Motul se Tour of Legends-reeks klink besonders

Die KTM 950- en 990-avontuurfiets is van KTM se ikoniese ontwerpe. Selfs al weet jy nie baie van motorfietse nie, is die ontwerp van hierdie fietse onmiskenbaar KTM. Die 950 is tussen 2003 en 2006 vervaardig en is opgevolg deur die 990. Tien jaar het nou al verloop sedert KTM die produksie van die 990 beëindig het, maar hierdie fietse bly gewild onder ware avontuurryers.

As jy een van hierdie fietse besit, dan nooi Motul jou om van 18 tot 21 Maart deel te wees van die Motul Tour of Legends-reeks. Kom vier hierdie legende en kom deel jou passie vir avontuurry. Hierdie reeks beoog om aanhangers van die KTM 950 en 990 die ideale verskoning te gee om hul fietse en eie vermoëns te beproef. Die reeks word aangebied op die beste grondpaaie in ons land. Presies waarvoor hierdie fietse gebou is!

Daar sal Vrydag 18 Maart vier vertrekpunte regoor die land wees, naamlik Hillcrest in KwaZulu-Natal, Nelspruit in Mpumalanga, Modderfontein in Gauteng en Bloemfontein in die Vrystaat. Van daar ry almal na ’n sentrale punt – die Battlefields Country Lodge en Sports Resort naby Dundee in KwaZulu-Natal. Die amptelike avontuurrit sal dan hier begin.

Die toer sal jou die kans gee om distrikspaaie te geniet in die hartjie van KwaZulu-Natal, met die “Ou Treinlynpad” oor die legendariese Van Reenenspas as ʼn besondere hoogtepunt.

So ʼn naweek sal natuurlik nie volledig wees sonder kompetisies en uitdagings nie. Daar word ook spesiale pryse uitgeloof vir die oudste fiets, die fiets met die meeste kilometer, die fiets wat die verste gekom het en die mees oorspronklike KTM 950 of 990. Persoonlik dink ek dat die stories ná ’n dag se ry baie interessant kan wees, soos almal hulle ervarings deel en oor hulle fietse praat.

Verblyf vir vier dae, drie nagte, etes en volledige GPS-roetes is ingesluit by jou inskrywingsgeld. Daar is ook ’n ondersteuningsvoertuig wat elke groep ryers sal vergesel.

“Dit is ʼn geleentheid vir ware KTM 950- en 990-fanatici. As jy mal is oor die onmiskenbare klank van die V-twee, KTM LC 8-enjin, kan jy jouself net voorstel hoe dosyne van hulle saam gaan klink!” sê Treffon Smith, organiseerder van die geleentheid.

Mercia Jansen, areabestuurder van Motul Suid- en Oos-Afrika, sê sy is trots om hierdie geleentheid te ondersteun. Volgens haar is die feit dat daar nog soveel van hierdie fietse steeds in gebruik is, ’n bewys van hulle betroubaarheid en die belangrikheid van die regte onderhoud en sorg.

Daar is nog ‘n handjievol plekke oor, so besoek gerus die webtuiste as jy die Motul Tour Of Legends-reeks wil bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.