Motul, Honda span weer saam om vroue op motorfietse te kry

(Foto: Brian Cheyne)

Aan die einde van Augustus 2020 het die vrouerenjaer Paige Lindenber, die #IconicWoman-veldtog van stapel gestuur. As deel van hierdie veldtog het sy, in samewerking met Mercia Jansen van Motul, ’n paar vroue die geleentheid gebied om te leer motorfiets ry. Sedertdien is hulle oorval met navrae van mans en vroue wat belangstel om weer so ʼn geleentheid by te woon.

Lindenberg was bly om te sien dat hierdie inisiatief nou gegroei het tot sy eie onafhanklike geleentheid waar meer vroue nuwe vaardighede kan aanleer.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit was wonderlik om te sien dat 24 vroue opgedaag het vir die tweede aanbieding van die Ladies Learn to Ride a Motorcycle-geleentheid. Die dag is weer aangebied by die ADA-fasiliteit in Hartbeespoort. Hulle het onlangs ’n nuwe gebou ingewy met ’n groot saal en ruim stoep. Die gebou is pasgemaak vir hierdie tipe geleenthede en het die hele dag net beter laat verloop.

Die koste van so ʼn kursus sluit opleiding en middagete in. Indien jy nie oor ’n motorfiets beskik nie, kan jy een huur vir die dag. Honda Suid-Afrika het die tarief gesubsidieer wat die dag meer bekostigbaar gemaak het vir al die deelnemers.

Ek het met een van die vroue gesels en sy sê dat mans op die harde manier leer. Hulle jaag in bome vas en val in slote voordat hulle motorfietsry bemeester. Sy wou nie daardie pad volg nie, maar eerder ordentlike opleiding kry. ’n Ander vrou het weer gesê haar man het nie baie geduld nie. So het elke vrou haar eie rede gehad vir die bywoning van die kursus.

(Foto: Kevin Sanders)

Mercia Jansen is Motul se areabestuurder van Suid- en Oos-Afrika en self ’n kranige motorfietsryer. Sy vertel dat baie vroue wat sy ontmoet nog altyd self wou motorfiets ry. Hulle het egter nie die selfvertroue nie of hulle weet nie waar om te begin nie. Die Ladies Learn to Ride a Motorcycle-geleentheid is natuurlik die beste plek om te begin. Boonop is daar vroue-instrukteurs ook wat baie help vir die selfvertroue.

Op dié dag is elke vrou volgens haar vermoë na verskillende plekke op die terrein gestuur. Die oorgrote meerderheid was egter vroue wat nog nooit gery het nie. Ander het al gery maar kort selfvertroue en ander was hier om meer vaardighede te leer. ADA beskik ook oor ’n volledige K53-baan as jy wil oefen vir jou lisensie.

Aan die einde van die dag was elke vrou op ’n beter plek wat hulle vaardighede betref. Sommige vroue het reeds ’n motorfiets aangeskaf en was nou toegerus om self te gaan ry. Die glimlagte het alles vertel!

Die aanvraag is steeds groot, so hierdie gaan beslis ’n gereelde instelling word. Hou dus maar Motul se Facebook-blad dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kerneels ·

Lyk of hulle die dag vreeslik geniet het! Almal pak tandjies uit…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.