonings deur Ranger (3 107), EcoSport (1 036) en Figo op 929. Wees ook op die uitkyk vir dramatiese verkopestygings op die pas bekendgestelde Ford Focus. Ford se totale verkope van 6 889 eenhede was 331 beter as in Februarie.

In die gebruiklike 4e plek, en steeds sonder om besonderhede aangaande individuele modelverkope deur te gee, is die AMH-groep op 5 384 verkope – 465 minder as in Februarie.

GM/Isuzu Trucks doen steeds redelik met totale verkope van 5 103 eenhede – 331 eenhede beter as in Februarie. Vir GM het veral die Isuzu KB uitstekend gevaar met 1 672 verkope –aansienlik beter as Februarie se syfers van 1 212. Die Chev Utility kleinbakkie het self nie te sleg gevaar nie, maar sy 1 584 verkope was ietwat minder as Nissan se 1 956 op die NP200. Wat GM se passasiersmotors betref is die Opel-naam besig om sterk terug te keer met altesaam 489 verkope onder vier modelname, te wete Corsa, Mokka, Astra en Adam.

Teen hierdie tyd lyk dit of Nissan die 6e plek as sy eiendom geregistreer het met totale verkope van 4 784 eenhede wat 868 meer is as in Februarie. Onder die Nissan-presteerders was dit veral die Almera (249), X-Trail (319),en Qashqai (284). Nissan se bekende NP300 Hardbody het self ook redelik gevaar met 693 verkope, maar dis opmerklik dat Nissan se luukse handelsmerk – Infiniti – met 97 verkope, beter gevaar het as die meer gevestigde Lexus (90) uit die Toyota-stal.

Soos dit nou al die afgelope aantal maande gebruiklik geword het, het BMW weer die stryd teen Mercedes-Benz gewen met totale verkope van 2 416 eenhede teenoor Mercedes se 2 151. BMW se presteerders was onder meer 3-Reeks (901), 1-Reeks (271), en 4-Reeks op 239. Hierbenewens was BMW se verkope 183 eenhede as in Februarie, terwyl Mercedes-Benz s’n met 34 eenhede gedaal het.

Van Mercedes gepraat; hierdie groep het nou ook AMH se slegte gewoontes aangeleer en verskaf nie inligting oor individuele modelverkope nie.

Steeds in die 9e plek vaar Honda heel goed met 1 195 totale verkope – ʼn daling van 70 verkope teenoor Februarie. Honda se topverkopers bly steeds Brio (325), Jazz (338) en CR-V op 205 eenhede.

Steeds in die laaste plek onder die Top Tien, maar steeds bokant die duisend eenhede-merk, staan Renault redelik sterk met totale verkope van 1 195 eenhede – 43 beter as in Februarie. Renault se uitblinkers is steeds Duster (430), Sandero II (398) en Clio IV op 326.

Onder die vervaardigers/invoerders wat buite die Top Tien val het Mazda heel goed gevaar met 693 eenhede verkoop – hoofsaaklik danksy Mazda3 (209), BT-50 (164) en Mazda2 (156).

Ander goeie vertonings is gelewer deur Chrysler (673) en Jaguar/Land Rover. Chrysler maak veral staat op Compass (193) en Grand Cherokee (190), terwyl JLR gedra word deur Discovery 4 (172), Range Rover Evoque (143) en Range Rover Sport (135). Dit is egter opmerklik dat Jaguar passasiersmotors (alle modelle) slegs 81 verkope kon aanteken – aansienlik swakker as Infiniti en Lexus.

Een van die mees onderskatte name, Mitsubishi, het redelik gevaar met 363 verkope – waaronder 103 deur die ASX, en 58 verkope op die Pajero, slegs een minder as die PajeroSport.

Porsche, die driemalige wenner van die gesogte SA Motor van die Jaar-titel, vaar uitstekend met totale verkope van 134 eenhede – waaronder 30 (Macan), 58 op die Cayenne en 22 op die gesogte 911.

Ander vervaardigers wie se produkte van hoogstande gehalte is en wat dus heelwat beter behoort te doen, sluit in Volvo (239) en Subaru (112).

Intussen is daar die gevoel in Naamsa (Nasionale Motorvervaardigersvereniging) dat hierdie geringe groei in voertuigverkope sal voortduur – mits daar stabiliteit in die arbeidsmark is, rentekoers redelik laag bly en kredietgraderings nie ʼn negatiewe rol speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Wie is die “AMH-groep”?

Verwys dit na die CMH-groep? Consolidated Motor Holdings?
In daardie geval moet die naam nie vertaal word nie. Nes mens nie Pick n Pay vertaal na “Kies en Betaal” nie en nie “Roman’s Pizza” vertaal na “Romein se Pizza” nie.

Carel ·

Moes dit ook maar eers Google. Dit is die Associated Motor Holdings, Hyundai en Kia.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.