’n Mini vir die hele gesin

Toe ek jonk was, het meeste voertuie nie sitplekgordels agter gehad nie. Indien die agtersitplek ʼn lekker plat bank was kon ʼn mens sommer maklik vier of vyf kinders langs mekaar inpas. As die kindertjies klein genoeg was, het my pa se Mikrobus sommer ʼn 16-sitplekbus geword!

Dinge en tye het egter verander. Ek wil iets oorkom as kinders nie vasgegespe is wanneer hulle in ʼn voertuig is nie. Dan is daar die tweedeurmotor. Ek het drie kinders en kry die piep met ʼn koepee met sy lang deure en geskuif van sitplekke vorentoe en agtertoe om almal in te kry. Ek neem aan dit was Mini se probleem net nadat hulle die handelsmerk uit die dood laat herleef het.

Hulle het egter ʼn goue middeweg gevind. Die Countryman. Eienaars word groot en hul behoeftes verander. Voor kinders is ʼn klein MiniCooper S ʼn fantastiese ding – maar as ʼn mens eers klomp pakkerasies of kinders moet inlaai, dan is hy nie meer voldoende nie.

Die Countryman lyk wel steeds pure Mini. Wanneer ʼn mens die binneruim betree sien jy dit kon net sowel ʼn koepee gewees het, net met vier deure, behoorlike beenruimte agter en ʼn beter kattebak. Die Mini is werklik luuks. Daar is al die veiligheidstelsels wat ʼn mens verwag van ʼn luukse voertuig, soos ses lugsakke, sluitweerremme met remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer… die lot.

ʼn Mens raak vinnig gewoond aan luukshede soos CarPlay en Android Auto, aanpasbare spoedkontrole, klimaatbeheer en dies meer. Die Mini balanseer mooi tussen ʼn praktiese gesinsbuks terwyl hy probeer sportief bly en eer gee aan die Cooper S-naamplaatjie. As ʼn mens hard ry op ʼn lekker pad in Mpumalanga maak dit sin, maar as die teer sleg is in die dorp dan kan die rit té hard word. Die harde rit bied egter puik padhouvermoë.

Dit is met die opsomming wat dinge moeilik raak. Die Mini Countryman Cooper S het eintlik altyd ʼn segment amper net vir homself gehad, en nie ʼn ware direkte mededinger nie. Tog steeds nie, maar ek dink daar is ʼn nuweling wat hom moontlik kan onttroon. Dit is Peugeot se 2008. In terme van ontwerp en luukshede troef die Peugeot die Mini, maar as krag jou finale besluit bepaal, dan is die Cooper S die een. Die Peugeot is wel heelwat goedkoper.

Die reeks lyk só:

Mini Cooper Countryman100 kW/ 220 Nm6,3 ℓ/ 100 kmR591 524
Mini Cooper S Countryman141 kW/ 280 Nm6,7 ℓ/ 100 kmR688 604
Mini John Cooper Works ALL4 Countryman225 kW/ 450 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR886 840

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jeep Renegade 1.4T Limited103 kW/ 230 Nm5,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR459 900
Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110 kW Design110 kW/ 250 Nm6,2 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R489 400
Peugeot 2008 1.2T GT96 kW/ 230 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R489 900
Subaru XV 2.0i-S ES115 kW/ 196 Nm7,3 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan

R509 000
Audi Q2 35TFSI S line110 kW/ 250 Nm6,1 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R581 500
Mercedes-Benz GLA 200 AMG Line120 kW/ 250 Nm6 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R679 040
Volvo XC40 T4 R-Design140 kW/ 300 Nm7,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR716 200
Lexus UX 250h SE135 kW/ 180 Nm4,5 ℓ/ 100 km7 jaar/ 105 000 km voertuigwaarborg

8 jaar/ 195 000 km hibridiese-batterywaarborg

7 jaar/ 105 000 km omvattende instandhoudingsplan

R795 800

Hier is ʼn magdom mededingers in ʼn wye prysklas. Volkswagen se T-Cross en Peugeot 2008 kan nie teen die prys geïgnoreer word nie. Subaru se XV is die mees bekwame voertuig tussen hulle met sy 220 mm grondvryhoogte en simmetriese vierwielaandrywingstelsel. Die Lexus is bitter duur, maar sy hibridiese dryfstelsel is puik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

andre ·

Hierdie pryse laat n medium klas SUV of n Dubbelkajuitbakkie na n goeie koop lyk

SomeOne ·

r890000 vir ‘n “klein” motor, dis nie baie nie, maar vrek baie, soos andre sê, ‘n bakkie sal dan ‘n beter opsie wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.