ʼn Koreaanse bomklapper

Die Hyundai i30 N. (Foto: Verskaf)

In die tagtigerjare was die motorbedryf se resep heel eenvoudig. Wat Sondag op die renbaan as wenner gekroon is, het Maandag in die vertoonlokale soos soetkoek verkoop. As vervaardigers hulle tjorre op mense se radar wou kry, het hulle gaan resies hou.

Ongelukkig het rekenmeesters in die negentigs en tweeduisends die base van al die plase geword, en elke sent word twee en drie keer gedraai. Hyundai het egter in 2014 besluit hulle gaan aan die wêreldtydrenreeks (WRC) deelneem. In 2019 het hulle die vervaardigerstitel opgeraap. Hoekom is dit belangrik?

Dis heel eenvoudig. Dié Hyundai i30 N is te danke aan Hyundai se betrokkenheid by tydrenne. Van die dinge wat Hyundai daar geleer het, het tot in die padvoertuie afgesyfer… en die resultate is indrukwekkend.

Die Hyundai i30 N. (Foto: Verskaf)

Met die eerste oogopslag is die i30 N beslis nie ʼn lelike eendjie nie. Ek hou baie van die ontwerp. Die wiele pas perfek in die wielboë en die proporsies is net reg. Dan klim ʼn mens in vir die ware verbasing. Ons ken nie Hyundai met só ʼn spesifikasievlak óf bougehalte nie. Die i30 N se binneruim voel voorwaar puik aanmekaar gesit.

Daar is ʼn pragtige panoramiese sondak, verhitte sitplekke en stuurwiel, klimaat en spoedbeheer, ʼn raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto om net ʼn paar te noem. Aan die veiligheidkant is daar sewe lugsakke, ABS met EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer.

Dit bring my by nóg ʼn verbasing. Die Hyundai i30 N loop met ʼn 2,0 viersilinder turbopetrolenjin wat 202 kW en 353 Nm bied. Aitsa. 202 kW in ʼn voorwielaangedrewe voertuig? Jip. En dit werk fantasties. Hyundai het ʼn baie spesiale beperkte glip ewenaar voor wat puik werk. Die ewenaar elimineer amper alle stuurtraagheid en trek mens fantasties óm draaie. En die handrat? Ek persoonlik dink ʼn warm buksie soos ʼn i30 N gaan oor die ervaring en bestuurderbetrokkenheid. ʼn Mens soek nie op só voertuig ʼn outomatiese ratkas nie. Die handrat se wisselaksie is glad en akkuraat. Die koppelaar is ook nie uitermatig swaar nie.

Op die pad verbaas die i30 N. Hy is effe hard geveer, maar as ʼn mens in sy gereedskapkis gaan rondkrap waar hy sy padhouvermoë bêre maak jy maar vrede met die harde vering. Op goeie paaie is die rit piekfyn, en op slegte paaie nie onuithoudbaar nie. ʼn Mens moet wel net die spoedmeter dophou anders gaan jy vinnig in die tronk beland.

Dit is maklik om die i30 N op te som. Dit is ʼn puik voertuig, nie net vir Hyundai se eerste probeerslag in dié segment nie – maar tussen sy mededingers ook. Ongelukkig het Covid-19, Jan Taks en die wisselkoerse amok gemaak en die eindresultaat is dat die i30 N bitter duur is. Wat hom wel lekker maak is die eenvoudige feit dat dit nié ʼn Golf GTI is nie.

Die reeks lyk só:

ModelKrag0 – 100 km/hTopspoedBrandstof-verbruikPrys
Hyundai i30 N202 kW/ 353 Nm6.1 sek250 km/h8.5 ℓ/ 100 kmR679 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/ 150 000 km voertuig en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg so wel as ʼn 5 jaar/ 75 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen Golf GTI TCR213 kW/ 380 Nm5.6 sek264 km/h7.5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R669 000
Honda Civic Type R228 kW/ 400 Nm5.8 sek272 km/h8.4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R741 900
Renault Megane RS 300 Trophy221 kW/ 400 Nm5.7 sek260 km/h8.2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R774 900

Tussen dié mededingers dink ek die Hyundai gaan ʼn moeilike tyd hê. Die Volkswagen is ʼn beperkte weergawe en daar kom nét sewe Megane Trophy’s in die land in. Ek het nog nie met die TCR óf die Trophy gery nie, maar die Civic Type R is een van die mees fantastiese karre waarmee ek al ooit gery het. Gelukkig is die mededingers almal baie verskillend. Gaan toetsbestuur almal, een gaan jou hart roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

En moenie van die A35 Merc teen R755000.00 vergeet nie. Teen 225kw is dit ook ‘n mededinger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.