Kan jy die TV-program Beyond 2000 onthou? Ek was ʼn laaitie gewees en het altyd met groot bewondering gekyk na alles wat elektries, skoon en stil gaan wees. Die ontwerpe was vir my ʼn bietjie verregaande, soos die plastiek oorbelle van die tagtigerjare – maar hier is ons nou al in 2020, en dit is toe nie so stil, skoon en elektries nie.
Hier en daar is vervaardigers wat al ver gevorder is met hul elektriese en hibridiese produkte, maar party is ver agter – en die trant waarteen die ontwikkeling gebeur, is maar stadig. Dit is onder andere weens lande soos Suid-Afrika, waar ons tog baie spasie het – afstande tussen groot stede is enorm, ons krag word deur fossiel-brandstof opgewek. Is daar dus enige voordeel vir die omgewing vir ons om elektriese voertuie te ry?
Ek het nou al met verskeie elektriese voertuie gery, en ek kan met ʼn skoon gewete sê dat die tegnologie fantasties werk, en daar is verskeie voordele – nie net vir die omgewing nie.
Kom ons vat die BMW i3S byvoorbeeld. Die voertuig se deurkaarte en paneelbord is van herwinde plastiek gemaak. Ek neem aan dit is ʼn duurder proses as om skoon, nuwe plastiek te gebruik, maar daar dryf ongeveer 80 000 ton plastiek oor 1,6 miljoen vierkante kilometer in die Stille Oseaan. Hulle noem dit die Great Pacific Garbage Patch. Al hoe ons dit gaan skoon kry, is happie vir happie, een paneelbord, een deurkaart en een buffer op ʼn slag.
Die ontwerp van die i3 is na my mening puik. Dis iets unieks. Die agterdeure wat soos ʼn Rolls Royce s’n agtertoe oopmaak, is eers vreemd, maar dan kom ʼn mens agter dit maak toegang baie makliker as met gewone deure. ʼn Ander ding wat vreeslik opvallend is, is die plat vloer. Die kajuit voel uitermatig ruim en oop.
Dit bly ʼn BMW, so die ontwerp is netjies en die bougehalte is puik. Die klankstelsel is fantasties en die inligtingstelsel bied ʼn magdom inligting oor hoeveel reikafstand daar nog oor is, en wys vir jou laaistasies op jou roete uit.
Ons het spesifiek die i3S op toets gehad. Dié i3 was ʼn bietjie in die gim en pronk met 10 kW en 20 Nm meer. Dit klink dalk min, maar elektriese Nm is beskikbaar van 0 r/min af. So as ʼn mens die versneller in die mat begrawe, skiet die i3S soos ʼn pyl uit ʼn boog. Hy snol van 0 – 100 km/h in 6,9 sekondes en sal aanhou tot ʼn elektronies beperkte 160 km/h. Onthou, 6,9 sekondes is blitsig in enige taal – elektries, petrol of diesel.
Die BMW i3S het ʼn beter battery bygekry en spog nou met ʼn 120 Ah‑ of 42,2 kWh-battery. Gedurende die toets het ek 18,2 kWh/100 km gehandhaaf. Dit beteken dat ek persoonlik op my daaglikse roetine 231 km sal kan ry sonder om te herlaai, maar dan is die tjor heeltemal pap. Snelweg ry teen 120 km/h is nie ʼn elektriese voertuig se natuurlike habitat nie; dorpsverkeer is waar hulle regtig uitblink.
Op die pad voel die i3S nes ʼn BMW, net baie, baie stiller. ʼn Mens is aanvanklik ʼn bietjie skepties oor die brandmaer voorwieletjies, maar jy eers die pad vat, kom jy agter alles is soos dit hoort. Elektriese voertuie is nie die perfekte oplossing vir elke individu nie, maar ek is gek daaroor.
Die motors is duisende keer minder ingewikkeld as ʼn binnebrandenjin, en dit herwin krag deur die remme soos mens ry en stop. Soos die batterye beter raak, groei die reikafstande. My vrou wat naby die huis werk, en kinders by die skool oplaai, sal byvoorbeeld 18 dae kan ry sonder om die kar te laai… en wanneer sy doen, kos die kar haar omtrent R90 om te laai, om die 231 km te ry… dit is spotgoedkoop in enige taal.
Die reeks lyk só:
BMW i3 eDrive | 125 kW/250 Nm | 120 Ah | R721 700 |
BMW i3S eDrive | 135 kW/270 Nm | 120 Ah | R785 300 |
BMW i3 eDrive REx | 125 kW/250 Nm | 120 Ah + kragopwekker | R811 000 |
BMW i3S eDrive REx | 135 kW/270 Nm | 120 Ah +kragopwekker | R874 600 |
Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte afstand- en 8 jaar/100 000 km-batterywaarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.
Die i3 REx-modelle het ʼn klein petrol-aangedrewe kragopwekker aan boord met ʼn 9 ℓ-brandstoftenk; so tegnies gesproke het die REx nie ʼn beperkte reikafstand nie, solank jy aanhou brandstof ingooi.
Elektriese voertuie wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is:
Jaguar i-PACE EV400 AWD S | Porsche Taycan 4S | |
Motor | 294 kW/696 Nm | 320 KW/640 NM |
Battery | 90 kWh | 79,2 kWh |
Reikafstand | 470 km (WLTP) | 463 km (WLTP) |
0-100 km/h | 4,8 sek | 4 sek |
Topspoed | 200 km/h | 250 km/h |
Waarborg en diensplan | 5 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg 8 jaar/160 000 km-batterywaarborg 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | 3 jaar omvattende instandhoudingsplan 8 jaar-batterywaarborg |
Prys | R1 717 300 | R2 586 000 |
Daar is ʼn hele paar elektriese voertuie wat beskikbaar en eintlik reeds in Suid-Afrika moes gewees het, maar Covid-19 en die skrikwekkende wisselkoers het ʼn stok in die wiel gesteek. Audi se e-Tron en Mercedes-Benz se EQC hoort ook binnekort hier te wees. Volkswagen het ʼn paar produkte wat baie meer bekostigbaar is wat hier is om toetse te voltooi soos hul ID3 en e-Golf. Ongelukkig gee ons regering nie korting op elektriese voertuie soos die meeste Europese lande nie, en omdat die voertuie duur is, word hulle swaarder belas met die ad velorem-belasting.