ʼn Klein tjor vir ʼn groot gesin…

(Foto: Verskaf)

In ʼn stadium was MPV’s (veelvoudigefunksievoertuie) bitter gewild. Dit was lekker, want van hulle het sewe sitplekke gehad en was heel bekostigbaar. Toe kom die SNV (sportnutsvoertuig) as neiging. Já, sekere SNV’s bied sewe sitplekke, maar die meeste is peperduur.

Mitsubishi het só ʼn SNV, die Pajero Sport. Daar is egter min motors wat voorsiening maak vir diegene met groot gesinne, maar ʼn klein bankbalans. Daarom het Mitsubishi sy Xpander in Suid-Afrika bekendgestel. Dit is ʼn 7-sitplek-busnuts, so halfpad tussen ʼn MPV en ʼn SNV, wat aansienlik goedkoper as die bestaande produkte op die mark is.

Die ontwerp is heel aggressief vir dié segment, maar ek hou daarvan. Die binneruim is gemaklik en doelgerig. Daar is drie rye sitplekke: twee heel voor, drie in die tweede ry, en twee heel agter in die derde ry. Die beenruimte vir die middelste ry is lekker groot, só ook die kop- en skouerruimte. Die derde ry is nie enorm nie, maar dit is altyd die geval – selfs in die grootste SNV’s.

Om dinge gemaklik te hou is daar lugreëling – selfs vir die agterste passasiers waaroor hulle self beheer het. Daar is Apple CarPlay en Android Auto. Niks oortollig, nét wat nodig is. Wat veiligheid betref, is daar twee lugsakke asook sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding.

Die Xpander word aangedryf deur ʼn atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin. Hy bied 77 kW en 141 Nm. Die 1.5 kan 6.9 l/100 km handhaaf, sê Mitsubishi. Op papier lyk die pakket nie asemrowend nie, maar as jy ʼn draai ry, besef jy die waarde van die voertuig. Die 4-spoed- outomatiese ratkas werk piekfyn saam met die enjin, en die 16″-wiele met ʼn 55-profiel en soepel vering bied ʼn aangename rit.

(Foto: Verskaf)

Soos ek rondtoer, die kinders by die skool op- en aflaai en in die kleinste gaatjies pas, maak die Xpander beslis sin. Binne voel hy lieflik ruim, maar die Xpander is baie kleiner as ʼn Pajero Sport – met plek vir dieselfde aantal mense, teen die helfte van die prys. Dit is hoekom die Xpander tans Mitsubishi se naasgewildste verkoper in die plaaslike mark is.

Dus is dit baie maklik om die Xpander op te som. As jy ʼn gesinsbuks soek om die kinders rond te karwei, sonder om die bank te breek, is die Xpander beslis ʼn opsie.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Xpander 1.5R299 995
Mitsubishi Xpander 1.5R319 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3-jaar/100 000 km-waarborg en 1-jaar/15 000 km-diensplan.

(Foto: Verskaf)

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Ertiga 1.5 GLX outo77 kW/138 Nm6.2 l/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R314 400
Toyota Rumion 1.5 TX outo77 kW/138 Nm6.2 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4-dienste- diensplan

R317 200
Honda BR-V 1.5 Elegance outo88 kW/145 Nm6.2 l/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R387 000

Van al die mededingers is Honda die duurste. Die Ertiga en Rumion is presies dieselfde voertuig uit Suzuki se fabriek in Indië. Ek kan nie kies tussen ʼn Xpander, Ertiga of Rumion nie – al drie is heeltemal voldoende. Gaan toetsbestuur almal, een gaan vir jou uitstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.