Motorverkope spring teen ʼn stink spoed weg in 2022

Argieffoto (Foto: Admiral_Lebioda/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse motorbedryf het die jaar op ʼn hoë noot begin met ʼn 19,5%-toename in verkope in Januarie teenoor dieselfde maand verlede jaar.

Altesaam 41 382 voertuie is verkoop te danke aan die momentum wat in die tweede helfte van 2021 opgebou is en ondanks die brandstofprys wat die hoogte inskiet en verhogings in rentekoerse.

Toyota het 12 480 voertuie verkoop, terwyl hulle nóg 5 516 eenhede uitgevoer het. Dit is algeheel amper 18 000 voertuie.

Volkswagen staan sterk in die tweede plek met 5 393 plaaslike verkope en 4 174 uitvoere. Suzuki is ʼn groot verrassing in derde plek met ʼn rekordgetal vir dié handelsmerk. Suzuki het ʼn puik 3 232 eenhede verkoop. Hyundai, Haval, Renault en Nissan is volgende – almal met tussen 2 000 en 3 000 verkope.

Ongelukkig bloei Ford tans weens die wêreldwye halfgeleiermikroskyfiekrisis. Kia en Isuzu rond die toptien af, met 1 433 en 1 010 eenhede onderskeidelik, en Mahindra is die laaste vervaardiger met meer as 1 000 eenhede teen 1 010.

Die vervaardigers wat die minste vir die maand verkoop het, is Bentley (3), Lamborghini (4) en Ferrari (9).

Passasiersvoertuie se verkope het jaar tot jaar met 26,6% gegroei, terwyl ligte handelsvoertuie (ligter as 3 500 kg) groei van 3,8% getoon het.

Die verkope van mediumhandelsvoertuie (tussen 3 501 kg en 8 500 kg) het met 4,3% gekrimp teenoor 2021, terwyl dié van swaarhandelsvoertuie (tussen 8 501 kg en 16 500 kg) ʼn allemintige 51,5% jaar tot jaar gegroei en ekstraswaarvoertuie (bó 16 500 kg) met 6,5% toegeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre ·

Toyota se verkope sluit 3000plus eenhede in wat deur Suzuki vervaardig word . Ek hoop net die Swift en Jimny bly Suzuki’s

andre ·

6000 plus eenhede uit die Suzuki fabriek is verlede maand verkoop . Of tel ek verkeerd ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.