ʼn Bekostigbare bus

Daar is geen voertuig wat só perfek vir ʼn groot gesin werk soos ʼn bus nie. Die skuifdeure verhoed dat die kinders hulle verbeel dat hulle paneelkloppers is en oefen op die ander voertuie in ʼn parkeerterrein. Daar is gewoonlik in die omgewing van agt sitplekke en ʼn billike bagasieruim.

In die jare toet was busse verskriklik stadig. Daarna was hulle sterker, maar baie dors. My pa se 2.5i Microbus het in die omgewing van 7 km/ℓ gegee – maar hy het hom verbeel dat hy Nigel Mansel is. Die nuwer busse trek laat dit klap, én is lig op brandstof. Is daar iets om nié van te hou nie?

Ja… ongelukkig is busse bitter duur om te koop. Behalwe dié een. Die Mercedes-Benz Vito 116 CDI Tourer Pro kos R911 432 nuut. Dié een is egter een jaar oud en kom van die Motus-groep. Dit is waarskynlik ʼn ou huurmotor en is beskikbaar teen ʼn R400 000 besparing.

Die tweedehandse swaard sny wel na albei kante. ʼn Huurmotor word streng in stand gehou. ʼn Mens kan argumenteer dat die vinnigste 4 x 4 op aarde ʼn Toyota Corolla van Avis is – maar alle grappies op ʼn stokkie. Waar huurmotors hard werk, is dit nie altyd waar van ʼn bus nie – want mens het gewoonlik jou gesin in die voertuig – en is dan gewoonlik meer versigtig.

Ek het ʼn splinternuwe Mercedes-Benz 111 CDI Tourer ʼn tydjie gelede onder hande gehad. Dit was ʼn voorwielaangedrewe 1.6 diesel met ʼn handrat. Oukei, as hy eers aan die gang is – maar ek sal sê dat die 2.2 diesel met ʼn outomatiese ratkas stukke beter is!

Daar is egter een kwaal met die gebruikte motor. Hy het twee agterdeure. Een aan elke kant. Dié bus kreun en steun en kraak nou as mens by die oprit uitry, of skuins oor ʼn hobbel ry. Vir my persoonlik sal dit mal maak – maar ek dink dit is die natuurlike buigsaamheid van die bakwerk, en dan die plastiekpanele wat teen mekaar vryf.

Ek het onlangs ʼn artikel gesê dat ek altyd die beste nuwe voertuig sal aanbeveel wat ʼn mens kan bekostig – maar in ʼn bus se geval is dit eenvoudig nie altyd moontlik nie. Busse is skrikwekkend duur.

Indien jy in die mark is vir ʼn bus – kyk gerus hier wat het Motus in terme van tweedehandse busse te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.