’n Gebruikte motor? Trap rem vir nuwe skelmstreek 

(Foto: Pixabay)

Verbruikers wat in die mark is vir ’n tweedehandse motor moet ligloop, want daar is ’n nuwe skelmstreek waar jy, sonder dat jy weet, al jou regte volgens die Wet op Verbruikersbeskerming prysgee. As jy ’n motor koop as “scrap”, terwyl dit nog in ’n rybare toestand is, het jy geen regte as dit later probleme gee nie. Ina Opperman verduidelik hoe die skelmstreek werk en hoe jy dit kan vermy.

Die Ombudsman vir die Motorbedryf (Miosa) het verbruikers onlangs gewaarsku oor die nuwe neiging onder sommige gebruiktemotorhandelaars wat verbruikers laat teken dat hulle “scrap” koop wanneer hulle ’n gebruikte motor koop wat nie van die pad gehaal is nie.

Jou waarborg volgens die Wet op Verbruikersbeskerming

Volgens artikel 56, gelees saam met artikel 55, het alle goedere wat aan verbruikers verkoop word, ’n versweë waarborg van gehalte vir ses maande nadat jy dit gekoop het. ’n Handelaar kan nie daaruit kontrakteer of dit herroep nie. Hierdie waarborg gee verbruikers die reg tot goedere wat:

  • redelik geskik is vir die doel waarvoor dit gebruik gaan word: ’n motor word gekoop om mee te ry en moet dus kan ry;
  • van goeie gehalte is, sonder foute en in ’n goeie werkende toestand – afgesien van die feit dat dit ’n gebruikte motor is, moet die motor in ’n goeie toestand wees, sonder foute en in ’n rybare toestand; en
  • duursaam en bruikbaar sal wees vir ’n redelike tydperk – die motor moet dus nie binne ’n week of twee al breek nie.

Indien die motor nie aan hierdie voorwaardes voldoen nie, kan jy, binne ses maande nadat jy dit gekoop het, die motor:

  • terugneem en jou geld terugkry;
  • laat vervang; of
  • laat herstel.

Jy kan enige van hierdie opsies kies sonder enige boete of heffing en op die handelaar se onkoste.

“Ten opsigte van hierdie waarborg, is handelaars verplig om die motor te herstel, vervang of terug te neem en jou geld terug te gee indien dit nie redelik geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie, soos om daarmee te ry en dit veilig te doen,” sê Johan van Vreden, die ombudsman.

Hy raai verbruikers dan ook aan om so gou as moontlik enige probleme met ’n gebruikte motor onder die handelaar se aandag te bring, al bepaal die Wet dat die waarborg vir ses maande geldig is, aangesien hulle ’n beter kans sal hê om suksesvol te eis dat hul regte nagekom word ingevolge die wet.

‘Voetstoots’

Voordat die Wet in 2011 in werking getree het, is die koop van ’n tweedehandse motor hanteer volgens die gemene reg, wat ’n voetstootskousule toegelaat het. Hierdie klousule het egter nie die handelaar verantwoordelik gehou vir die swak gehalte van gebruikte motors wat hy verkoop nie, tensy die handelaar die foute vooraf uitgewys het en die verbruiker dit so aanvaar het.

Noudat hierdie transaksies egter onderworpe is aan die Wet, kan handelaars nie meer steun op die voetstootskousule nie.

Waarom motors verkoop as ‘scrap’?

Aangesien verbruikers nou beskerm word deur die ses maande-waarborg wanneer hulle gebruikte motors koop, moes gewetenlose handelaars ander maniere vind om hul aanspreeklikheid te ontduik en meer geld in hul sak te steek. Daarom verkoop hulle die gebruikte motor aan jou as “scrap”, want dan hoef hulle nie te voldoen aan die waarborg wat die Wet daarstel nie, sê Van Vreden.

“Dit maak nie saak wat die kontrak en die voorwaardes sê nie. Wanneer ’n verbruiker na ’n handelaar toe gaan om ’n motor te koop, kan die handelaar nie voorgee dat die verbruiker ‘scrap’ gekoop het nie.

“Verbruikers kan ook seker wees dat die howe en tribunale nie geflous sal word om te glo dat hulle ‘scrap’ gekoop het wanneer hulle registrasiedokumente vir die motor ontvang het en die handelaar geregistreer is as ’n handelaar in gebruikte motors en nie ‘scrap’ nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Flemming ·

Word dieselfde hoe vereistes gestel wanneer dit ‘n 60 jarige (en ouer) veteraan motor is ?

Mauritz ·

Ek sal graag ‘n lys van name wil sien van handelaars wat met hierdie slenter vorendag kom.

Theo ·

Mahindra Boksburg Eastrand. Hulle se vir jou dit is omdat jy nie hulle extended warranty vat.

koos ·

Pasop vir sekere motorverhurings maatkappye wat hulle voorraad verkoop. Ek het voor die wet so stel met die “blou” een in North Rand Road afgetrap – deurdagte skelms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.