ʼn Kombi sonder fieterjasies  

Volkswagen se Kombi is al sedert die 1950’s sinoniem met die vervoer van groot gesinne. Ek het grootgeword met ʼn lugverkoelde 2.0 T3 Microbus – dit was ʼn outo, toe kom die 2.1i waterverkoelde T3. Dit was ʼn 4-spoed handrat. Ons lekkerste bus was ook ʼn T3, 2.5i vyfsilinder. Dit was ʼn 5-spoed handrat en het geloop soos ʼn windhond. My punt is eenvoudig… Suid-Afrikaanse gesinne het grootgeword met Volksiebusse!

Die nuwe T6.1 Caravelle is onlangs bekend gestel. Dit is inderdaad ʼn lieflike bus, maar sy prys is noord van ʼn miljoen rand, en dis kwaai – selfs vir welaf gesinne.

Ons was die langnaweek saam met Volkswagen by die bekendstelling van hul nuutste T6.1 Kombi. Hy dra ʼn Transporter-embleempie. Dié bus is werklik alles wat ʼn mens benodig om ʼn gesin van agt te vervoer en daar is geen onnodige tierlantyntjies wat die prys onnodig opjaag nie.

Maak dit die bus enigsins ʼn minder bekwame langpad reisgenoot? Nee – beslis nie. My mening is dat dit die bus nog meer in staat stel om presies dit te doen. Hoekom? Die T6.1 Transporter het voorwielaandrywing en effens minder krag as sy 4Motion-weergawe. Dit maak hom aansienlik ligter op brandstof.

Op die Tuinroete se paaie het die Transporter op sy beste ʼn puik 7,4 l/ 100 km gehaal en toe ons haastig raak het dit tot 9,1 l/ 100 km geklim. Dis puik vir ʼn voertuig wat die aërodinamika van ʼn baksteen het.

Die ontwerp is netjies. Die binneruim verloor die tafeltjie in die middel. Dit is na my mening ʼn goeie ding want die tafel het die gawe om te raas as die pad sleg raak. Hier is eenvoudig twee rye van drie sitplekke agter, ʼn lekker kattebak, meganiese deure wat met die hand oop en toe gemaak word – geen elektroniese foefies hier nie. Voor in die bussie is daar ʼn meganiese lugreëling – nie klimaatbeheer nie. Weereens voel ek dat mens lekker vinnig die perfekte stelling vind – dan is alles in die kol. Die instrumente wys al die inligting wat mens sou benodig, en bietjie meer – soos die bussie se banddruk en dies meer. Die klankstelsel is heel voldoende, en die raakskerm bied Apple CarPlay en Android Auto.

Die 2.0 viersilinderturbodieselenjin bied 110 kW en 340 Nm wringkrag. Die krag word aan die voorwiele gestoot deur ʼn seepgladde sewespoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Volkswagen bly maar die markleier as dit kom by dubbelkoppelaarratkaste. Die bus toer soos ʼn droom.

Op die pad ry die Transporter vir my sagter as die Caravelle… seker te danke aan ʼn effe kleiner wiel met ʼn beter profiel op die band een ligter gewig – aangesien die 4Motion verwyder is. Padhouvermoë is werklik goed vir ʼn bus. ʼn Mens vergeet maklik dat mens in ʼn groot, lomp en hoë ryding sit. Al die nodige veiligheidstelsels soos lugsakke, ABS en dies meer is daar – selfs spoedkontrole om onder die spoedgrens te bly op die langpad.

Die Transporter-reeks is nie nét ʼn bussie nie. Daar is steeds die kommersiële opsies soos ʼn enkel- en dubbelkajuitbakkie, paneelwa en spanbus.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Kombi Trendline 2.0 TDI 81 kW81 kW/ 250 Nm6,9 ℓ / 100 kmR725 900
Volkswagen Kombi Trendline 2.0 TDI 110 kW DSG110 kW/ 340 Nm6,6 ℓ l/ 100 kmR755 300
Volkwagen Kombi Trendline Plus 2.0 BiTDI 146 kW 4Motion DSG146 kW/ 450 Nm8,2 ℓ / 100 kmR907 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan. Daar is egter verskeie verlengingsopsies beskikbaar.

Ons gaan in Junie weer tyd met die Kombi deurbring en karavaan met hom sleep. Ons sal hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.